Eers sterf my mamma in 2013 aan kanker. Ek het soveel vrae: Waarom, Here? Ons het dan alles probeer … Sy was so ’n goeie ma en vrou en ouma.
My geloof is swak en ek twyfel aan die Here se genade. Nee, nie aan Hom nie, maar aan sy genade en liefde vir ons.
LEES OOK: ‘Sien jou later, Poppie …’
Op 18 April 2017, op sy suster se verjaardag, verloor ons ons seun Wiebke (24) in ’n fratsongeluk met ’n motorfiets. Ons lewe word tot in sy fondamente geskud. Wiebke het die vorige jaar ’n BCompt-graad behaal en goed presteer. Hy was besig met BCom (Regte) en het net gewag dat sy sussie Lienke haar onderwysgraad voltooi sodat hulle saam oorsee kon gaan.
Lienke was verlore sonder haar broer. Op ’n dag sê sy vir my dat hy haar by die sypaadjie gaan kom haal.
Net eers ’n bietjie agtergrond: Ons almal het aan ’n motorfietsklub behoort; dit was ons en die kinders se stokperdjie. Hulle het met motorfietse grootgeword en al die gevare geken.
Iewers in Oktober 2017, tweeuur daardie nag, lui ons foon. Ons kry die nuus dat Lienke nie meer met ons is nie. Ons jaag na die ongelukstoneel. Ons sien die bikers, hoe hulle koponderstebo staan.
Ek het langs die sypaadjie neergesak met my dogter se gebreekte lyf op my knieë. En ek het meteens geweet waarom die Here my moeder so vroeg kom haal het. Oumie is dié hartseer gespaar.
Ons, ek en my man, word deur al hierdie gebeure sterker in ons huwelik. En al bly die vrae, begin God se plan vir ons sin maak.
In Januarie 2021 word my man Nandes (59) met Covid-19 in die hospitaal opgeneem. Ek smeek God dat hy asseblief gesond uit die hospitaal sal kom. My gebed word verhoor en Nandes kom uit die hospitaal – maar aan Jesus se sy. Ek is heeltemal verpletter.
Die vrae maal deur my kop, ook die verwyte, die hoekoms, die waaroms. Ek verloor nooit my geloof of liefde vir my Verlosser nie, maar ek verwyt Hom en ek baklei met Hom.
In 2023 vind ek vrede op ’n plaas in die Vrystaat. Ek is alleen met my hondekinders. Die vrae is nog daar, maar ek weet nou met sekerheid dat my twee kinders en my man en my mamma soveel beter daaraan toe is. Nee, hulle rus nie in vrede nie, hulle lewe in vrede by God se voete.
Hulle is al die hartseer van die aardse lewe gespaar, en dit maak my hart stil. Ek bid dat ek eendag saam met hulle in die Koning se huis kan gaan woon.
* Carin Pretorius (59) is ’n Afrikaansonderwyser wat op ’n plaas naby Virginia in die Vrystaat woon. Sy het onlangs daarheen verhuis. Tans werk sy nie, maar sy sal graag weer wil skoolhou. Sy sê die kinders by die skool hou haar voete op die grond. Sy lewe nou vir haar viervoetkinders en haar papegaai Popeye. Sy maak tuin en versamel engeltjies. Sy behoort aan die Bikers-kerk in Welkom.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.