Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Van infertiliteit tot ouerskap: ‘God het ons die afgelope vier jaar gedra’

Ek en my skoolliefde is vanjaar reeds 13 jaar lank saam. Ons het in Maart 2020 besluit om te trou, en is toe op ’n Saterdag getroud. Daardie Maandag is die Covid 19-inperking ingestel.

Ons het besluit om met ’n gesin te begin. Maand ná maand het die swangerskaptoetse negatief teruggekeer. In 2021 het ons byna ses maande lank vrugbaarheidsbehandeling ondergaan. Maar ek is met polisistiese ovariumsindroom (PCOS) gediagnoseer, wat beteken dat ek nie elke maand ovuleer nie. In my geval is daar soms vier of vyf onvolwasse eiertjies geproduseer, en in sommige maande niks. Uiteindelik het ons inseminasie probeer, maar ook dit was onsuksesvol.

Ek was kwaad vir God. Ek het soos ’n stout kind gerebelleer. Dit het vir my gevoel dat Hy my nie as belangrik genoeg ag om my gebede te verhoor nie.

Ek het nie kans gesien vir nóg ’n mislukking en nóg finansiële spanning nie. En in 2022 het ons moed opgegee. Soms het ek gewonder of ek nie my nuttelose liggaam moet seermaak nie …

LEES OOK: ‘God het die beker van infertiliteit by ons laat verbygaan’

Uiteindelik was dit dié drang wat my laat besef het hoe ver ek reeds in die depressie-gat geval het.

Dalk het God ’n ander plan gehad …

Toe het ek weer met God begin praat. Soms het dit vir my gevoel dat ek onderhandel; soms dat ek steeds met Hom baklei. Stadigaan het ek tot rus gekom. Ek moes myself vergewe omdat ek in God getwyfel het.

Ek het van werkplek verander, met die oog op ’n nuwe begin. En ek het vrede gemaak met my lewe soos wat dit was.

In Maart 2023 het my man vir my gesê dat hy genoeg geld bymekaargeskraap het sodat ons een ronde in vitro-bevrugting (IVF) by die Steve Biko-hospitaal kon probeer.

Jy kan nie daar ’n afspraak maak nie; slegs die eerste klompie pasiënte in ’n bepaalde siklus word oor die weg gehelp. Soms moes ons soggens vyfuur in Pretoria wees om by die ry in te val.

’n Klompie van die inspuitings en meer wat Cherise altyd sal herinner aan hoe ’n groot wonderwerk hulle dogtertjie is. Foto verskaf

Toe Dag Een van my siklus aanbreek, was ek só opgewonde – maar ons was te laat; die hospitaal se siklus was reeds vol.

My man het aanhou spaar, en ons het besef ons kan dalk by ’n privaat praktyk geholpe raak. Met ons eerste afspraak by ’n kliniek in Pretoriais ek met adenomiose gediagnoseer. Dis ’n toestand wat soortgelyk aan endometriose is, en waar die baarmoedervlies in die spierweefsel ingroei. Dit kan nie deur ’n operasie verwyder word nie.

Die enigste uitweg was ’n histerektomie, dit wil sê om die baarmoeder te verwyder. Boonop moes ek, wat kort van postuur is en 63 kg weeg, sewe kg verloor voordat die spesialis ons kon help.

Daardie nag kon ek nie slaap nie. Dit het gevoel asof ek teen ’n muur gestuit het. Asof dit ’n bevestiging was dat ek nooit kinders sal hê nie.

Maar ek het besluit om deur te druk. Dalk het God ’n ander plan gehad …

Ons almal het gebid

Ek sou alles in my vermoë doen om hierdie een kans te benut. As dit nie werk nie, sou ek vrede maak. Ek het die sogenaamde 28 dae-dieet streng gevolg, en die oortollige gewig is in vier weke afgeskud.

Toe my volgende siklus aanbreek, is ons weer dokter toe. Hy kon steeds die adenomiose op die sonar sien en het verduidelik dat hy eers die eierselle wou stimuleer. Later sou hy dan die eiertjies uithaal, dit bevrug en vries.

Dan sou ek drie maande in menopouse geplaas word ten einde die hormone te beperk wat die adenomiose voed. As die baarmoeder klein genoeg geword het en stabiel voorkom, sou hy die inplanting doen.

Ek en my man het gebid dat die adenomiose krimp, en ek het geweet my familie het ook daarvoor gebid. Ons gebede is verhoor, want by die volgende sonarondersoek was dit heelwat kleiner.

Twee dae voordat die eerste eiertjies uitgehaal en bevrug sou word, is daar weer  ’n sonar gedoen. Maar ek het spontaan geovuleer – en al die eiertjies was tot niet.

“Op 22 September 2023 bevestig bloedtoetse: Ek is swanger! As God die ongeneesbare kon laat verdwyn, wat meer kan hy nie doen nie?” sê Chirese. Foto verskaf

Die ongeneeslike adenomiose …

Ons het van voor af begin Dié keer was die adenomiose wel kleiner, maar tog sigbaar. Daar was ses eiertjies, wat dadelik bevrug is.

Drie dae later het die dokter my gebel: Een het oorleef.

Voordat ek in menopouse geplaas sou word, moes nog ’n sonarondersoek gedoen word. Toe ons op die skerm kyk, het die dokter my gevra wat ek sien.

“Dit lyk vir my … gelýk,” het ek geantwoord. Waarop hy gesê het dat hy nie die adenomiose sien nie. Die ongeneeslike adenomiose …

Hy het gesê hy wil dadelik die inplanting doen.

Wat was die kanse dat die enigste embrio iets sou oplewer? By die meeste paartjies word daar twee op ’n slag ingeplant, en selfs dan is sukses geensins gewaarborg nie.

Maar as God die ongeneeslike adenomiose kon laat verdwyn, wat kan Hy nie nóg doen nie?

Ná die inplanting het ek allerlei boererate gevolg: Ek het McDonald’s-skyfies gaan koop, want die sout sou glo help. Ek het elke dag ’n liter beetsap gedrink. Ek het borrie oor al my kos gestrooi …

Op 22 September 2023 bevestig die bloedtoetse ek is swanger. En op 24 Mei 2024 word ons liefste dogtertjie Nelize met behulp van ’n keisersnee gebore.

Ons het opnuut besef dat God ons deur die afgelope vier jaar gedra het. Die terugslae het ons geleer om elke oorwinning as ’n wonderwerk te beskou.

  • Chirese van der Schyff (28) is ’n laerskoolonderwyseres op Secunda. Haar man Jannie werk as ambagsman by Sasol. Hul dogtertjie Nelize is ’n maand oud.
Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.