Toe Andries Dirks van Riebeek-Kasteel nog ’n kind was, is hy soveel kere verwerp dat sy latere tienerwoede sekerlik voorspelbaar was. Dié woede sou mettertyd tot aanranding en selfs tronkstraf lei, totdat God se liefde hom uiteindelik gered het.
Andries Dirks het ’n ent buite Riebeek-Wes op ’n plaas grootgeword. Hy het nie speelmaats gehad nie. Hy vertel: “My ma se ouers het my grootgemaak. My ma was ’n alkoholis en my pa het af en toe geld gestuur.
“Ek was van kleins af baie lief om beeldjies uit modder te maak, en dan het ek probeer om dit in Ouma se buiteoond uit te droog terwyl sy brood bak. Partykeer sou ’n beeldjie uitmekaar bars sodat die modder oor haar brode spat, en dan kry ek slae met ’n vadoek!”
Die klein Andries het dan troos gevind in die maak van nog modderbeelde, veral van ’n skugter haas wat hy in die veld gesien het. Hy het gereeld probeer om die haas te vang, maar dit het hom telkens ontwyk.
’n Weggooilammertjie
“Ek was baie opgewonde toe ons na ’n plek toe trek waar ek kon skoolgaan, want ek sou maats kry. Maar toe word ek die uitgeworpene; hulle het vir my gelag en my geterg. My broek was te groot, my klere was tweedehands. Daar was woorde soos ‘klipkind’ …

“Jare lank het ek gevoel soos ’n uitgooilammertjie in die skaaptrop, die een wie se ma hom gelos het. So ’n lam druk sy kop van agter af tussen enige ooi se bene in om ook ’n bietjie melk te kry. Gewoonlik skrik die ooi vir hierdie anderster aanslag, dan mis sy op die lam se kop. ’n Weggooilam word uitgeken aan die stront op sy kop. Ek het altyd so gevoel.”
In graad 6 het Andries begin om stokkies te draai. Sy grootouers het niks hiervan geweet nie. Voormiddae sou hy modderbeelde maak, maar ook kattekwaad aanvang. Uiteindelik het Andries ’n woedende jong man geword, iemand wat sy vuiste vinnig laat klap en wat gereeld in die tronk beland. Op ’n keer was die beserings wat hy veroorsaak het so erg dat hy vir moord aangekla is.
LEES OOK: Van kwadrupleeg tot mondskilder en motiveringspreker: ‘God is my kompas’
Toe hy 34 jaar oud was, het hy opeens besef dat hy reeds meer jare in die tronk was as daarbuite. “Toe was dit asof die Here my inhaal, en ek het besef ek kan nie so aangaan nie. ’n Mens leef tog beter met God aan jou kant. Toe draai Hy my hele lewe om.”
’n Tronkvoël word ’n Christen
“In 2005, toe ek die laaste keer by die tronkdeure uitstap, was ek ’n Christen, met ’n groot begeerte om voortaan die reguit pad te loop. In die tronk se werkwinkels het ek baie geleer oor klei meng vir pottebakkery, maar ek moes eers werk soek. My Christenskap het nie dinge vanself makliker gemaak nie …

“Ek kon by my suster gaan bly, maar dwelms en drank was maklik beskikbaar en die verkeerde vriende net om die draai.”
Andries het ’n werk gekry, en hard gebid vir ’n nuwe blyplek. Die antwoord het gekom toe ’n kunstenaar van Riebeek-Wes vir hom ’n blyplek in haar agterplaas gegee het. Hy vertel: “Ek het my voorgeneem om nie hierdie groot geleentheid op te mors nie; ek wou dit aangryp en die beste daarvan maak.
“Hierdie vrou was verras oor my beelde, en sy het my meer geleer oor dinge soos glasuursel en oondtemperature.”
Skottelgoed, tuinwerk en kuns
Toe Andries se vrou met hul eersteling swanger word, het hy ’n ander werk aanvaar, mét ’n huis op ’n gasteplaas naby die buurdorp Riebeek-Kasteel. Hier was hy nege jaar lank die pakhuisbestuurder. Hy het dikwels met die instandhouding gehelp.

Maar hy was steeds op soek na meer tyd vir sy skeppende kuns, en toe gaan doen hy afleweringswerk op ’n ander plaas en hy woon aandklasse by om sy matrieksertifikaat te verwerf.
Dit was ook eers toe hulle op Riebeek-Kasteel gaan woon het dat sy groot deurbraak as kunstenaar gekom het. Hy vertel: “Weekdae het ek tuinwerk gedoen, en Sondae het ek skottelgoed gewas by ’n koffiewinkel teen R150 per dag. In stil tye sou ek in die koffieplek se tuin gaan sit en beelde maak. En in 2016 was dit hier waar iemand my werk raakgesien het.”
Hierna het Andries se beeldhouwerk stap vir stap gevorder. Iemand het sy oond vir hom beskikbaar gestel, en ’n Pretoriase egpaar het ’n tyd lank die huurgeld vir sy ateljee betaal. Dit alles het meegehelp dat Andries vir lang tye sonder te veel spanning op sy beeldhouwerk kon fokus.
Klipkinders, en hul skepper
Aanvanklik het hy koddige lewensgrootte hase gemaak. Prettige, parmantige of lui-lê hase, en almal wou dié hase koop. Andries noem sy beeldhoureeks “Klipkinders” en só kry sy skeldnaam ’n positiewe betekenis.
Maar dinge het nie altyd vlot verloop nie: Hy het ’n handlanger opgelei om saam met hom hase te maak, en gou het dié helper Andries se haas-onderneming as ’t ware gekaap. Hoewel dit vir hom soos ’n hou in die maag was, sê Andries dat hy geen wrok dra nie. “Gelukkig kan ek ’n verskeidenheid ander beelde maak. In plaas van bitter wees, tel ek my seëninge. Ná die hase het ek beelde van my ouma en oupa gemaak, asook ander beelde wat die Khoi-lewe uitbeeld soos ek dit dikwels as kind gesien en beleef het.”
Intussen het Andries deel geword van die kunstenaarsgemeenskap in Riebeek-Kasteel. Hieroor sê hy: “Uiteindelik het ek ’n plekkie gevind waar ek tuishoort. Ek leer so baie, en die wedersydse ondersteuning help my baie.”
Steeds vertoef Andries (hy is nou 53) se beelde nooit lank op die rak nie. Tans word sy Klipkinders-beelde in Kleinmond en in die Kaapse middestad uitgestal. Daarby bied hy weekliks beeldhoulesse aan.
Lentetye, wanneer die Riebeekvallei se kunstenaars hul werk trots uitstal as deel van die jaarlikse Solo Studios, is Klipkinders ’n volwaardige deel daarvan.
Met vyf kinders in sy huis, besef Andries elke dag sy verantwoordelikhede as Christen-pa. “In die tronk het ek soveel kere gesien hoe die lewe vir sommige mense verkeerd loop omdat hulle nooit by hul ouerhuis liefde en omgee ervaar het nie. Ek onthou wat ek self deurgemaak het omdat ek so ‘weggegooi’ gevoel het. En ek mag nie toelaat dat my kinders ook hierdie pad loop nie.”
Ja, daardie woedende tiener het ’n nederige, saggeaarde kunstenaar en besorgde pa geword. Hy lig sy Bybel op wat langs die vaalbruin klei op sy werkbank lê en sê: “Ek het ’n Bybel hier langs my, en een by die huis ook. Dis my wapen, my veilige hawe. Vanoggend het Spreuke 21 weer so hard met my gepraat. Ek kan niks op my eie doen nie.
”Elke voordagoggend wanneer ek so teen drieuur wakker word, bid ek. Ek bid so baie teen al die geeste wat ons in dié tyd van die nag aanval en saadjies van twyfel in ons binneste saai.”
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.















