DEUR SIMONE GAUCHE
Daar is ’n witstinkhoutboom in ons agterplaas waaraan ons kinders se blou swaai hang. Een warm agtermiddag in die winter, terwyl ek my tweejarige op die swaai stoot, roep hy uit: “Mamma moet die blare weer terugsit!”
“Terugsit, Boeta? Waar?”
“Mamma moet die blare weer aan die boom vassit.”
Die droë, bruin blare lê oral op die grasperk gestrooi.
LEES OOK: Om werklik te glo en met jou hele hart te vertrou
Ek probeer aan hom verduidelik dat dit nie heeltemal so werk nie. Ek vertel hom dat die boom bladwisselend is, en dat die blare op die grond reeds dood is. Ek praat oor die pragtige nuwe blare wat in die lente gaan verskyn – grasgroen, gesonde blaartjies wat in die lenteson sal blink.
Maar hy gee nie kop nie: “Plak dit op, Mamma!”
Toe hy so aanhou, begin ek wonder: Is dit nie maar soos ons almal is nie?
Ons wil aan ons blare vashou. Ons is gemaklik met ons blare. Ons kom reeds ’n lang pad met ons blare.
En ons wil nie erken dat ons blare verbruin en verdor het nie. Dat die seisoen verby is. Ons skop teë in die winterdae, gryp arms vol blare wat deur die rukwinde afgewaai is en probeer dit verwoed weer aan die takke plak.
Tevergeefs.
Ek dink aan NP van Wyk Louw se bekende gedig Vroegherfs wat só begin:
“Die jaar word ryp in goue akkerblare, in wingerd wat verbruin …”
Word ryp …
Wysheid, lyk dit my, kom met verloop van tyd. ’n Mens moet eers ’n paar seisoene sien kom en gaan om te aanvaar dat blare verdor. Dat daar blare is wat afgeskud moet word.
Wysheid koester die geloof dat nuwe blare binnekort sal verskyn. Wysheid weet dat die nuwe blare groener en gesonder is. Dit vertrou die proses, al weet dit dat die afskud van ou blare jou kaal en ontbloot kan laat voel.
Van Wyk Louw sluit sy pragtige gedig só af:
O Heer, laat hierdie dae heilig word:
laat alles val wat pronk en sieraad was
of enkel jeug, en vér was van die pyn;
laat ryp word, Heer, laat u wind waai, laat stort
my waan, tot al die hoogheid eindelik vas
en nakend uit my teerder jeug verskyn.
Wysheid weet dat die proses van heiligmaking ongemaklik is. Soos goud en silwer wat gelouter moet word voordat dit suiwer kan wees (vgl Mal 3:3).
My seuntjie sal ’n paar jaar ouer moet word om te kan verstaan waarom die arme witstinkhout al sy blare moet verloor, en ontbloot in die winterson moet staan.
Nou vra ek my af: Watter boom wil ek wees? Wil ek regtig my ou, bruin blare probeer aanplak? Of sal ek hulle laat val sodat die nuwe, groen blaartjies uiteindelik kan verskyn?
Ek bid dat jy sal leer om die suiweringsproses te vertrou, en dat jy die ou, droë blare met grasie sal afskud.
Hoor hoe skryf Paulus: “Terwyl ons dan hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring” (2 Kor 7:1).
- Simone Gauche is ’n mamma en ’n mediese dokter wat in die staatshospitaal op Mosselbaai werk.