DEUR SIMONE GAUCHE
Die klein voetjies kadoef! kadoef! kadoef! op ons houtvloer. Dit lag, dit gil en dit jil. Ouboet oefen sy wawiele op die mat, hy het ’n láng aanloop, dis net arms en bene.
My jongste lag sonder om asem te skep. Hy probeer kamma ook met die wawiele, maar val reeds voordat daar iets gebeur. Hy lê soos hy lag. Die twee kinders klink soos tien …
My eerste gevoel is om die hele besigheid stop te sit; ek weet uit ondervinding iemand gaan nou-nou seerkry. Ons sê mos: “Van lekker lag kom lekker huil.” Die Engelse beaam dit: “Alles is pret en speletjies … totdat iemand ’n oog verloor.”
Net voordat ek die speletjie onderbreek, hoor ek die Here se stem. “Moenie dat vrees jou vreugde steel nie.”
LEES OOK: Vervang jou nuwejaarsvoornemens met een woord
Net daardie een sinnetjie.
En hier bly staan ek in die oop deur en kyk na die onelegante wawiele en ek dink ’n tweede keer en besef: Kinders het die vermoë om heelhartig te speel en die lewe vreesloos te geniet. Hulle sal ongeveer alles probeer – en op dié manier leer. Dis in daardie oomblikke van waag en eksperimenteer dat hulle leer. Ons almal het dit gedoen. Só word ons wys, ons bou verhoudings, ons ervaar uitbundige vreugde.
En terwyl ek hulle so staan en kyk, moet ek toegee: Selfs die wawiele begin gaandeweg beter lyk.
Nie so gebore nie
Ons word nie gebore met die vrees vir seerkry nie. Maar wanneer seerkry-dinge gebeur, leer ons om mure om ons te bou wat ons beskerm. Dié beskermingsmeganisme kom in vele gedaantes en dien vir seker sy doel, maar dit verhoed ook dat ons die huidige oomblik bloot geniet.
Ons draai later by voorbaat die brieke aan en vergeet om teenwoordig te wees en te ervaar. Ons dink slegs aan al die dinge wat moontlik verkeerd kan loop. Ons lewe as ’t ware in die toekoms.
Ek besef dat mý vrese my kinders dalk van ervaring ontneem. Hulle begin dan die wêreld deur my oë sien en hulle leer my vrese aan. Onlangs luister ek hoe my oudste sy boetie vermaan toe dié iets waaghalsigs doen: “Nee, jy moenie dit doen nie. Jy gaan seerkry!”
Seerkry is deel van die lewe. Ons kan nie voorspel wanneer dit gaan gebeur nie en ons weet ook nie wie dit is wat ons gaan seermaak nie. Maar seerkry sal ons seerkry . . .
Is dit die moeite werd?
My diepe nadenke daar in die oop deur het nie te lank geduur nie, toe gebeur wat ek geweet het sal gebeur. En ek bevind my kruisbeen op die houtvloer en hou my snikkende seuntjie vas. Hy het ’n vlieënde hak teen die ken gekry en hy huil sy hart uit.
Gelukkig is daar niks wat ’n mamma nie kan beter soen nie. Die huilery duur enkele minute, en toe is alles verby. Dis die ou, bekende patroon: ’n halfuur se lekker lag wat in vyf minute se lekker huil eindig.
Is dit die moeite werd? vra ek myself.
Ek dink so. Eerder ’n lewe vol uitbundige vreugde én seerkry, ’n lewe vol nuwe ervarings en volop lesse, as ’n lewe waarin jy te bang is om enigiets te waag of selfs aan te pak.
Ja, ons weet: Van lekker lag, kom lekker huil – maar wie wil nou ’n lewe sonder lag hê?
Hier is my wens vir jou in 2022: Geniet die wawiele!
Vandeesweek vind ek krag in Jesaja: “Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou” (Jes 41:10).
- Simone Gaucheis ’n mamma en ’n eggenote. Sy is ’n mediese dokter wat in die staatshospitaal op Mosselbaai werk.