Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Vrou verloor man en seun binne twee jaar aan kanker: ‘God het my gedra’

Binne twee jaar het sy haar man en toe haar oudste seun aan kanker verloor. Dit was ’n buitengewoon uitdagende tyd. “Tog het ek telkens ’n groot stuk vrede ervaar. Want God het my die hele ent pad gedra.”

Só sê Riëtte Steenkamp (72) van Montagu oor die swaarkry waardeur sy die afgelope klompie jare haar pad moes vind.

“Ek was nooit kwaad vir die Here nie en het nooit aan sy goedheid getwyfel nie. Sy genade is onbeskryflik groot. En nege maande gelede, totaal onverwags, seën Hy my boonop met die grootste geskenk ooit.”

‘Hy het my vlerke gegee’

Riëtte het as jong student proefonderwys gegee toe sy vir Pieter ontmoet het. Hulle het onmiddellik geweet dat hulle vir mekaar bestem is.

“Ons was sielsgenote. Ons gees was een,” sê Riëtte.

“Pieter, ’n belastingspesialis, het ’n besonderse teenwoordigheid uitgestraal. Hy was kalm, regverdig, standvastig en het my altyd eerste gestel. Hy het my vlerke gegee en my aangemoedig met alles wat ek wou aanpak. Onder meer die drie handwerkboeke wat ek geskryf en uitgegee het, en die wêreldwye kunskompetisie waarvoor hy my ingeskryf het en waar ek toe een van die 12 wenners was.”

Maar vroeg in Januarie 2022 is Pieter met fase 4-longkanker gediagnoseer. “Ons het saam gebid en besluit om hom nie te laat opereer nie,” vertel Riëtte. “Ons het absolute vrede gehad en geweet ons is in die Here se hande. Ek was deurentyd aan Pieter se sy en het hom tuis versorg.

LEES OOK: Sendeling oor dogter se maagkanker: ‘God sal deur haar getuienis verheerlik word’

“Hy het geen pyn ervaar nie en het ook nie ekstra suurstof nodig gehad nie. Hy het net ál kleiner geword.

“Ek het elke aand vir ons gelees en gebid. Daarna het ons hartsake gesels. Ek het hom vasgehou toe hy stilweg gesterf het, iewers in Januarie 2023. Ek het ’n groot stuk vrede ervaar. Ons was 48 jaar lank dolgelukkig getroud.”

Intussen is hul jongste seun Rian in September 2022 met testikulêre kanker gediagnoseer. Hy is later geopereer en is vandag heeltemal gesond.

’n Volgende golf

Daar was ’n groot leemte in haar hart en haar huis, maar Riëtte moes eenvoudig vorentoe beur.

Toe het ’n volgende golf oor haar gebreek: In Oktober 2023 is haar oudste seun Len (48) met fase 4-lewerkanker gediagnoseer.

Len was ’n dosent in Rekeningkunde aan die Universiteit Stellenbosch toe sy pa siek geword het. Daarna het hy die belastingsake in Pieter se onderneming behartig.

“Toe ons hierdie slegte nuus kry, het ek net gebid dat die Here se wil sal geskied. En ek het dieselfde vrede gekry wat ek tydens Pieter se kanker-reis ervaar het. Dit was blote genade. Want dis baie swaar om jou kind so te sien agteruitgaan, al het hy aanvanklik so hard teen die siekte baklei.

“Len was ’n sagmoedige reus met ’n groot persona. ’n Omgee-mens met ’n hart van goud en die gesin se steunpilaar. Ons het ’n baie hegte verhouding gehad, ons was telepaties met mekaar verbind.”

Die man met die sjokolade

In daardie swaar tyd het Riëtte se bure aan haar gesê dat hulle blyplek soek vir ’n vriend. Net vir so drie-en-’n-half maande, vanaf Januarie 2024.

Riëtte vertel: “Sonder om te weet wie die man is, het ek my een huis in die dorp aangebied. Ek het intussen ’n huis in Stellenbosch gekoop, in dieselfde kompleks waar Len en sy gesin gewoon het, sodat ek nader aan hom kon wees. Ek het hom elke dag na sy chemoterapie-sessies geneem en deurentyd by hom gesit.”

Nadat sy terug was in Montagu, het die man vir wie sy blyplek aangebied het haar met sjokolade kom bedank. “Toe eers het ek besef dis Japie Cilliers, ’n ou kennis, ’n afgetrede rekenmeester en al agt jaar lank ’n wewenaar. Ons het mekaar lank gelede leer ken toe ons gesin saam met syne by Jongensfontein uitgekamp het.

“Ek het die man met die sjokolade ingenooi en ons het heerlik gesels. Daar was soveel raakpunte en gedeelde herinnerings. Japie was toe op pad om te gaan vakansie hou.

“’n Week daarna was ek emosioneel gedreineer. En ek het my by die privaat psigiatrie-kliniek Optima RustenVrede net buite Stellenbosch laat opneem.

“In my motor op pad daarheen het ek vir die Here gesê: ‘Neem U asseblief die stuurwiel uit my hande, want ek kan nie vandag self in Stellenbosch kom nie.’

“Ek het in een stuk by Optima aangekom, waar ek met ope arms ontvang is.”

’n Hand om vas te hou

“Terwyl ek daar was, het ek die huis verkoop waarin Japie tydelik gebly het. En net daar in Optima het ek besluit dat Japie, wanneer hy van sy vakansie af terugkeer, in Stellenbosch in die woonstel by my huis kan tuisgaan totdat hy blyplek kry in die tehuis vir bejaardes waar hy aansoek gedoen het.”

Riëtte het dit aan Japie voorgestel. Sy het bygevoeg dat hy moet kos maak en haar hand tydens die tafelgebed moet vashou. En dat sy saam met hom wil krieket kyk.

Hy het daartoe ingestem en gesê hulle kan die finansiële sy van die ooreenkoms later bespreek.

Riëtte sê: “Ek het nie aan Japie as ’n moontlike lewensmaat gedink nie; bloot as iemand wat met my sal gesels.

“Maar toe Japie verlede jaar Juniemaand na my toe aangestap gekom het, het die Here oorgeneem. Dit was asof ek buite my liggaam was en na die toneel gekyk het wat voor my afspeel. Ek het Japie tegemoet gestap en hom styf teen my vasgedruk.

“En ek kon nie glo wat ek toe beleef het nie: Dit was presies dieselfde gevoel as wat ek met Pieter ervaar het wanneer ek hom so omhels het. Daardie belewenis dat ons gees een word. En Japie het presies dieselfde gevoel.

“Ons kon nie ophou gesels nie; dit het net gewérk! Hy het kos gemaak en ons het saam krieket gekyk. Teen die vyfde dag was ons heel gemaklik met mekaar. En toe Japie begin praat van die dag as ons getroud is, het dit net reg gevoel.    

“Japie is ’n beplanner. ’n Baie sagte, eerbare, kosbare, liefdevolle, omgee-mens. Iemand wat vir ontspanning die skottelgoed was, die wasmasjien laai, die wasgoed ophang.”

‘Ma, dis nou tyd’

Japie het Riëtte ondersteun terwyl sy saam met Len deur sy siekte geworstel het. Sy vertel: “Len het Japie baie goed geken ná die destydse Jongensfontein-vakansies. Op ’n dag het Len net gesê: ‘Ma, ek kan nou gaan, want Ma is versorg.’

“Hy het sy seën aan ons gegee en kon hom van my losmaak.

“Ek het nog ’n kosbare laaste stemboodskap waar hy van my afskeid neem en sê: ‘Daar is nie meer woorde nie, Ma. Dis nou tyd.’”

Len is in September 2024 oorlede, met sy broer en sy sussie wat sy hand vashou. Sy ma sê: “Deur sy siekte het hy my ander kinders soveel nader aan mekaar gebring.

“Maar ’n ouer is nie gemaak om ’n kind te verloor nie. Dit was te gou. Tog aanvaar ek dat dit die Here se wil is. Len is nou op ’n beter plek.”

‘Ons twee gryp elke dag aan’

Japie en Riëtte is ’n maand ná Len se dood, op 26 Oktober 2024, in Montagu getroud. 

Sy vertel: “Ek is verstom en dankbaar oor Japie in my lewe. Hy is ’n geskenk van God. Ons is só gelukkig saam.

“Ek moes al die seer en swaarkry deurmaak … en hier seën God my met Japie! Daarom gaan ons elke oggend en elke aand saam op ons knieë om God te dank vir al die genade en seëninge wat ons so mildelik uit sy hand ontvang.

“Ja, ek is die Here innig dankbaar. Ons twee gryp elke dag aan, ons leef vorentoe, en maak die beste van wat ons ontvang.

* Riëtte het ’n ruk gelede aan LiG vertel hoe sy genees is nadat sy as kind etlike jare lank sporadies deur haar pa se vriend verkrag is.

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Projek 108

Ons wil ‘n dringende beroep op medegelowiges doen om ons te help om die Evangelie te versprei – voordat dit te laat is. Jou donasie kan iemand se storie herskryf – nou en hierna…

Hulle Wag

Ons kan die rede wees dat iemand vir die eerste keer vir Jesus leer ken…

Kinderpret-leesreeks

Beleef ‘n avontuurlike leesreis met ons Kinderpret-leesreeks! Vir jong lesers, elke boekie vol pret en leersame avonture…

Kinders van die Lig

Gee geloof en hoop aan kinders deur geloofsboeke in kinders se hande te plaas…

Laat ‘n Ligspoor

Help ons om die boodskap van lig uit te dra en verander kinders se lewens deur die krag van stories…

BybelBouBlokke

Bou saam aan ‘n geestelike toekoms deur die geloof van kinders, gesinne, en lidmate te versterk…

KinderKersKous

Gee ’n geskenk van hoop aan kinders deur hulle lees-met-begrip-vermoë te bevorder en hul geestelike ontwikkeling te ondersteun…

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF