Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide

Voluit vorentoe in Jan Tuisbly se karretjie

Is ’n tuisbly-vakansie vanjaar jul voorland? En dit terwyl al wat leef en beef besig is om hul tasse te pak? Hou goeie moed; julle kan steeds ’n eersteklas-vakansie hê – ja, sommer hier by die huis!

Deur Susan Goosen

Indien julle hierdie jaar se Kersvakansie noodgedwonge moet tuisbly, mag dit vir jou voel asof gereelde verwytende kyke en lang, vervelige dae jou voorland gaan wees.

Nie noodwendig nie! Dalk is daar bloot ’n kopskuif of twee nodig, en ’n klein bietjie kopkrap, en dan kan julle steeds hope pret hê, heerlik uitrus en terselfdertyd die gesinsbande versterk.

 

Beplan!

Net soos ’n vakansie by die see, verg ’n suksesvolle tuisbly-vakansie ook beplanning. En dan juis as almal nie ewe opgewonde oor hierdie vooruitsig is nie. Dit is beslis die moeite werd om oor julle voornemende vakansie te praat. Klaar allereers die redes vir julle tuisblyery uit. Dan weet almal.

Vra julle af: Wat is dit wat julle gewoonlik van ’n weggaan-vakansie geniet? Is dit die nuwe plekke, die buitelug-etes, die laatslaap? Of die feit dat julle maar oë toeknyp wanneer die vloere vuil is en die kinders vir die derde agtereenvolgende dag met hulle swemklere rondloop?

Besluit dan op watter manier julle hierdie prettigheid ook deel van julle tuisbly-vakansie kan maak. Besluit byvoorbeeld om soms in die park of in die tuin piekniek te hou, in die tuin te kampeer en uit papierborde te eet. En om julle klere ’n bietjie langer te dra, sodat julle minder was-en-strykwerk het.

Praat ook oor elkeen se verwagtinge vir dié komende vakansie. Hier teen die einde van die jaar verskil jong kinders, tieners en moeë ouers se behoeftes waarskynlik redelik drasties van mekaar. Is daar ’n manier waarop julle, al is dit net partykeer, aan elkeen se verwagtinge kan voldoen?

Laat elkeen in die gesin iets kies wat hy of sy baie graag tydens hierdie vakansie wil doen, en maak dit deel van julle beplanning.

Lê ’n klompie reëls neer om seker te maak dat julle vakansie nie deur allerhande take opgeslurp word nie. Byvoorbeeld: Belowe mekaar om vir ’n bepaalde tyd julle onderskeie selfone af te skakel, nie e-pos te beantwoord nie en nie agterstallige kantoorwerk te probeer afhandel nie.

Gaan merk julle tuisbly-vakansie se datums op die kalender. Dit sal help voorkom dat julle dae maar soos gewoonlik verloop, en dat allerlei klein jakkalsies  – soos agterstallige werk – uiteindelik julle rustyd kaap.

Spreek nou af op ’n lekker aktiwiteit om die vakansie op ’n hoë noot te laat begin.

 

Voordelig

’n Vakansie tuis kan inderdaad baie voordele inhou. Dink maar aan die volgende: Omdat julle nie so dikwels op die pad is nie en heel moontlik minder tyd in groot openbare ruimtes deurbring, is die kans op ongelukke of siektes soveel minder.

Sonder die uitgebreide familie wat saamkuier, is daar ook minder kanse op familietwiste. En die gesin kry die geleentheid om mekaar weer opnuut te leer waardeer.

Wanneer jy tuis kook en julle self vir die vermaak moet sorg, gee julle baie minder geld uit. En julle eet waarskynlik veel gesonder.

Om gereeld met jong kinders te moet rondrits, beteken dat gereelde en fyn beplanning jou voorland is. En dat duur versnaperings en vaste roetines noodwendig in die slag bly. Nou bly julle tuis, en jou spanningsvlakke is aansienlik laer.

 

Probeer dit:

  • Bak en brou. Die geur van varsgebakte koekies en brood is genoeg om enigeen in ’n vrolike vakansieluim te kry. Maak ’n ritueel van koffie-en-tuisgebak, of nooi vriende oor om dit saam met julle te geniet.
  • Moeg vir julle “gewone” kos? Probeer dan ’n slag iets nuuts. Besluit op ’n Meksikaanse, Italiaanse of Griekse ete, kompleet met bypassende tafelversierings en spyskaarte.
  • Gaan kuier ’n slag by vriende wat julle lanklaas gesien het, of nooi hulle oor. Reik uit na iemand wat geselskap nodig het. Hou dit eenvoudig as dit by julle huis is, byvoorbeeld: Elkeen bring sy gunsteling-gereg, steek mooi kerse aan en speel Kersmusiek.
  • Beplan julle volgende vakansie. Indien julle geldsake dit toelaat, kan julle solank begin fantaseer oor julle volgende vakansiebestemming en wat julle alles sal moet doen om dit ’n werklikheid te laat word. Vra elkeen se mening.
  • Geniet jou huis en tuin. Toets die braaiplek uit wat julle laat bou het, of lees ’n slag ’n boek in daardie sonnige hoekie wat jy met soveel moeite ingerig het.
  • Beplan ’n paar daguitstappies. Kyk na julle omgewing vanuit ’n toeris se oogpunt. Watter museums, parke, natuurtuine en galerye het julle nog nooit besoek nie?
  • Wees kreatief. Beplan ’n lekker vakansieprojek. Maak julle eie geskenkpapier, waag jou hand aan mosaïek, of maak ’n mooi fotoboek.
  • Maak julle omgewing mooi. Stof julle Kersversierings af, laat die kinders ’n paar nuwes maak, en herrangskik ’n klompie meubels in die huis om dit alles weer vrolik en feestelik te laat lyk.
  • Doen iets nuttigs. Dit is dalk nie sóveel pret nie, maar die meeste mense besef alte goed met watter vaart Januarie gewoonlik begin. Kies daarom ’n bepaalde agtermiddag – en dan sorteer julle korrespondensie uit, en pak die medisynekas en die boek- of tydskrifterak reg. Of maak saam ’n lys van alles wat die kinders vir die nuwe skooljaar nodig het. Bederf julleself daarná met ’n luilekker aand.

 

Verveelde kinders?

Maak vroegtydig planne om jong kinders tuis te vermaak. Oorweeg gerus die volgende:

  • Hou ’n skattejag. Gebruik ’n kaart van julle huis of buurt, kaartjies met leidrade en opdragte, en selfs ’n kompas. Steek allerlei lekkergoed, klein geskenkies of ’n nuwe speletjie weg.
  • Maak ’n hindernisbaan in die huis of tuin. Gaan kyk by https://www.care.com/c/stories/3945/7-obstacle-course-ideas-for-kids-of-all-ages/ vir oulike idees.
  • Stuur die kinders uit op ’n ontdekkingstog in julle huis of na die naaste parkie. Laat hulle voorwerpe in sekere kleure en vorms soek; laat hulle plante of bome in ’n joernaal teken; laat hulle blaarafdrukke maak, of blomme tussen waspapier in ’n boek pars.
  • Koop vir elkeen in die gesin ’n blikbeker, en verf die buitekant met swartbordverf. Gebruik dit om vir mekaar boodskappe te skryf.
  • Hou ’n temadag. Kies iets waarvan die kinders hou, byvoorbeeld insekte, dinosourusse of eilande. Soek op die internet na dinge soos kostuums, kunsprojekte, kos-idees, musiek en versierings wat by julle tema pas.
  • Maak julle eie bordspeletjie. Wat van ’n speletjie oor Bybelkarakters? Of een oor Kersfees se geskiedenis, of selfs een oor julle familie? Laat almal dink aan ’n paar vragies wat deel hiervan kan vorm en ontwerp ’n bord daarvoor. Of gebruik sommer een van julle bestaande bordspeletjies en pas dit aan soos wat dit nodig mag wees. Gaan kyk by http://www.activityvillage.co.uk/make-your-own-games vir voorstelle oor bordspeletjies én ander moontlike speletjies.
  • Maak ’n familiekunswerk. Bedek ’n muur met groot velle papier en laat almal iets daarop teken.
  • Gaan vra by julle plaaslike supermark vir leë bokse. Laat die kinders huise of robotte maak. Hieroor is daar hope oulike idees by https://www.buzzfeed.com/mikespohr/31-things-you-can-make-with-a-cardboard-box beskikbaar.
  • Indien een van die ouers moet werk, kan dit ’n goeie geleentheid wees om daardie ouer by die werk te besoek. Spreek ’n goeie tyd af en laat die kinders iets vir Pa of Ma se kantoor maak. Wat van ’n familiefoto in ’n tuisgemaakte raam, of ’n geverfde klip as papierhouer?
  • Laat die kinders allerlei modelle bou met jellietots en tandestokkies.

 

 

 

http://www.savingadvice.com/articles/2013/01/04/1013284_11-benefits-of-staying-home.html

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.