In die vroeë oggendure van 15 Julie 2021 vertrek ek en my man Danie saam met ’n toergroep Namibië toe. Voor ons vertrek moes ons Covid-19-inentings ontvang. Omdat ek soms ’n pyn agter my blad gekry het, het ek sommer X-strale laat neem, asook ’n volbloedtelling aangevra. Vir die wis en die onwis.
Daar was nie fout nie en die dokter het gesê ek moet my Namibië-vakansie geniet.
Die eerste nag anderkant die grens slaap ons, saam met die res van die groep, op ’n gasteplaas buite Grünau. Nadat die toerdokter my ’n Voltaren-inspuiting vir rugpyn toegedien het, was ek reg vir die bed.
Maar die volgende oggend het ek érge pyn, en my regterbeen het lam gevoel. My man moes my toilet toe help en ek het besef daar is groot fout.
LEES OOK: VIDEO: ‘Wonderwerke soos ons s’n versterk ander se geloof,’ sê ma van ‘tweeling’
Ons twee kon nie verder toer nie. Die gastehuiseienaar het ’n afspraak by die plaaslike dokter gemaak.
Moet nooit vra ‘wat as?’ nie
Ná twee dae se lê op ’n matras op die grond aangesien ek nie kon opstaan nie, en ’n gesukkel met die mediese fonds om ’n vliegtuig te reël (Covid-19 het hoogty gevier, en dit was boonop naweek) kon ons oplaas ’n private ambulans uit Suid-Afrika gereël kry. Die gastehuiseienaar en sy vrou het my met hul voertuig na die grens geneem nadat die dokter my gestabiliseer het vir die lang pad suid.
My man het die ambulans in ons voertuig gevolg. Op Springbok het dr Adriana Kotzé my weer gestabiliseer, en so mooi vir my gebid. Daarna was dit Somerset-Wes toe, na Mediclinic Vergelegen.
By die hospitaal het ’n neurochirurg ’n skandering aangevra. Hy het my ingelig dat ek verlam is, van my borste tot by my voete. Hy het terselfdertyd gereël vir ’n operasie.
Dié dokter se woorde aan my was: “Moet nooit vra ‘wat as?’ nie.”
En dit sal my altyd bybly. Dit het my trouens deur moeilike tye gedra. Ek glo vas die Here het dié boodskap op die regte tyd gestuur, en ek kon daaraan vashou.
Op Sondagaand 18 Julie het die ortopediese chirurg ’n gebreekte werwel verwyder. Dit was glo dít wat tot die verlamming aanleiding gegee het. Die dokter het egter vir my gesin gesê hy kon wel die werwel verwyder en vervang, maar die kans dat ek weer sou loop was bitter skraal.
Daar was wel ’n effense beweging by my boud, en dit was vir hom positief. Dit was ook óns stukkie hoop wat die Here ons gegee het.
Die verwyderde werwel is vir ontleding gestuur – en daar is vasgestel die éintlike bon van die kwaad is beenmurgkanker.
My dogter het dadelik ’n WhatsApp-groep op die been gebring, waarby sy ons hele familie, vriendekring en ander mense wat omgee ingesluit het. Daar het sy elke dag laat weet hoe dit met my gaan. Talle mense het gesê dat hulle vir my en my familie bid.
Sommige dae was makliker as ander
Ek was sewe dae lank in die . Danie en ons seun Franco het beurte gemaak om elke dag van ons plaas te ry en vir my te kom kuier. Ons moes ook ons huweliksherdenking in die hospitaal vier.
Deur die dag en saans het my dogter Rozelle en skoonseun Derick by my gekuier. Die personeel was fantasties. Hulle het my en my familie op die hande gedra en ons daagliks moed ingepraat.
Ek is later na Spescare in Stellenbosch oorgeplaas. My gesin het my kamer gaan mooi maak met blomme en met foto’s van vriende, familie en al my diere. Daar het ek ses weke lank gebly en baie goeie fisio- en arbeidsterapie gekry.
Ek moes leer om alles vanuit ’n rolstoel te doen. Sommige dae was makliker as ander. Dit was ’n groot aanpassing en soms moeilik om te aanvaar, maar die Here het my elke dag die nodige krag gegee.
Ek het eendag vir Mark, die rolstoel-agent wat self met ’n rolstoel oor die weg moet kom, gesê ek wil nie ’n fancy rolstoel hê nie, want ek gaan nie vir altyd in ’n rolstoel wees nie; met die Here se genade sal ek weer loop.
’n Traumatiese belewenis
In Augustus het die hematoloog en die onkoloog met die chemoterapie-behandelings begin. Ek moes een keer ’n week daarvoor aanmeld. Gelukkig kon my dogter elke keer saam met my gaan. Daar het ons die twee hospitaalsusters en twee ontvangsdames ontmoet wat my deur al die behandelings bygestaan en bemoedig het. Hulle is regte engele van Bo.
Intussen het ek ook meer gevoel in my bene begin kry, ek kon beter beweeg, self stort en self die toilet gebruik. Dit was ’n wonderwerk van die Here!
Ek is later van die rolstoel gespeen en het ’n “stoot-raampie” gekry. En toe ’n vierwiel-stootkarretjie. Die vordering was elke dag merkbaar. Ek kon later alleen in die huis regkom, en buite met behulp van ’n kruk.
Intussen het my seun getrou en ek en my man kon saam met hom en sy vrou Elne die dansbaan open. Dankie, Here!
Van Augustus 2021 tot Maart 2022 het ek chemoterapie gekry, maar daar was nie juis ’n verbetering in die kankertelling nie. Die dokters het toe op ’n sogenaamde “target-terapie” besluit.
Toe het die kankertelling drasties gedaal. ’n Stamseloorplanting was nou ’n werklikheid – iewers in Oktober 2022. Ná twee chemoterapiesessies moes ek ’n week lank inspuitings tuis kry, wat my man moes toedien. En ’n week later is my stamselle geoes.
Dit blyk toe die stamselle was te veel vir een oorplanting, maar te min vir ’n moontlike tweede probeerslag – wat gelukkig tot dusver nie nodig was nie.
Ná al die behandelings het my hare vir die eerste keer begin uitval. Daarop het ek besluit om sommer alles te laat afskeer. Dit was ’n traumatiese belewenis. Maar my seun het toe ook sý hare laat afskeer, in solidariteit met sy ma.
Die daarvolgende week kon die stamseloorplanting plaasvind. Ek moes drie weke lank in die hospitaal bly, in isolasie. My gesin kon darem elke dag vir my kom kuier, kompleet met maskers en doktersjassies. Ná drie weke kon ek huis toe gaan, maar die volgende ses weke was besoekers taboe.
Dankie, Here!
Op 17 Januarie 2023 het die onkoloog laat weet dat my beenmurg skoon is. Prys die Here! Ek moes wel steeds steeds, een keer per maand, ’n sogenaamde instandhoudingbehandeling ondergaan.
Deur ons hemelse Vader se genade en liefde, my man, kinders, familie en vriende se omgee en gebede, en die dokters en verpleegpersoneel se behandeling, is die stryd gewen. Daar was soveel fantastiese mense – nee, engele – wat saam met my gereis het. Sonder hulle sou ek nie kon volhou nie.
Ek sê: “Dankie, Here, vir elkeen van hulle! En dankie vir u liefde en vir elke dag se wonderwerke op my pad.”
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.