Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

VIDEO: ‘Wonderwerke soos ons s’n versterk ander se geloof,’ sê ma van ‘tweeling’

13 April 2021


Deur Conette le Roux; Video: Robert Cable

Chantell Davis van Oos-Londen se seuntjies, wat saam gebore is maar nie ’n tweeling is nie, is vandag al nege jaar oud. Maar sy het onlangs eers besef hoe merkwaardig haar kinders se verwekking werklik was.

 

Dié ma van vier kinders het daarna haar getuienis oor haar seuntjies – wat vyf tot sewe dae na mekaar verwek is, maar saam gebore is – met LiG-lesers gedeel en tot dusver is dit reeds deur 43 729 mense gelees en het LiG se Facebookblad behoorlik gegons.

“Dit is eers wanneer jy terugkyk wat jy werklik besef hoe merkwaardig iets is. Dit is soos die karakters in Bybelverhale waarvan ons vandag lees. Ons weet nie wanneer die Here op ons toneel gaan instap en dinge gaan verander nie. So ons stap maar. So het die Bybelkarakters ook dalk nie dadelik besef hoe merkwaardig hulle stories is nie, maar vandag lees ons die Bybel en het die voorreg om die volheid van die belofte te aanskou.

“Dit was dieselfde toe ek swanger geraak het na my miskraam. Maar toe die ginekoloog nog ’n hartkloppie waarneem was ek oorweldig van dankbaarheid. Hy het gesê dat superfetation raar is, maar hy het dit half “terloops” genoem. En toe ek eers daardie twee babas in my arms het, het ek nie eens kans gehad om te besef hoe merkwaardig dit was nie.”

Chantell, ’n pastoor van Oos-Londen, het onlangs tydens ’n Zoom-onderhoud met LiG vertel hoe ’n vrouegroep haar genooi het om te gesels oor “enige wonderwerk” wat sy al beleef het.

LEES OOK: ‘Ek emigreer en verloor my ma en sussie in een jaar: dít het my gedra’

“Ek wou aanvanklik gesels oor hoe ek sowat drie jaar gelede gewelddadig met ’n mes aangeval is, toe ek een oggend gaan draf het, en hoe God my daardeur gedra het. Maar toe ervaar ek die Heilige Gees sê vir my dat ek oor die ‘tweeling’ moet gesels. Die vroue was uit die veld geslaan,” vertel Chantell.

Hierna het Chantell navorsing oor superfetation gedoen en ontdek dat daar nog net sowat 20 sulke gevalle wêreldwyd aangeteken is. Dis toe sy en haar man Kevin besef het watter groot wonderwerk hulle beleef het.

Waarom maak hulle storie so ’n groot impak? “Mense, en veral kinders van die Here, is so honger om te sien hoe God steeds werk. Om weer wonderwerke te sien. Omdat ons op ’n daaglikse basis deur negatiewe en vreesaanjaende nuus gebombardeer word. Ek glo wanneer ons ’n getuienis van iemand anders hoor, stig dit ons eie geloof om te glo dat God werklik kan deurkom vir mý of jou situasie,” het Chantell vertel.

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.