25 Februarie 2021
“Sy onbeskryflike liefde vir kinders.
“Die dag toe my kleinseun gebore is, het hy onmiddellik vir hom ’n rugbybal gaan koop. Ja, hy het nooit sy eie kinders gehad het nie, maar sy beste vriende se kinders het hy as sy eie beskou.”
Suzanne Haylett raak aangedaan, maar lag ook tussendeur terwyl sy oor haar broer Charl Munnik, se nalatenskap gesels. Charl is op 29 Januarie 2021 in sy juwelierswinkel in Worcester doodgeskiet.
LiG gesels met Suzanne in haar huis in dié Bolandse dorp nadat Charl se aangrypende getuienis, wat hy twee weke voor sy dood vanuit sy hospitaalbed geskryf het, LiG-lesers aan die hart geruk het.
Charl se “storie”, soos hy dit op Facebook genoem het, is tot dusver deur sowat 44 000 mense gelees. Hierin getuig hy dat sy lewe, ná sy stryd met Covid-19, in ’n oogwink verander is en gee “alle eer aan sy hemelse Vader.”
Suzanne vertel: “As daar een woord is wat Charl se lewe opsom is dit ‘passie’.
“Sy passie vir gee, sy passie vir mense en sy passie vir die Here die laaste paar jaar …”
Charl was juis, voor sy dood, besig met planne wat aangevuur is deur sy passie. Hy het die Steinthal-kinderhuis buite Tulbagh ’n tyd voor sy dood besoek. Hy wou uitvind wat hulle “wenslys” is vir die instandhouding van hul geboue. Behalwe dat hy reeds 135 kinders finansieel ondersteun het, wou hy glo “groot gaan” om die kinderhuis se geboue vanjaar te herstel.
Hiervan het hulle egter eers na sy dood uitgevind, sê Suzanne.
Intussen het Suzanne en van Charl se beste vriende hande gevat om die Charl Munnik Foundation for Kids te stig. Die plan is om eerstens Charl se wens om Steinthal-kinderhuis te herstel, tot uitvoering te bring. Die geboue het dringend herstelwerk nodig. “Daarna wil ons nog behoeftige kinderhuise identifiseer en hulle ook help,” vertel Suzanne.
“Met God se hulp glo ek die foundation gaan soveel meer doen as wat Charl kon droom,” sê Suzanne.
’n Groot rede waarom Charl ’n hart vir kinders in nood gehad het, is omdat hy self ’n aangenome kind was. Suzanne was hulle ouers se biologiese kind.
Suzanne, wat heelwat ouer as Charl is, dink met vreugde terug aan die dag toe Charl by hulle gesin aangesluit het. “Die oomblik toe hy kon lag, het hy uit sy maag gelag. Hy was altyd loud. ’n Bol energie …”
Charl se passie vir mense het hom soms ook in die verkeerde rigting en na verkeerde vriende gelei, sê Suzanne. “Charl het nie altyd op die regte pad gestap nie.”
Suzanne voel dis belangrik om te noem dat hy ’n lang stryd met dwelms gehad het tot sowat twee en ’n half jaar gelede. “Juis omdat dit mense sal laat besef dat, maak nie saak op watter verkeerde pad jy stap nie, jy altyd nog ’n kans het om die regte keuse te maak en vir God te kies.”
En Charl het vir God gekies.
Suzanne vertel van ’n spesiale oomblik die oggend voor Charl se dood. Sy ma, Esmé Munnik, het by hom gebly tot hy aangesterk het na sy stryd met Covid-19.
“Hy het glo dié oggend baie vroeg wakker geword. Hy het my ma geroep om by hom in die bed te kom lê en bietjie TV te kyk. Toe sê hy skielik vir haar: ‘Mamma, ek is so bly ek het Covid gekry, want nou is my verhouding met die Here so intens. Ek wil nou voluit vir die Here leef.’”
- Vir meer inligting oor die Charl Munnik Foundation for Kids besoek charlmunnikfoundation.org of stuur ’n e-pos na info@charlmunnikfoundation.org