“Nog net vier slapies, Pappa,” sê hy toe ons in die kar klim. Ek neem hom skool toe. Vandat sy verjaardagmaand begin het, tel hy die dae af.
Terwyl ons ry, herinner hy my daaraan om die vliegtuigies te koop wat op die verjaardagkoek moet kom. Hy het weke gelede reeds vir sy ouma ’n prentjie van ’n vliegdekskip gewys. En nadat hy bekommerd na die vraagteken op haar gesig gekyk het, het hy met sy Duplo-blokkies vir haar so ’n skip gebou.
Die volgende op sy agenda – en ons moet opsluit daaroor praat voordat ek hom aflaai – is die partytjie. Maar nie die een met die maatjies by Waterworld nie; volgens hom is dit nie sy régte verjaardag nie.
Ek probeer hom reghelp, ek sê hy verjaar tog op dieselfde dag as daardie partytjie.
Nee, antwoord hy, hy verjaar eers daarna, wanneer die res van die familie by ons kom braai.
Dis wat ons gewoonlik doen wanneer ons kinders verjaar. Daar is eers ’n partytjie vir die maatjies, en dan ’n boereworsbraai saam met die familie later daardie dag.
Ons doen dit nou al so vandat hy speelskooltjie toe is. En ons was salig onbewus daarvan dat in sy kop die éintlike viering van sy verjaardag dít is wat gebeur wanneer sy hartsmense byeen is. Wanneer sy oupa en sy twee oumas saam met die ooms, tannies, die nefies en die niggie kom kuier. En saam met Sussie, Mamma en Pappa onder die bekende dak van sy grootwordhuis bymekaarkom.
Wanneer almal om die kombuistafel staan, by die oorskietkoek van die maatjies-partytjie, wanneer hulle vir hom sing. Eers dan verjaar hy regtig.
Vier die lewe, ook die doodgewone oomblikke
Die meeste kinders kan ’n groot dag in hul lewe onbevange vier, met die oorgawe wat daardie dag verdien. Kersdag en Paasfees, verjaardag en die laaste dag van die skoolkwartaal. Dit kos nie baie oortuiging om hulle in ’n feestelike stemming te kry nie.
Ons leer egter by ons kinders dat dit nie slegs die groot feesdae is wat gevier moet word nie, maar ook die doodgewone oomblikke, dié wat dikwels ongesiens verbygaan. Toe ek later in die verjaardagweek my seuntjie by die skool gaan haal, vertel hy my dat hy dit vir die eerste keer reggekry het om onderstebo aan die klimraam te hang. ’n Maatjie het hom gewys hoe om dit te doen, nadat hy dit eers nie kon regkry nie.
Dit was ’n bladskud werd, en ’n R9,99-draairoomys.
Bind daardie lint – en basta!
Elke mylpaal in ’n mens se lewe verdien ’n lint wat daarom gebind is. Maar om dit te doen, verg meer as bekwame vingers en ’n sak vol linte. Baie mense vind dit moeilik om op ’n sinvolle wyse die groot en belang-rike oomblikke in hul lewe te vier, wat nog te sê elke dag se klein oorwinnings en prestasies.
Neal Smudre, medeskrywer van die boek Start from joy, beweer dat hierdie onvermoë ’n epidemie is, eie aan die tyd waarin ons leef.
Maar is hy reg? Wat van al die foto’s en video’s van verjaardagpartytjies en bruilofsfeeste op sosiale media? Dit skep tog die indruk dat ons uitroep, vier die lewe!
Ons weet egter dat die volle verhaal van so ’n feesdag nie noodwendig deur sosiale media vertel word nie. Uit die prentjies mag dit lyk asof dit ’n heuglike dag was, ryk aan betekenis en werklike lewensvreugde. Maar ek was al by genoeg jaareindfunksies, prysuitdelings, troues en verjaardagpartytjies om te weet dat sulke dae dikwels gekenmerk word deur oomblikke waarin angs, konflik, teleurstellings en selfs afguns die oorhand het.
Vier die lewe! Waarom sukkel ons so?
Waarom sukkel mense dan om ’n mylpaal in hul lewe of in dié van ’n ander behoorlik te vier? Neal dui ’n klompie redes hiervoor aan:
- Jy wil nie iemand anders se vreugde steel nie Dalk dink ons dat die een se brood die ander se dood is. Dat ons suksesse ten koste van ander s’n geskied. Ons sien dit dikwels in families, waar die een familielid doelbewus ’n demper plaas op die viering van haar/sy suksesse aangesien ’n ander familielid ’n moeilike tyd deurmaak. Volgens Neal benadeel so ’n benadering alle partye, want vreug-de lei tot meer vreugde. Jy doen ander mense ’n guns wanneer jy hulle deel maak van die viering van dit wat vir jou kosbaar en belangrik is.
- Jy gun jou nie ’n vreugde-oomblik nie Dr Pieter van Jaarsveld, ’n kenner van emosionele intelligensie en positiewe denke, moedig ons aan om die alledaagse vreugde-momente behoorlik te geniet. Die regte woord hier is “savouring”. Dis ’n begrip wat deur dr Fred Bryant en prof Joseph Verhoff gebruik word om mense te help om by die lewe se genotvolle oomblikke te vertoef, om die belewing daarvan te geniet en dit selfs te probeer verleng. Maar om dit reg te kry, vra dat jy dit wat tot die vreugde-oomblik gelei het, vir eers sal opsyskuif. Dat jy jou onbevange in die oomblik begewe. Baie mense sukkel daarmee. Dalk dink hulle dat as hulle ’n oomblik stil sit en die vrug van hul arbeid geniet, hulle dit sal verloor …
- Jy kan eers feesvier wanneer jou “groot” doelwit bereik is “Moenie die klein dingetjies gering ag nie,” skryf ds Rudi Swanepoel in sy boek Kom sit aan. Volgens hom het hierdie skynbaar minder belangrike dinge die krag om groot indruk te maak, om bakens te word op jou pad na sukses, en om ’n gesonde vreugde-kultuur te kweek. Jy droom dalk oor jou eerste maraton, maar op weg na daardie groot mylpaal moet jy tog nie nalaat om die klein oorwinnings te vier nie. Die viering van die oomblikke waarin jy waarneembaar gegroei en verbeter het, sal jou help om die proses deurlopend te geniet. Dit sal ook help dat jy nie van mylpaal tot mylpaal leef nie, maar “in die oomblik”. Dat jy bewustelik betrokke is by die goeie én die slegte op jou reis na die vervulling van jou droom.
- Jy sien net die negatiewe raak Dis moeilik om die lewe te vier as jy nie die goeie daarin kan raaksien nie. Mense is in die algemeen geneig om eerder ’n fout te bemerk en daaroor te begin tob. Pieter waarsku dat so ’n lewensbeskouing die vreugde uit jou tap. Volgens hom is dit een van die belangrikste lesse wat ’n ouer ’n kind kan leer: om nie op die negatiewe te fokus nie, maar om die positiewe raak te sien en dit te vier.
’n Lewe wat by elke mylpaal, groot of klein, kan vertoef en dit met dankbaarheid vier, is ’n lewe wat beur in die rigting van die positiewe.
Na afloop van ons seuntjie se partytjie staan ons almal om die kombuistafel. Sy hartsmense vat mekaar se hande, buig die hoof. Met my hande op sy skouers bid ek hom ’n geseënde lewensjaar toe. Ek dank die Here vir die vreugde wat hy vir ons almal bring, en ek bid die Here se beskerming af op sy nuwe lewensjaar.
Hy hou nie baie van die kollig nie en ek kan voel hoe hy onder my hande wriemel, maar ek weet dié oomblik vat diep grond in sy hart.