Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Seksuele gereedmaking: Vertrou jou instink as jy voel iets is nie reg nie,’ waarsku ma

DEUR MARETHA BOTES; FOTO TER ILLUSTRASIE (iStock)

Yolandi Jordaan*, ma van die sewejarige Clarise*, vertel haar en haar dogter se verhaal sodat ander kan besef hoe skrikwekkend seksuele gereedmaking (grooming) is en hoe algemeen dit voorkom.

Yolandi sê sy was vier jaar lank getroud met ’n jeugpastoor in ’n prominente kerk nadat hulle drie jaar lank uitgegaan het. Ná die vier jaar se getroude lewe is hulle uitmekaar. Die man het haar en haar dogter mishandel – liggaamlik, emosioneel, finansieel en sielkundig. Sy moes selfs ’n beskermingsbevel teen hom verkry, en hy is oplaas uit hul huis verwyder.

LEES OOK: ‘Ek is as elfjarige dogtertjie die eerste keer verkrag’

“Maar die landswette bepaal dat hy nie kontak met sy kind geweier kon word nie. Die ideaal sou wees dat ’n maatskaplike werker toesig sou hou oor sy kontak met ons dogter. Maar vanweë finansiële probleme kon ons nie so ’n reëling tref nie, en ek het self toesig gehou wanneer hulle saam was.

“Tydens een van dié besoeke was ons in ’n park. Ek het gesien hoe hy lekkergoed in sy broeksak druk en haar vra om dit uit te haal as sy een wil hê. Sy was so twee jaar oud. Soos enige kind van daardie ouderdom wou sy graag ’n lekker hê. Sy het haar hand in sy broeksak gedruk, en sy moes dit diep indruk om die lekker uit te haal. Ek het dit gesien en dadelik baie ongemaklik gevoel.

“Hy het toe ook ’n ander lekker in sy mond gesit en haar gevra om dit met haar mond uit te haal. Hulle het dus oopmond teen mekaar gestaan terwyl sy die lekker by hom neem. Ek het, instinktief, geweet dat iets nie reg is nie.

“Ons was met mekaar getroud. Ek het hom goed geken …

Geborg

“Daarna het ek by ’n ondersteuningsgroep aangesluit: ouers van kinders wat mishandel is.” En dié groep het Yolandi daarvan oortuig dat haar gewese man se optrede beslis op seksuele gereedmaking dui. Dit was deel van die proses om die kind aan seksuele dade gewoond te maak.

“Hulle het my vertel wat tipies sou volg: Jy begin met ’n onskuldige aksie (‘hier is vir jou ‘n lekker in my sak’); dan volg iets soos: ‘Voel jy wat in my broek is? Hoe voel dit vir jou? Geniet jy dit?’

“Ek kon dit so maklik misgekyk het, dit was tog bloot ’n lekkertjie …

“Vertrou jou instink as jy voel iets is nie reg nie. Omdat ek vroeg-vroeg ’n baie sterk ondersteuningsnetwerk kon vind, kon ek dit alles baie vroeg stopsit.”

Yolandi vertel hoe sy toe ook ’n maatskaplike werker se hulp ingeroep het.

“Maar ek mag steeds nie kontak met haar pa weier nie. Ek is ook bekommerd oor ander kinders wat sy pad kan kruis. Ongelukkig is ons regstelsel so gestruktureer dat ’n verdagte nie as gevolg van vermoedens aangekeer kan word nie; daar moet eers iets gebéúr voordat iemand gearresteer kan word. En dit laat ons kinders weerloos.”

Seksuele gereedmaking

Geborg

Praat jy met ’n mens wat self ’n prooi was, of wie se kind dit oorgekom het, staan jy geskok voor die werklikheid dat dit nie saak maak wie jy is, waar jy woon of met wie jy bevriend of getroud is nie – enigeen kan ’n slagoffer wees. En enigeen kan die misdadiger wees wat ’n slagoffer van seksuele misbruik doelbewus daarvoor gereedgemaak (ge-“groom”) het.

Hoe beskerm ek my kind?

1. Stel grense. Antoinette Beukes, ’n traumatoloog, sê gebrekkige grense is een van die grootste swakplekke wat deur oortreders uitgebuit word. Soveel kinders onthul tydens assesserings en ander ondersoeke dat hulle vryelik toegelaat word om films met ’n ouderdomsbeperking te kyk. Ouers kyk nie na hul kinders se selfoon nie en weet nie dat selfs onskuldige aanlyn speletjies ’n sogenaamde “chatroom” het wat ’n wonderlike wegkruipplek vir pedofiele bied nie. So word (nuuskierige) kinders onwetend betrek en word hulle aanlyn blootgestel aan naakfoto’s en ander soorte pornografie.

2. Leer jou kind om “nee!” te sê. Ons moet ons kinders leer dis oukei om “nee!” te sê wanneer iemand hulle ongemaklik laat voel. En dis oukei om jou rug vir vreemdelinge te draai, om hoegenaamd nie met hulle te praat nie.

3. Liggaamsbewustheid. Ons leer ons kinders van kleins af watter dele van hul liggaam privaat is. Soms sal die kind deeglik daarvan bewus wees, maar steeds sal ’n sluwe oortreder dié grense toets om te kyk hoe die ouers reageer en hoe die kind daarop reageer.

4. ’n Sterk band met jou kind, asook ’n gevoel van vertroue en veiligheid in jul verhouding, is onontbeerlik. Jou kind moet altyd daarvan verseker wees dat jy ’n veilige hawe bied waar wedersydse respek heers. En dat dit wat die kind jou vertel nie oorvertel sal word nie. Indien kinders nie veilig voel nie of ’n negatiewe reaksie kan voorspel, sal hulle nie verklap wie en wat hulle ongemaklik laat voel nie.

Wanneer dit gebeur het …

Geborg

En sê nou jy vermoed dat so iets reeds met jou kind gebeur het of aan die gebeur is?

Kapt Lynette du Plessis, lid van die SAPD se gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdryf-eenheid in Sebokeng, Vanderbijlpark, verduidelik: “Wanneer jy vermoed jou kind word seksueel ge-‘groom’, of dat daar reeds verkragting plaasgevind het, moet ’n forensiese maatskaplike werker ’n sogenaamde Vorm 22 voltooi en dit by die naaste polisiekantoor asook die naaste kinderbeskermingsagentskap ingee, met die oog op verdere ondersoek.”

’n Distriksgeneesheer sal ’n mediese ondersoek doen – dit moet binne 72 uur ná ’n vermeende verkragting afgehandel wees – en ’n assessering word deur ’n forensiese maatskaplike werker gedoen. Wanneer die ondersoek voltooi en die DNS-verslag ontvang is, asook die forensiese assesseringsverslag, word die saak vir verhoor uitgestel en sal die getuies gedagvaar word om die hof by te woon en te kom getuig.

In geen stadium sal die slagoffer die verdagte sien nie; eersgenoemde verkeer in ’n veilige omgewing om sodoende die trauma te verminder.

* Nie haar regte naam nie

KONTAK ONS KENNERS
Antoinette Beukes, traumatoloog, 082 305 3585
Mariette Kroukamp, berader, 076 739 7607

Daar is dalk ’n Thutuzela Omgeesentrum by jou plaaslike staatshospitaal of  kliniek. Jy kan ’n verkragting direk by so ’n sentrum aanmeld, of by jou plaaslike polisiekantoor.
www.gov.za/TCC

Die ACVV bied kinderbeskerming- en traumadienste.
021 461 1109 / 7437 / 7447
info-hk@acvv.org.za

Badisa
Dié organisasie bied maatskaplike dienste asook traumaberading en
kinderbeskermingdienste.
https://badisa.org.za/social-work-services/

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.