“Die Here het van die begin af die deure wyd oopgemaak. Alles het net uitgewerk.”
Só getuig Pam Munro, die bestuurder by die Kimberley Equestrian Centre, nadat die 17-jarige Elrico Sesingi vroeg vanjaar as vakleerling by die South African Jockey Academy in KwaZulu-Natal toegelaat is.
Dit was altyd Elrico se droom om ’n joggie te word. Vir ’n kind wat in Soul City gebore is, een van Kimberley se informele buurte, was dit ’n onmoontlike droom. Maar by God is niks onmoontlik nie.
Elrico kom uit moeilike huislike omstandighede en hy het, toe hy nog ’n kleuter was, baie tyd saam met sy oupa en ouma by die perdeklub in Kimberley deurgebring. Sy oupa was destyds ’n stalkneg (oftewel ’n “groom”) en hy het sy kleinseun gereeld aan die perde blootgestel.
Aanvanklik wat Elrico skrikkerig, maar sy vrees het gou liefde geword.
Hy was sewe jaar oud toe sy ouers verhuis het. Hy en sy ouer broer Anthony het nie kans gesien om saam met hulle te trek nie. Die twee seuns was toe reeds geliefd by die stalle, waar hulle veilig en geborge gevoel het. Elrico en Anthony se tannie Kerileng en oom Bradley, wat albei by die perdeklub gewerk het, het besluit om verdere stabiliteit in die twee kinders se lewe te bring deur hulle wettig aan te neem.
Elrico se innemende geaardheid het die afrigters en ander werkers by die stalle beïndruk. Ilse de Villiers, ’n afrigter, het hom vroeg onder haar vlerk geneem en gou agtergekom dat hy ’n natuurlike aanvoeling vir perdesport het. Ilse en een van die klub se stigterslede, Ricky Talbot, het Elrico begin afrig en hom aan die sport se vele fasette bekendgestel.
Spoedig het Elrico aan skoue deelgeneem en in ruiterskouspring, dressering en gimnastiek op perde (oftewel “vaulting”) uitgeblink.
‘Jy is ’n jockey’
Steeds het Elrico oor wedrenne bly droom. Pam word emosioneel as sy aan alles terugdink en God se hand in Elrico se lewe sien. Alles het eenvoudig gebeur soos hulle dit voorsien het.
Pam het hom uit die staanspoor aangemoedig om by die South African Jockey Academy aansoek te doen. ’n Bekende in perdekringe, Leigh Lippet, was einde verlede jaar in Kimberley vir ’n student se eksaminering en toe sy Elrico in aksie sien, was haar woorde: “Jy is ’n ‘jockey’.”
Volgens haar het hy die regte bou en gewig, wat noodsaaklike fisieke eienskappe vir ’n joggie is. Elrico het in daardie stadium slegs 40 kilogram geweeg.
Leigh het nie op haar laat wag nie. Met Elrico se passie vir perde en sy ideale liggaamsbou het sy geweet dat hy ’n perfekte kandidaat vir die joggie-akademie is.
Maar in daardie stadium was die aansoeke vir die jaar se inname by die akademie reeds gesluit. Leigh het mooi gevra of hulle nie tog sy aansoek sou oorweeg nie.
En so het dit gebeur dat Elrico toe wel by die akademie aangemeld het.
Die lewe by die akademie
Die South African Jockey Academy bied ’n streng vakleerlingskap aan wat vier jaar duur. Hier word voornemende joggies aan ’n strawwe opleidingsprogram onderwerp, wat akademiese prestasie insluit. Die leerplan bestaan uit perdry, algemene opleiding, stalle skoonmaak, besoeke aan die gimnasium en ’n akademiese program.
Die leerlinge se dag begin soggens vieruur. Daar word tot nege uur per dag perdgery. Die afrigters fokus op verskeie tegnieke en die joggies moet leer hoe om ’n resiesperd te hanteer. Hiervoor word perde gebruik wat nie meer aan wedrenne kan deelneem nie. Van die tegnieke, veral dié wat met ’n ruiter se balans verband hou, word op ’n meganiese perd aangeleer.
Ná ’n laat ontbyt word daar op die akademie gefokus. Elrico, tans ’n graad tien-leerder, is een van drie in sy klas. Leerlinge kan ook tersiêre onderrig ontvang indien hulle ná matriek met hul akademiese studies sou wou voortgaan.
Elke middag drieuur val hulle weer by die stalle in vir verdere lesse, vir die stalle se skoonmaak en vir terugvoer.
’n Dieetkundige sorg dat die leerlinge gesonde, gebalanseerde maaltye geniet. Hul gewig word streng dopgehou en van snoeperye en gaskoeldrank is daar geen sprake nie. Elrico moes aan die begin van die jaar sowat vier kilogram by sy gewig voeg sodat hy 44 kilogram kon weeg, en nou moet hy dit handhaaf.
Die lesse met die perde word twee keer per week met gimnasiumsessies afgewissel, laasgenoemde hoofsaaklik kragoefeninge. Hoewel joggies lig moet wees, moet hulle in staat wees om ’n kragtige perd te hanteer.
Elke student se vorderingsprofiel is uniek. As alles goed verloop, behoort ’n leerling ná ’n jaar gereed te wees om elke dag met verskillende resiesperde te oefen, wel onder ’n rymeester se wakende oog.
Ruiters word eers op ’n klein baan aan die sport blootgestel voordat hulle op die groot renbaan deelneem. Elrico se gunstelingaktiwiteit is wanneer die wegspringhekke oopgemaak word en hy die perd se krag onder hom kan voel.
Hy sal uiteindelik as ’n volwaardige joggie kwalifiseer nadat hy vier jaar as vakleerling by die akademie voltooi en minstens vyftig keer ’n resies gewen het. Maar drome word nie sonder opoffering bewaarheid nie. Dit verg harde werk en streng dissipline. En dit is iets wat Elrico reeds van jongs af by die klub in Kimberley geleer het.
‘Ek probeer om die beste daarvan te maak’
Elrico is vir Pam soos een van haar eie. Sy sê: “Hy was nog altyd ’n harde werker. En een van sy mooiste eienskappe is dat hy altyd probeer om ander te help, ten spyte van die moeilike omstandighede waarin hy grootgeword het.
“Sy lewe is ’n toonbeeld van dankbaarheid en nederigheid. Hy is ’n spreekwoordelike ‘gentle soul’. Dis eienskappe wat jy nie altyd by so ’n jong kind kry nie.”
Voorts reken Pam dat dit Elrico se geloof is wat hom gebring het tot waar hy vandag is. Dan is daar ook die klublede se ondersteuning. Hulle het hom van kleins af met liefde oorlaai.
Elke mens kry geleenthede in die lewe, en Elrico het sy talente gebruik en sy geleenthede met albei hande aangegryp. Mike Sharkey, ’n vorige bestuurder by Mauritzfontein Stud Farm, het ’n groot rol gespeel om ’n volle beurs vir Elrico se opleiding by die akademie te verseker.
Elrico sê dat die afgelope klompie maande se suksesse nie sonder sy borg en Mike Sharkey en die ander klublede wat bankvas agter hom staan moontlik sou wees nie. “Ek weet dat God my die geleentheid gegee het om my drome uit te leef en ek probeer om die beste daarvan te maak.”
Elrico sê hy hoop om ná sy opleiding as ’n professionele joggie vir sy borg, Mauritzfontein Stud Farm, te kan ry. En, wie weet, dalk maak hy nog naam in Hongkong of Dubai of Singapoer. ’n Mens mag mos droom …
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.