Stap vir stap. Een happie op ’n slag. Dag ná dag…
Dit is die enigste manier waarop hierdie olifant geëet kan word. LiG het in samewerking met ’n klompie kundiges, motiveringspesialiste en sommer net mense met ’n positiewe lewenshouding ’n “vreugdekalender” saamgestel wat jou sal help om ’n nuwe tyd tegemoet te gaan terwyl jy dalk steeds swaar dra aan alles wat die afgelope jaar op jou gelaai is.
1 Kom aan die gang! Doen net iets! Niks gebeur vanself nie – behalwe oud word. As jy dalk êrens op ’n hopie sit en wag dat iets of iemand jou pad moet kruis, sal jy lánk wag. Niemand gaan die TV afskakel, aan ’n verhouding werk of namens jou tekkies aantrek om fiks te word nie. Vra jou af: Hoe kan ek myself aanspoor om die eerste tree te gee?
2 Probleme kom in twee kategorieë: tydelik en permanent. Laasgenoemde soort is buite jou beheer. Al wat jy daaraan kan doen, is om jou eie reaksie en ingesteldheid te bestuur. Aan tydelike probleme – soos jou gewig of probleme by die werk – kan jy wel iets doen deur die keuses wat jy maak. Fokus daarop. Maak ’n lys van al jou klagtes en vra jou af in watter kategorie elke probleem val.
3 Beplan jou vroegoggendse opstaan reeds die vorige aand. Jy sal verbaas wees om te sien wat jy alles kan vermag as jy jou oggende opeis, of dit nou vir stiltetyd of ’n vinnige stappie om die blok is.
– Lynette Beer, lewensverrykingspesialis
4 Ek het hierdie jaar opnuut besef my behoud en sekuriteit lê in my verhouding met my hemelse Vader. Die Amplified Bible vertaal Hebreërs 13:5 só: “For God Himself said, I will not in any way fail you nor leave you without support. I will not, I will not, I will not in any degree leave you helpless nor forsake nor let you down nor relax my hold on you, assuredly not.”
Hier is nog ’n aanhaling wat my inspireer: “Man proves his greatness when he looks for things to be thankful for when life seems hard.” Ek dink dít is die geheim om jou vreugde terug te kry. ’n Glimlag op my gesig, hoop in my hart, en geloof in die Here – én in myself, omdat Hy my die krag gee. Dan kan jy enigiets vermag.
– Sonja Herholdt, sangeres
5 Die meeste mense verloor perspektief in krisistye. Hulle vergeet die “groter prentjie” en word deur onmiddellike krisisse en kleinlikhede verswelg. Wanneer jy verder as jou huidige omstandighede kan kyk, sal jy die groenigheid ánderkant die berg raaksien, en weet die wiel sal weer draai.
6Pasop na wie jy luister! Jou ore is nie asblikke nie. Ons leer in die Bybel dat ons geloof gebou word deur wat ons hoor. Net so word vrees aangeblaas wanneer ons gedurig na bangmaakstories en negatiewe boodskappe luister. Ons het volledige beheer oor na wie ons kies om te luister.
7 Die Spreukedigter sê: “Dood en lewe is in die mag van die tong” (Spr 18:21 – 1933/1953-vertaling). Hier is twee sulke (negatiewe) voorbeelde: “Ek gaan dit nie maak nie. Die ekonomie sal nooit weer herstel nie.”
Hou op met hierdie negatiewe gedagtes en praatjies; dink en sê eerder positiewe dinge, soos: “Ek weier om te vrees. Ek weet die Here is met my. Die wiel sal weer draai. Ek fokus nie op die storm nie, maar op die geleenthede binne die storm.”
8 Maak tyd vir dinge wat jy geniet en wat jou opbou, daardie dinge wat jou spreekwoordelike tenk weer vul. Beoefen jou stokperdjies, beywer jou vir dit wat jou hart vinniger laat klop. Geniet die Bybel!
9 Sonder ’n droom en ’n visie sterf ’n mens. Hou aan leer, hou aan groei. Ontdek nuwe dinge. Leer nuwe vaardighede aan.
10 Wanneer jy troos nodig het, gaan soek iemand wat hartseer is en begin om daardie persoon te vertroos en te bemoedig. As jy eensaam is, maak kontak met ’n mens wat eensamer as jy is.
– Pastoor Hansie Smit, Kimberley
11 Kalmeer! Baie mense het die afgelope jaar erge finansiële stres ervaar. Baie vra: Sal ek ná die Covid-19-pandemie genoeg geld hê om mee af te tree? Ander is weer angstig oor hul huidige skuldsituasie. Dit help nie om paniekerig oor jou omstandighede te raak nie.
12 Maak ’n plan. Aanstaande jaar gaan ’n nuwe plan en strategie verg. Jou plan hoef nie perfek te wees nie; dis eenvoudig ’n nuwe vertrekpunt in ’n nuwe rigting.
13 Doen dit! Baie drome het al op die ashoop beland omdat dit bloot ’n droom gebly het. Aksie is dié kritieke komponent as jy suksesvol wil wees. Dit verg egter dissipline en baie aandag. Aanstaande jaar gaan vol uitdagings wees. Begin deur minder te bestee as wat jy verdien.
– Madeleen van den Berg, besturende direkteur by Attooh Finansiële Dienste
Lees ook Vrou bak koekies om haar man te red
14 Ek het vanjaar besef dat my omstandighede my nie definieer nie. Ek moes iets nuuts skep. Baie kunstenaars het die afgelope paar maande finansieel gesukkel, maar ek het die afgelope jaar geleer dat ’n mens veelsydig is en op meer as een manier ’n inkomste kan verdien. E-konserte het ons bedryf verander en ek kon vanjaar selfs ’n CD opneem.
– Mathys Roets, sanger
15 Bring jou tyd saam met die regte mense deur. Dit is diegene wat vir jou lief is, wat jou waardeer en jou bemoedig.
16 Kyk jou probleme vierkantig in die oë. Onthou dis nie jou probleme wat jou definieer nie, maar hoe jy daarop reageer. Probleme gaan slegs
die aftog blaas wanneer jy iets daaraan doen.
17 Leef in “die hier en nou”. Vandag is al wat jy het. Hou op dink aan hoe goed of sleg die toekoms mag wees. Daar is ’n gesegde wat lui: “As jy vrede in jouself wil hê, moet jy twee diere skiet – die ou koei in die sloot en die bobbejaan agter die bult.”
18 Geniet die dinge wat jy reeds het. Die groot fout wat baie van ons maak, is om te dink ons gaan beter voel wanneer ons omstandighede verander. Hierdie houding voed egter net ’n bose kringloop. Uiteindelik word dit ’n gejaag na iets wat altyd net-net buite ons bereik is.
19 Gee nuwe mense wat jy ontmoet ’n kans. Met verloop van tyd verander mense en prioriteite. Sommige vriendskappe vervaag en ander groei. Wees gereed vir uitdagings en, wie weet, dalk ontmoet jy iemand wat jou lewe kan verander.
20 Vier ander se oorwinnings. Om waardering vir ander mense te toon, sal jou na ’n beter, meer produktiewe en vervullende plek neem.
21 Gee aandag aan jou stresvlak en geniet kort-kort ’n blaaskans. Haal asem. Doen wat jy doen effens stadiger. Gee jouself toestemming om te rus, om te “hergroepeer”. Beweeg dan doelgerig vorentoe.
22 Sien die mooi in die klein gebare en oomblikkies. Vind vreugde in ’n lekker vroegoggendse koppie koffie, die wonderlike geur van tuisgebak, die gefluit van ’n voël. Ons fokus só dikwels op negatiewe dinge dat wanneer daar wel iets positiefs gebeur, ons min of selfs geen aandag daaraan gee nie.
23 Aanvaar dinge selfs wanneer hulle nie perfek is nie. Dis beter om die wêreld, sy mense en sy situasies te aanvaar soos dit is, eerder as om die onmoontlike van jouself en ander te verwag.
24 Fokus op die dinge wat jy kán beheer, anders mors jy jou tyd. En dit lei tot frustrasie.
25 Begin om op die moontlikheid van positiewe gevolge te fokus. Jy moet glo jy kán, voordat dit moontlik is om dit te doen. Lê jou toe op opbouende en positiewe gedagtes eerder as afbrekende, negatiewe gedagtes.
26 Besef hoe goed jy nóú daaraan toe is. Henry David Thoreau het gesê: “Wealth is the ability to fully experience life.” Selfs al lyk die lewe tans donker, is dit belangrik om dinge in perspektief te sien. Dit wat jy nou het, is jou rykdom. Wees dankbaar daarvoor.
– Irene Haasbroek, ’n multidissiplinêre praktisyn in Kimberley
27 Net die Woord kan jou deur storms dra. Die afgelope jaar was rof, en ons weet nie wat die toekoms inhou nie. Maar dié feit bly: God weet alles. Covid-19 het Hom nie onkant betrap nie. Hou op om jou ore vir die wêreld uit te leen en maak jou hart oop vir die enigste Waarheid.
– Aletté-Johanni Winckler, stilis
28 Bou voort op die gehaltetyd wat julle as gesin tydens die grendeltyd gehad het. Een van die positiewe dinge wat ons vanjaar beleef het, was die feit dat ons kinders (en ons troeteldiere!) gefloreer het te midde van al die aandag en sorg wat hulle geniet het.
29 Waardeer opnuut die waarheid dat ons met baie minder oor die weg kan kom as wat ons dink.
30 Erken aan jouself hoe lekker dit is om weer in ’n geordende huis te bly, ’n ruimte waar alles weer op hul plek is. Waar allerlei ou dingetjies wat jare lank nie aandag gekry het nie, ewe skielik weer reg is – en dit voor die einde van die jaar! Dink só daaraan: Die hele wêreld het maande lank ’n rusfase beleef. Miskien was dit net wat die wêreld nodig gehad het.
– Ds Christo de Witt van Plooysburg