DEUR SIMONE GAUCHE
Jakob van die Bybel se storie het nog altyd met my gepraat. Die Here sê vir Jakob om terug te gaan na sy vaderland, en Hy troos hom met dié woorde: “Ek sal by jou wees.”
Ná 20 jaar moet Jakob trek na ’n land wat vir hom onbekend geword het. Hy weet nie wat hy daar gaan aantref nie. Dis sy geboorteland, ja, maar hoe gaan die mense hom ontvang? Wat wag daar op hom?
LEES OOK: ’n Brief aan die jong mens wie se lewe deur Covid-19 weggeneem is
Al wat hy het, is die Here se belofte: Ek sal by jou wees. En dis al wat Jakob hoef te weet. Die Here stap die pad saam met hom.
“Maar toe Jakob hoor sy broer Esau is op pad na hom toe, het hy baie bang geword, angs het hom oorval” (Gen 32:7).
Jakob vrees die ergste en hy begin planne beraam. Hy stuur sy slawe met geskenke om sy broer te probeer omkoop. Hy bid tot die Here en herinner Hom aan sy belofte. Hy smeek Hom om hom te red van sy broer, hy erken sy vrees.
Dan stuur Jakob al sy besittings vooruit en bly alleen agter. Daardie aand stoei ’n man met hom, tot dagbreek. Tydens die geveg slaan die man hom op die heup en sy heup word ontwrig.
Jakob moes mettertyd agtergekom het met Wie hy aan ’t worstel was, want hy sê: “Ek sal jou net los as jy my seën.”
Die Persoon doen dit toe, en verander boonop Jakob se naam na “Israel”. Want, sê Hy, “jy het teen God en teen mense ’n stryd gevoer en jy het enduit volgehou”.
Ten spyte van Jakob se wantroue, kom God hom in sy oomblik van vrees en angs tegemoet. Hy werk sagkens met Jakob; Hy oorweldig hom nie.
Maar Jakob het mank gebly. Die ontmoeting met God het hom fisiek en geestelik verander. Die herinnering (en waarskuwing!) bly sigbaar en voelbaar deel van hom.
Uiteindelik het Esau na Jakob toe gehardloop, hom omhels en hom gesoen. Hulle het saam gehuil.
* Ek is baie soos Jakob. As die nood druk, bid ek tot God – maar intussen beraam ek ook my eie planne. Ek beplan aan die hand van my eie afleidings en gevolgtrekkings, in plaas daarvan om op die Here te vertrou – op Hom wat weet wat die toekoms inhou, Hy wat nie allerlei afleidings hoef te maak nie.
LEES OOK: Moet tog nie vergelyk nie!
Ek ken die soort gesprek wat Jakob met die Here gevoer het alte goed. My gesprekke met Hom klink gewoonlik só:
Die Here sê: “Ek wil hê jy moet dit en dat vir My doen.”
Ek antwoord: “Dis reg so, Here. Ek sal doen wat U vra … maar net as U my help en my bystaan.”
Die Here reageer: “Natuurlik sal Ek jou help en jou bystaan!”
En ek? Ek maak my eie planne … Ek vertrou op myself en my eie insigte.
Die Here vra: “Waarom stoei jy weer met My?”
Soos dit dikwels in my eie lewe gebeur, eindig ook Jakob se verhaal geheel en al nié soos Jakob hom dit voorgestel het nie. Al die planne wat hy beraam het, al die kommer en angs wat hy deurgemaak het, is puur verniet. As hy (en ek) maar net vertrou het . . .
Gelukkig bly God altyd dieselfde. Die God van Jakob is ook die God van my onseker tye. Hy sê ook vir my: “Ek sal by jou wees.”
Ek kan die vrees en angs vryspring, en dalk selfs die littekens, deur op te hou stoei en bloot te vertrou.
Gaan lees gerus Genesis 32.
- Simone Gauche is ’n mamma en ’n eggenote. Sy is ’n mediese dokter wat in die staatshospitaal op Mosselbaai werk.