Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Vrou se genade-dekade ná grusame aanval: ‘Ek het my vrese vir God gegee’

Joey Kruger is in Januarie 2014, op ’n doodgewone Sondagaand, tuis oorval nadat sy haar seun by sy huis afgelaai het. Sy het skaars haar selfoon en sleutels neergesit, toe ’n man in sy dertigs, wat later as Paul Strydom geïdentifiseer is, op haar afgestorm het.

“Ek onthou nog dit was skemer, ek het net een liggie in die woonstel laat brand. Die man was skielik voor my, en ek kon sy intense haat aanvoel voordat hy die eerste hou geslaan het. ‘Vanaand maak ek jou dood!’ het hy geskree. Met die tweede hou het ek besef ek is in groot moeilikheid.”

LEES OOK: ‘Die goue vuurwerke wat God vir my gewys het was smeekgebede vir my lewe,’ vertel man ná aanval

‘God se kalmte het my toegevou’

Instinktief het Joey besef sy moet so lank moontlik probeer om op haar voete te bly. As sy gaan lê, sou hy haar doodmaak. Sy het hom gesmeek om op te hou, maar hy het verwoed bly slaan.

Sy onthou dat sy om hulp geroep het, terwyl sy gebid het dat die nagmerrie moet eindig. Uiteindelik het sy op die grond beland, en terwyl sy in ’n plas bloed lê, het God se kalmte haar toegevou.

Joey sê sy weet nie waarom hy opgehou het nie. Moontlik het hy iets gehoor wat sy aandag afgetrek het, maar hy het doodluiters uit haar woonstel geloop. Sy het probeer orent kom en na haar bril gesoek. Sy het geweet sy moes hulp kry.

Die eienaar van die huis waarin sy gewoon het, was gelukkig tuis en daar het gou hulp opgedaag. Sy het vaagweg gehoor hoe iemand sê: “Help haar, sy het seer, maak haar rustig.”

Deur die pynnewels heen het sy besef dat God by haar is. Saam met die engele wat Hy gestuur het om haar te kom help.

‘Die pad na herstel was pynlik lank’

Die pad na herstel was nie maklik nie. Joey se wonde was ernstig en sy kon sewe maande lank nie werk nie. Haar linkerelmboog was feitlik vergruis. Die dokters het trouens gevrees dat sy haar arm sou verloor.

Haar een oog is ook ernstig beseer en sy moes ’n klompie operasies ondergaan. “Die pad na herstel was pynlik lank. Aanvanklik was dit moeilik om te fokus, en ek onthou hoe mense soos gedaantes om my gekom en gegaan het.”

Sy is uiteindelik ontslaan, maar besoek steeds elke ses maande die ooginstituut vir ’n ondersoek.

Sy het die gebruik van haar linkerarm herwin, hoewel dit steeds nie so beweeglik soos haar regterarm is nie.

Hofsake en tronksake

Paul Strydom is daardie einste nag in hegtenis geneem. In ’n kleinerige plek soos Bethal, ’n landboudorpie in die suidweste van Mpumalanga, ken almal mekaar. Die gemeenskap het saamgestaan, man en muis, en hy is gou aangekeer.

Die saak het sy verloop geneem, en ná maande is hy uiteindelik tot agt jaar gevangenisstraf gevonnis, waarvan hy vier jaar uitgedien het.

Joey het destyds sy paroolaansoek bygewoon. Dit was traumaties, vir haar en haar drie kinders, Ruan, Ryno en Mandie. Veral die feit dat Strydom geen berou getoon het nie, was vir haar bitter erg. Hy het volgehou dat hy haar nie aangerand het nie.

Vanweë die oorvol tronke het president Ramaphosa tydens die Covid-19-pandemie ’n aantal misdadigers vrygelaat. Strydom was een van hulle. Sy paroolvoorwaardes is baie streng, en daar is boonop ’n interdik van krag dat hy nie naby Joey mag kom nie.

Doodbang om alleen te wees

Joey vertel hoe paranoïes sy net ná die voorval was. Doodbang om alleen te wees. Dié komplikasie het groot aanpassings geverg omdat sy van nature ’n baie onafhanklike mens is.

Sy was daaraan gewoond om saans laat tuis te kom nadat hulle voorraadopnames by die werk gedoen het. Sy vertel: “Ek is alleenlopend en glad nie ’n bang mens nie, maar ná die aanval het ek gesukkel om vyf minute lank alleen te wees. Ek kon nie op my eentjie dorp toe gaan nie; een van my kinders moes deurentyd saam met my wees.

“Mandie het die eerste drie weke ná die aanval by my in die bed geslaap. Dit was vir haar ook moeilik om my te los en terug te gaan universiteit toe.

“Stadig maar seker het ons almal egter weer met ons lewe voortgegaan.”

Joey wou nie in die woonstel aanbly nie. Die herinneringe aan daardie aand was te grusaam.

In geloof het sy Pretoria toe verhuis om naby haar familie te wees. Sy het gou blyplek gekry, én ’n werk, voordat sy haar laaste inbetaling van die werkloosheidsversekeringsfonds ontvang het. Deesdae bestuur sy ’n salon wat professionele haarprodukte verkoop.

‘Het ek hom vergewe?’

“Nie dadelik nie, maar ja, ek het. Dit was ’n lang pad om te loop. Ek het soveel vrese gehad. Ek was bang dat ek my arm of my oog sou verloor.  Ek was bang vir enige jong man. As ek een gesien het, het ek gevries.”

Sy vertel hoe sy met Strydom se paroolaansoek besef het dat die Here se genade vir almal beskikbaar is. “Maar jy moet jou daarvoor oopstel. Ek moes hom vergewe, want ek wil hê God moet mý vergewe as ek iemand te na kom.

“Ek kan tog nie van die Here verwag om my te vergewe as ek nie bereid is om ander mense te vergewe nie. Al is dit hoe swaar.”

Sy sê sy dink dikwels terug aan daardie voorval en wonder of sy nie iets kon doen om dit te keer nie. Maar telkens moet sy erken dat dit haar heeltemal onverhoeds betrap het.

“Ek onthou wel dat Mandie daardie oggend traag was om terug te gaan universiteit toe. Sy wou my glad nie los nie. Dalk het sy ’n voorgevoel gehad – wie sal weet?”

‘Het ek raad vir ander slagoffers?’

“Praat, praat, praat. Vertel jou storie oor en oor.

“Maar vertel ook van God se groot genade, wat gesorg het dat jy is waar jy vandag is. Die feit dat jy oorleef het, is slegs genade.”

Joey sê dat die herhaalde oorvertel van jou storie jou help om jou gevoelens te verwerk. En as jy nie kan of wil praat nie, begin dan skryf. Dit hoef nie sin te maak nie; skryf bloot neer hoe jy voel.

“Moenie toelaat dat iemand jou vreugde steel nie. Die lewe is nie net vol slegte mense nie; daar is ook engele wat oor jou pad gestuur word.”

En as die vrese haar weer bekruip?

“Dan gee ek dit vir die Here. Ek is steeds versigtig, maar ek is nie meer bang nie. Baie mense moes dit vir my sê voordat ek dit regtig geglo het, maar as jy op die Here vertrou, hoef jy nie bang te wees nie.”

Vertrou op Hom, sê sy, en dank Hom vir jou ondersteuningstelsel. Mense is gewillig om te help, jy moet bloot bereid wees om hulp te aanvaar.

“Die hele Bethal-gemeenskap het ’n liefde- en beskemingskordon om my getrek. Dit was ’n buitengewone belewenis.

“Ek het ook geleer dat tyd werklik wonde genees, al is daar nog hier en daar letsels van daardie grusame aand.”

Joey het haar spoke getrotseer – en nou is hulle waar hulle hoort: in die verlede. “Daar het sóveel dinge deur my kop gegaan … Ek is nou eers, ná tien jaar, genees.

“Ja, dis nou ’n dekade later, ’n genade-dekade.”

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF