FOTO’S MALITZA DE KOCK
Dawn van Heerden het nie ’n maklike lewe gehad nie. Sy het in Durban grootgeword en daar haar eerste man ontmoet. Dit het egter nie lank geduur voor die eerste krake in hul huwelik begin wys het nie. Die man was lief vir drank, en het later dwelms soos Mandrax begin gebruik. Terwyl hy onder die invloed was, het woedebuie hom oorval en moes Dawn die spit afbyt. Haar kinders – Cindy, Dawie en Tanya – was nog klein toe hy aan Dawn begin slaan het. Maar sy het hom telkens vergewe, en geglo dit sal later beter gaan.
Dawn het in daardie stadium nie gewerk nie, en die enigste werk wat sy kon kry, was dié van ’n karwag. Sy het by die Shoprite-sentrum in Bultfonteinweg in Kimberley begin. Sy vertel: “Op ’n goeie dag het ek tussen R200 en R300 verdien, maar normaalweg so R100 per dag.” Die geld was min en die werkdag lank, maar vandag spog al drie haar kinders met ’n matrieksertifikaat. “Winter was vir my die ergste. Ek het agtuur soggens ingeval, en dan sny Kimberley se koue deur murg en been. Ek het meestal so teen sesuur klaargemaak, en dan moes ek die sowat ses kilometer huis toe stap.”
LEES OOK: ‘Dis moeilik om oor te begin, maar ons is planmakers,’ sê dié Karooboere
Die somermaande was nie veel beter nie. Daardie deel van die Noord-Kaap is immers bekend vir sy uiterste temperature. Dawn vertel dat haar lippe een keer so verbrand het dat sy gesukkel het om te eet. Maar ten spyte van alles het sy geniet wat sy doen. Veral haar interaksie met die Kimberley-mense was kosbaar. “Ek onthou hoe ’n tannie wat ek gereeld gehelp het ’n koevertjie met R500 in my hand gestop het. Gebare soos dié het my kinders se skoolgeld betaal.”
Die keerpunt
Sowat tien jaar gelede het die inkopiesentrum van eienaars verwissel. Die nuwe bestuurder, Piet Pretorius, was nuut in Kimberley en hy het gou besef dat Dawn ’n goeie inligtingsbron was. “Sy het na ons gestap en gevra of sy ons kan help,” vertel Piet. Hulle het onmiddellik gekliek. Aanvanklik het Piet gevra dat sy ’n oog oor die sentrum hou. Wanneer daar probleme opgeduik het, moes sy hom laat weet. Hiervoor het hy haar betaal. Met verloop van tyd het Dawn se verantwoordelikhede toegeneem. Uiteindelik het sy voltyds die bestuur van die sentrum behartig, asook dié van ’n ander sentrum in Kimberley se middestad. Die oorgawe waarmee Dawn haar werk doen en die manier waarop sy na haar werkgewer se belange omsien, het verdere vrugte afgewerp: ’n Kantoor is in ’n woonstel vir haar en haar kinders omskep.
Die bestuurder
Dawn vertel oor haar werk: “Ek sorg dat alle probleme met die huurders uitgestryk word. Ek is ook verantwoordelik vir die organiseer van die karwagte en die sekuriteit by die geboue.” Sy handhaaf ’n goeie verhouding met die onderskeie taxi-eienaars, en daar word streng reëls toegepas om die perseel netjies en skoon te hou.
https://lig.christians.co.za/ek-moes-daagliks-iets-vind-om-voor-dankbaar-te-wees-vertel-man-wat-10-jaar-lank-onskuldig-in-tronk-was/
“Ek is mal oor my werk,” sê Dawn. “Ek moes wel vinnig leer, want ek het aanvanklik maar min van kantoorbestuur geweet.” Deesdae is sy ook verantwoordelik vir die aankoop van skoonmaakmiddels en die herstelwerk en algemene instandhouding by die winkels. En haar vorige kollegas, die karwagte? “Ons het steeds ’n goeie verhouding, hoewel baie van hulle nie meer by die sentrum werk nie. Soms is dit maar moeilik, want ek moet toesien dat die karwagte hulle ‘gedra’, en dat hulle mooi na die karre kyk. “Dit gebeur soms dat ’n karwag ’n ietsie drink terwyl hy karre oppas, en dan moet ek hom aanspreek.” Maar Dawn het geleer om haar man te staan. “Jy kan nie anders nie,” sê sy. Daar bestaan nie iets soos kantoorure of verlof nie. Haar selfoon is vier-en-twintig uur per dag aangeskakel. “Dis net hoe dit is. Probleme moet dadelik opgelos word.” Dawn sê sy hou daarvan om betrokke te wees by alles wat in die sentrums gebeur. Sy stap gereeld op die perseel rond om te sorg dat alles glad verloop. “Ek is baie gelukkig om vir mense te werk wat werklik omgee. Dis ook wonderlik om ’n vaste salaris te verdien en nie van ander afhanklik te wees om kos op die tafel te sit nie. “Oom Piet, soos ek hom noem, het my geleer dat eerlikheid alles is. Soms is daar kansvatters wat byvoorbeeld wil hê ek moet jok oor hoe iets gebreek het. Maar vir my gaan dit oor vertroue. Dis die mens wat ek wil wees: eerlik, reguit, betroubaar.” Dis ook hoe Piet haar beskryf. Hy sê Dawn het die geleentheid wat hulle haar gebied het met albei hande aangegryp. “Sy het nie ’n lui haar op haar kop nie. Sy is opreg, sy behandel alle mense met respek, ongeag wie hulle is. “Sy het drie pragtige kinders grootgemaak en gesorg dat elkeen matriek voltooi. Dis nie elke enkelma wat dit regkry nie. Ek haal my hoed vir haar af.”
’n Einde, en ’n begin
Maar dit was nie altyd ’n maklike pad nie. Dawn moes leer om weer in haarself te glo. “Vrouens wat mishandel word, sukkel om uit daardie omstandighede te ontsnap. Jy glo jou man as hy sê hy sal jou nie weer slaan nie. Maar elke keer word dit net erger. “Aanvanklik kon ek die merke op my lyf onder my klere wegsteek. Maar later het hy roekeloos geword. Hy het een keer selfs my neus gebreek. Die dwelms het ál sterker geword en nadat hy met Mandrax begin het, was die situasie onhoudbaar. “Maar eers ná ’n skietvoorval het ek besef hy sal nooit verander nie. Gelukkig het hy my in my voet geskiet, maar dit kon soveel erger gewees het.” Sowat sewe jaar gelede het Dawn tydens ’n vakansie in Durban ’n ou skoolliefde raakgeloop. “Hansie was my beskermengel,” vertel sy. “Ons het ’n paar goeie jare saam gehad, maar hy is net meer as ’n jaar gelede oorlede. Hy het my weer in die liefde laat glo.” Dawn is baie trots op haar drie kinders. “Almal het goeie werk, en is op hul voete.” Sy spog reeds met vyf kleinkinders.
Nie alleen nie
“Die lewe het my sterk gemaak,” sê Dawn. “Ek het geleer dat sekere situasies nooit sal verander nie. Niemand verdien om mishandel te word nie. Maar jy moet self daardie besluit neem; niemand gaan jou daaruit ‘red’ nie.” Dit het byna vyf jaar geduur voordat sy genoeg moed gehad het om haar man te los. Uiteindelik het sy doodeenvoudig besluit om ’n nuwe lewe vir haar drie kinders te skep. “Ek het met my klere in ’n inkopiesak daar uitgestap. Ek het niks gehad nie en moes van voor af begin. Dit was nie maklik nie, maar vandag is ek trots op wat ek bereik het.” Dis egter nie ’n pad wat ’n mens alleen kan stap nie, vertel sy. Haar onwrikbare geloof het haar in die donker tye deurgedra. “Ek het ook ’n sielkundige besoek, en stadig maar seker weer mens geword.“ Dawn sê sy bak deesdae melktert en wortelkoek vir ’n ekstra inkomste. “Jy hoef nie in jou omstandighede te bly nie. Kyk wat jy kan doen. Ons almal het talente ontvang. “En ek het nooit op my werk as karwag neergesien nie. Dit het my immers gehelp om my lewe weer terug te kry.”
- Stuur jou getuienis in sowat ’n 1000 woorde na lig@tydskrifte.co.za. Onthou ook foto\’s wat saam met jou getuienis gebruik sal word.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.