Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Waar gaan die voetjies loop?

DEUR SIMONE GAUCHE

My twee seuntjies is onderskeidelik een en drie jaar oud. Van geboorte af het hul klein voetjies my bekoor. Die perfek-gevormde toontjies, klein en fyn, elk met die kleinste nael bekroon. Sagte hakkies wat nog nooit sand gevoel of oor spoelklippe geloop of gras gevoel kielie het nie.

Nou het al twee se voetjies egter regte seuntjievoete geword. Seuntjievoete verskil eerlikwaar van dogtertjievoete …

Seuntjievoete 

Die stukkie vel op die seuntjievoet se groottoon is áltyd af; daar is net ’n rooi herinnering wat agtergebly het. En niemand weet wat van daardie velletjie geword het nie. Was dit dalk ’n klip wat voor die voet ingespring het? Het dit gebeur toe die fiets ’n sypaadjie getref het? Was dit nie maar ’n moedswillige mat wat daaraan vasgehaak het nie?

LEES OOK: Dankbaarheid is ’n soort lofprysing

Daarby hoef die groottoon se nael nooit geknip te word nie. Moeder Natuur hou dit kort – óf so geskeur óf so geskuur. Soms is daardie nael vol skerp hakies, so asof jou peuter die skêr in daardie laai (wat gister nog buite bereik was) ontdek het.

Ander kere lyk die nael, wonderbaarlik, netjies gevyl.

Die ander toonnaels groei wel langer, én dit versamel graag grond as hulle nie kort gehou word nie.

Seuntjievoete se hakke is growwer as dogtertjievoete s\’n, waarskynlik omdat seuntjies nie te veel oor skoene gepla is nie. Hulle sal dalk instem om waterstewels aan te trek as daar groot genoeg waterplasse is om in rond te plons.

Op ’n seuntjievoet sal jy ook verskeie ander merkies vind, dalk seerplekkies. Die meeste sonder ’n storie wat daaroor vertel kan word.

Natuurlik kan seuntjievoete nie vir té lank stilsit nie; hulle kriewel alte graag.

Sien, dit is waarom ek dit nie kan verhelp om hierdie voetjies te beloer en te bevoel nie. En hulle kielie so lekker!

Die pad wat hulle loop

Ek dink egter gereeld ook daaraan dat dit dié voete is wat my seuns op hul lewenspad gaan dra. Die pad is onbekend en dit mag dalk glibberig en glad wees, of vol klippe en dorings. Hul voete mag dalk moeg en swak word en wankel (vgl Ps 121:3). Maar ek weet die Here my God sal self hul voete bewaar.

LEES OOK: Vreugde sonder vrees

As die voete struikel, sal Hy sy kinders ophelp (vgl Ps 73:2). As hulle afdwaal na die breë, maklike weg, sal Hy hulle gaan soek (vgl Ps 17:5). As hulle moeg word, sal Hy hulle optel en dra. As die voete verstrengel raak in ’n vyand se vangnet, sal Hy dit bevry (vgl Ps 25:15).

Vaste versekering 

Hoor ’n bietjie die Bybelse versekerings oor die Here se kinders en hul voete:

“Die voete van sy gunsgenote bewaar Hy, maar die goddelose mense kom om in duisternis; want ’n mens oorwin nie deur krag nie” (1 Sam 2:9 – 1933/1953-vertaling).

“Hy maak my voete soos dié van ’n ribbok; op hoë plekke laat Hy my stewig staan” (2 Sam 22:34).

“My voet staan op gelyk grond; ek sal die Here loof in die vergaderings” (Ps 26:12 – 1933/1953-vertaling).

Ek bid gereeld vir my seuntjies se voete. Ek bid dat hulle altyd onbevange sal hardloop sonder om moeg te word. Sal huppel sonder om bang te wees.

Ek onthou die bekende kinderlofliedjie: “Twee voetjies wat sy pad betree en een hartjie om aan Hom te gee.” En ek dank die Here vir die pad wat Hy reeds vir my seuntjies se voete voorberei het. Prys sy Naam!

  • Simone Gauche is ’n mamma en ’n eggenote. Sy is ’n mediese dokter wat in die staatshospitaal op Mosselbaai werk.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.