Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

Vierjarige se kalmte tydens krisis: ‘Sussie sal nie doodgaan nie; ek het vir haar gebid’

Frieda en Jan Loots woon op die plaas Eersteling, 100 km van Ellisras (Lephalale) in Limpopo. Die plaas is naby die Groblersbrug-grenspos geleë, met slegs die Limpoporivier tussen Eersteling en Botswana. Jan is die vierde generasie Loots op hierdie wild- en beesplaas. Hul dogter Frieda hou skool en haar man Coeta (Johan) Coetzee boer ook op die plaas.

Omdat die vierde, vyfde en sesde generasie almal op dieselfde plaas woon, en slegs 200 meter van mekaar, het hulle die voorreg om mekaar gereeld te sien. 

‘Hoekom huil Ouma so?’

Frieda vertel van die trauma wat hulle ’n klompie jare gelede moes deurmaak: “Ons middelste kleindogter Monja was vier jaar oud, en ek en sy en Jan is dié dag Ellisras toe. Lerika was in die skool en Janika, toe ses maande oud, het op die plaas by haar ander ouma gebly.

“Onverwags kry ons ’n dringende oproep van die plaas af: ‘Janika gaan dit nie maak nie, ry hospitaal toe en sê ons is op pad met haar!’”

LEES OOK: ‘Klara moes nie geleef het nie! Dít is net genade’

Frieda verduidelik dat Janika onmiddellik nadat sy haar sojamelk gedrink het ’n erge reaksie getoon het. “Sy het begin opgooi. Haar maag het aanhoudend gespoel. Baie gou was sy feitlik heeltemal ontwater.

“Ek, Jan en Monja het ons na ons dorp se hospitaal gehaas en gereël dat die ambulans my dogter Frieda en skoonseun Coeta, met Janika by hulle, langs die pad kry. Maar nog voor die ambulans kon vertrek, het Coeta reeds by die hospitaal aangejaag gekom. Ek het baie groot geskrik toe ek Janika sien. Sy was slap en haar gesiggie was reeds blou.

“Terwyl die dokters met Janika gespook het, het ek en Monja in die wagkamer gaan sit. Ek was histeries, ek het gehuil en gebid. Monja het my ernstig aangekyk en gevra: ‘Hoekom huil Ouma so?’

“Toe ek verduidelik dat Janika dit moontlik nie gaan oorleef nie, het Monja my in die oë gekyk en gesê: ‘Ouma, Janika sal nie doodgaan nie. Ek het vir haar gebid.’”

‘Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee’

Die Ellisras-dokters het gou besluit om Janika per ambulans Pretoria toe te stuur, 280 km verder.

Monja het toe weer gesê: “Ouma, sy sal nie doodgaan nie.”

“En, prys die Here, Janika hét dit gemaak!” vertel Frieda. “Hierdie voorval laat my elke dag opnuut besef hoe groot God se genade is. Vandag praat ek van Janika as ‘my genade-dogtertjie’. Ons hou haar dieet dop, want sy is inderdaad allergies vir soja.”

Monja is nou 12 jaar oud. “Haar geloof is vandag steeds so sterk,” vertel haar ouma. “Sy praat graag oor die Here en sy het die vrymoedigheid om hardop saam met ander mense te bid. Omdat ons op ’n plaas woon, weet sy en haar sussies hoe afhanklik ons van God se genade is vir reën en oeste. Woensdagaande hou Monja ook ’n geestelike byeenkoms via Zoom, waartydens ’n groep jong mense die Here saam aanbid.

“Sy kom ook gou agter as daar fout met iemand anders is, dan bied sy hulp aan.”

Frieda hou daarvan om met die kleinkinders oor die Here te praat. “En oupa Jan is ’n goeie voorbeeld van hoe God se kinders moet leef.

“Godsdiens speel ’n groot rol in die huise op die plaas. Ons plaas se leuse kom uit Filippense 4:13: ‘Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.’ Dit staan ook so by ons hek, en op ons vragmotor wat na die markte toe ry.”

‘Ons glo die Here het geweet …’

Frieda en Jan moes jare gelede ’n groot tragedie te bowe kom toe hul enigste seun, toe pas getroud, gesterf het. Frieda vertel: “DP was 23 toe hy in ’n fratsongeluk hier op die plaas gesterf het. Hy was slegs ses weke getroud. 

“Ons skoonseun Coeta het lank voor DP se dood by ons begin werk. Hy was toe 18 jaar oud. Hy was nog altyd vir ons ’n groot seën, ’n ware geskenk van God. Ons glo die Here het lankal, nog voor DP se geboorte, geweet Hy gaan Coeta oor ons pad stuur. Frieda is ’n onderwyseres by Unitas Laerskool, so 32 km van ons af. Dis ook ons drie kleindogters se skool. Lerika is nou 15 en is in die Hoërskool Pietersburg, 200 km van Eersteling af.

“Die drie kleindogters speel ’n baie groot rol in hierdie ouma se lewe. Lerika was destyds met DP se dood die een wat in werklikheid gesorg het dat ek elke dag opgestaan het, dat ek met my lewe kon voortgaan. Janika is my genade-dogtertjie. En Monja laat my altyd dink aan die vaste geloof van ’n kind.

“Ons dogter Janie, haar man Izak en hul seuntjie Adam, woon in Pretoria. Hulle is net so lief vir die plaas.”

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Geborg
Geborg
Geborg
No data was found

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF
Kyk nou ►