Twee vroue se verlies het hulle bymekaar gebring. En omdat albei nou hulle kinders “vir twee” moet liefhê, het dié weduwees van Pretoria besluit om hoop te kies.
Ilse Meiring se man Deon het in 2019 ’n einde aan sy lewe gemaak en in 2020 het Christia Uys se man Jaco ook die onverklaarbare besluit geneem. Albei vroue het twee dogters, en beide gesinne se wêrelde was meteens verpletter.
Ilse, ’n persoonlike assistent van Centurion, het in 2023 haar diep seer só in ’n #liggetuienis beskryf: “Hartseer het ’n krag waarvan jy nooit bewus is nie – totdat dit jou tref. Dit stroop jou kaal en dit laat jou alles bevraagteken. Die verlies aan ’n huweliksmaat tref diep: Jy verloor jouself, jou identiteit. Jy verloor ’n toekoms waaraan jy geglo het. Jy verloor die liefde van die mens wat jou geken het, die een wat jou verstaan het soos geen ander nie. Ná jare se saam groei en saam gevorm word, moet jy eensklaps weer leer om asem te haal … op jou eentjie. Die hartseer maak jou byna dood, dit is pynlik, en jy sal enigiets doen om daarvan ontslae te raak.”
Christia, ’n opleidingbestuurder, het vertel dat die seer nooit weggaan nie: “Dis soos ’n gat in jou wat dreig om jou in te sluk. Maar op ’n dag besef jy dat jy moet kies wat jy met die seer en die hartseer wil maak. Jy kan kies om daarin verlore te raak; dit sou die maklikste wees. Of om jou oor te gee aan ’n lewe vol skuldgevoelens en nimmereindigende hartseer. Maar wat dan?”
Christia en Ilse het mekaar op ’n Amerikaanse Facebookgroep genaamd “The Brave Ladies Club” ontmoet. Dié groep is vir vroue wat hulle mans aan selfdood afgestaan het.
“Baie stadig, met die hulp van die Here, en met die wete dat jy vreugde móét vind, veral ter wille van jou kinders, word die hartseer ’n bietjie draagliker. In Julie 2021 het ek gevoel ons moet iets doen om ons groot seer in iets positiefs te omskep,” onthou Ilse.
En so het dié vroue, saam met Carla de Jager, besluit om ’n staptog te reël vir ander mense wat ook dié hartseer dra. Of vir dié wat reken dat selfdood ’n opsie is. Die YouMatterWalk het reeds in 2022 en 2023 in Pretoria plaasgevind. Vanjaar vind die staptog op 14 September by The Big Red Barn in Olifantsfontein plaas.
“Ons wil mense by YouMatterWalk kry sodat hulle weet hulle is nie alleen nie, dat daar baie mense is wat omgee en dat daar baie hulpbronne vir almal is,” sê Christia.
Besoek YouMatterWalk se webwerf vir meer inligting.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.