Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

‘Verlies en verandering is soms ruimtes wat God vir jou oopmaak’ – vrou se gebede word verhoor

Toe ek in matriek was, het my drome kleur gehad. Ek het my ’n lewe voorgestel tussen verfkwaste en sketse en oop ruimtes, waar my kreatiwiteit vry kon asemhaal. Stellenbosch was die bestemming, en kuns die taal waarin ek my wêreld sou verwoord.

Maar God skryf dikwels met ander kleure as dié wat ons in gedagte gehad het. Want in plaas van kuns, het ek in die teologie gaan studeer. Ek het ja gesê vir ’n roeping.

Die verlange na kuns het egter nooit verdwyn nie. Dit het soos ’n sagte ondertoon saam met my gestap – stil, maar altyd teenwoordig. Ek het geleenthede gesoek om dit uit te leef, maar dié was skaars.

Tog was daar iets in my wat bly glo het dat daar ’n dag sou aanbreek waarin hierdie twee wêrelde, teologie en kuns, mekaar sou ontmoet.

‘Verlore en verwerp’

Toe kom 2025. Dit was ’n jaar wat my uitgedaag en ontwrig het. My gemeente het openhartig met my gepraat en gesê dat hulle my voltydse predikantpos nie meer langer kon bekostig nie. En eensklaps moes ek leer hoe om my roeping anders uit te leef, in kleiner ruimtes en met minder sekerhede.

Ek het verlore en verwerp gevoel.

LEES OOK: ‘As Jesus mý kon genees, kan Hy dit vir énigeen doen,’ sê tienerboekskrywer

Diep bewus van my afhanklikheid en vol onsekerheid het ek gebid: “Here, stuur asseblief iets oor my pad sodat ek weer kreatief kan wees.”

En toe, halfspeels maar tog opreg, vra ek daarby: “Laat dit asseblief na my toe kom. Ek het nie nou die energie om dit self te gaan soek nie.”

Intussen het ek aangehou om te help waar ek kon – op die hokkieveld waar ek afrig, langs tieners in eerlike geloofsgesprekke. Bloot om daar te wees. Om saam te loop.

‘Hy verras ons’

Aan die einde van verlede jaar het ek die skoolhoof gaan bedank vir die voorreg om by die skool en die kinders betrokke te kon wees. In die gesprek noem hy toe so terloops dat hulle iemand soek om kuns en drama aan te bied, maar dat hulle nie die regte persoon kon kry nie.

En terwyl hy praat, was dit asof hy iets besef het. Hy het na my gekyk en gevra: “Jy het mos kuns op skool gehad; sal jy nie belangstel nie?”

Op daardie oomblik het alles in en om my stil geword. Nie omdat dit so dramaties was nie, maar juis omdat dit eenvoudig en presies was. So persoonlik.

Kuns het na my toe gekom.

Ek het ja gesê, sonder huiwering. Sonder formele onderwysopleiding, maar met die diepe wete dat dié pos ’n gawe uit God se hand is.

Die skool het my die geleentheid gegee om kuns en drama vir leerlinge in graad 8 en graad 9 aan te bied, en skielik het twee wêrelde begin saamvloei. Tussen die kuns en drama en die tieners deur, leef ek steeds my roeping uit as deeltydse predikant in die gemeente. Hier is ek besig met pastorale berading, ek berei my preke voor en ek doen die alledaagse “dominee-dinge” wat alles deel van my hart is.

Vandag staan ek in ’n klaskamer met verf aan my hande en stories in my hart. Én ek leef my roeping as predikant uit. Ek beleef in al twee sfere die voorreg om deel te wees van baie tieners se lewe.

Iewers op dié kruispunt het ek besef: God voorsien nie net in ons nood nie; Hy verras ons ook met vreugde. Hy gee nie net genoeg nie; Hy gee soms oorvloedig, en op ’n manier wat ons nie kon voorsien nie.

‘Soms kom dit sommer maar net na ons toe’

Ons word so maklik vasgevang in dit wat verkeerd loop, in verlies, in verandering, in al die dinge wat nie meer by en met ons is nie. Maar dalk is God juis in so ’n tyd besig om nuwe ruimtes oop te maak waar ons weer kan asemhaal. Ruimtes waar ons onsself, en Hom, opnuut kan ontdek.

Soms kom die antwoord op alles nié omdat ons dit gaan soek nie. Soms kom dit sommer maar net na ons toe.

  • Karlie Liebenberg is ’n deeltydse predikant by Bredasdorp Gemeente en kuns- en drama-onderwyser by Hoërskool Bredasdorp.
Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

No data was found

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF