Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

‘Elke huwelik het sy eie storms, maar liefde en respek belangrikste’ – lesers in tweede, derde huwelike deel húl lesse

Niemand trou met die oog op ’n egskeiding nie. Tog is ’n gebroke huwelik deesdae alledaags. En ’n tweede of selfs ’n derde huwelik is niks vreemds nie. Is daar iets wat jy uit jou eerste huwelik wys geword het wat kan verhoed dat jy met ’n volgende een in dieselfde strikke trap?

DEUR ILETTE COETZER

Isabel* was ses jaar lank getroud. As sy nou aan dié huwelik terugdink, weet sy dat sy en Pieter* eerder goeie vriende as lewensmaats was. Hulle het ná die geboorte van hul eerste kind van mekaar begin weg dryf.

“Ons moes eintlik nooit met mekaar getrou het nie,” sê sy. “Maar as ek nou daarop terugkyk, het die verhouding my tog geleer dat ’n mens baie eerlik met jouself moet wees. Ek het eintlik voor die troue reeds my bedenkinge oor ons verhouding gehad. Maar ek het die twyfel-stemmetjie gou stil gemaak. Ek het geglo ’n vrou moet voor dertig trou, anders is sy ’n oujongnooi.

“Met my tweede huwelik het ek uit die staanspoor geweet ek het
my sielsmaat ontmoet. Ons is nou reeds langer as tien jaar getroud, en hoewel dit nie elke dag maanskyn en rose is nie, weet ek dis waar ek moet wees.

Elke huwelik het sy eie storms

“Ek weet nou dat elke huwelik sy eie storms te bowe moet kom. Maar solank daar liefde en respek is, kan jy amper enigiets oorwin.”

Linda* se storie is nie ongewoon nie: Sy het haar eerste man op skool ontmoet, en ná hul troue het hulle elkeen op hul eie loopbaan gefokus en tussendeur kinders grootgemaak.

Vandag sê sy: “Ek dink ’n mens se fokus verskuif gaandeweg en jy bestee jou energie op alles behalwe jou huwelik. Stadig maar seker begin julle by mekaar verby leef. Julle kommunikeer nie meer regtig nie; julle probeer net oorleef.

“En op ’n dag het julle niks meer vir mekaar te sê nie. Julle ken mekaar nie meer nie. Julle hou nie eens meer van mekaar nie.”

Linda sê sy het uit haar eerste huwelik geleer hoe belangrik dit is om werklik te kommunikeer. “Nou bestee ek baie tyd daaraan om met André* te gesels. Ons praat oor alles, ons lag baie. Hy is my beste maat.

“Ek dink wel alles is nou ’n bietjie makliker, omdat ons kinders reeds uit die huis is. En ons is in ons onderskeie loopbane gevestig. Ek het nou meer tyd, en ek het die emosionele krag om aan ons huwelik te werk. Om werklik daaraan  aandag te gee.”

Linda sê jy moet letterlik elke dag aan jou verhouding werk. Dit beteken onder meer om elke dag aan jou maat en sy of haar vrese verbonde te bly. “Dis die enigste manier waarop jul bootjie in een rigting sal bly seil.”

Lesse geleer uit die huwelik: ‘Jy gaan niemand ná die troue verander nie …’

Louise* het haar eerste man, Francois*, deur gesamentlike vriende ontmoet. Hulle het lank uitgegaan en is later getroud. Die krake was egter gou sigbaar.

Wanneer sy nou terugdink, besef sy hoe naïef sy was. “Jy gaan niemand ná die troue verander nie. En soms dink jy dit sal beter gaan as daar eers kinders is, maar dit werk ongelukkig nie so nie.

“Daarby was ek daarvan oortuig dat liefde genoeg is om alle verskille te oorbrug, maar ons het verskillende waardes gehad en ons prioriteite het verskil. Ek reken egter die feit dat ons nie die Here saam gedien het nie, het die einde van ons huwelik beteken.”

In dié tyd het Louise se jare lange vriendin se bidgroep vir haar ingetree. Johan* was deel van die bidgroep en het na haar uitgereik. Louise was gevlei. Hy het boonop baie aandag aan die kinders gegee, en Sondae het hulle saam kerk toe gegaan. Hy het ook gereeld Bybelversies na haar foon gestuur, en mettertyd het sy uit die gat gekom waarin sy haar bevind het.

Sy en Johan het gou daarna getrou. Te gou. Sy het nog nie kans gehad om die egskeiding te verwerk nie.

Sy vertel: “Johan het my leer ken as iemand wat hulp nodig gehad het. Ek was ’n afvlerk-voëltjie. Ek dink hy wou my uit die situasie red, maar hy het nie op die regte Louise verlief geraak nie. Ek reken dit was ons grootste fout. Ons het te gou getrou, ons het mekaar nog nie werklik geken nie.

“Buitendien was hy 26 jaar lank alleen, en dit was vir hom moeilik om hom weer aan iemand, en daarby ’n gesin, te verbind. Hy is ook 12 jaar ouer as ek, en dit het sy eie komplikasies meegebring.

‘n Tweede huwelik neem harde werk

“Daar is waarskynlik meer werk aan ’n tweede huwelik as wat ons dink. Indien al twee kinders uit ’n vorige huwelik het, word dit selfs meer kompleks. ’n Saamgestelde gesin is nie ’n eenvoudige saak nie.”

Melanie* is destyds met ’n ou skoolliefde getroud. Sy vertel: “Ons het mekaar op ’n dag weer raakgeloop en is ná ’n kitsromanse getroud. Kort daarna is ons dogtertjie gebore.

“Ek het egter binne ’n maand ná die troue geweet dit was ’n fout. Ons het eintlik niks van mekaar geweet nie. En soos die tyd verloop het, het ek ál meer besef dat ons eintlik bitter min vir mekaar te sê het. Ons onderskeie verwagtinge van ’n huwelik en van mekaar het glad nie met die werklikheid ooreengestem nie.

“Die geboorte van ons dogtertjie het die situasie net vererger. Ek het besef dat ons uiteenlopende idees oor kinderopvoeding het. Én oor wat ons van mekaar in die huwelik verwag.

“Daar was by ons, om die waarheid te sê, ’n totale gebrek aan volwassenheid en kundigheid oor die eise van ’n huwelik. Dit was asof twee kinders speel-speel besluit het om ’n troue te hou, en toe die werklikheid hulle tref, wou hulle nie verder speel nie. Ons was uit die staanspoor oorweldig en het nie geweet hoe om probleme te hanteer nie.”

Die gevolg was ’n bitter egskeiding.

Wat het Melanie hieruit geleer?

“Jy ken nie noodwendig ’n persoon bloot omdat hy of sy al lank in jou lewe is nie. Dis belangrik dat jy aan verskillende situasies tydens die hofmaakproses blootgestel word, sodat jy daardie mens kan leer ken soos hy of sy werklik is.”

Haar tweede huweliksmaat was feitlik die teenoorgestelde van die eerste een. Daar was wel komplikasies. “My dogtertjie was ses jaar oud toe ons getroud is. Sy het nie werklik ’n verhouding met haar biologiese pa gehad nie en het my tweede man gou aanvaar.

“Ons het egter nie rekening gehou met die band wat sy met haar grootouers gevorm het nie. Daar was vele uitdagings en my nuwe man het nie geweet hoe om dit te hanteer nie. Uiteindelik het dit op ’n breekspul tussen hom en my dogter uitgeloop. Die situasie is egter nooit openlik geopper nie en hy wou dit ook nie met ’n huweliksberader bespreek nie.

“Op ’n dag, heel onverwags, het hy net nie huis toe gekom nie. Die volgende keer wat ons mekaar gesien het, was sy prokureur ook by.”

Melanie sê: “Ek het geleer jy moet weet wie jy is en wat jy uit die lewe wil hê. Moenie om die verkeerde redes trou nie. Maak seker dat jy werklik weer wil trou, en nie bloot omdat jy soms eensaam voel nie.

“Wees eerlik met jouself, ook oor wat in jou eerste huwelik skeefgeloop het. Dit gebeur selde dat ’n huwelik op die rotse loop omdat slegs één party skuldig was. Wat was jóú aandeel in die verbrokkeling van die huwelik? Sorg dan dat jy nie skadelike gedragspatrone in jou volgende verhouding indra nie.

“Ek het ook geleer dat liefde, veral die romantiese soort, op die lange duur nie genoeg is vir ’n lewensreis saam met ’n ander mens nie. Wedersydse respek, vertroue – dít is van wesenlike belang!”

Goeie raad vir die huwelik

  • Praat met mekaar, al is dit hoe moeilik. Kommunikasie is koning!
  • Albei partye moet hulle volledig aan mekaar toewy.
  • Doen moeite om mekaar se “bagasie” te verstaan. Leer om nie alles persoonlik op te neem nie. Soms is dit inderdaad net bagasie …
  • Aanvaar mekaar vir wie en wat julle is, en stel saam doelwitte.
  • Moenie dat leuens deel van jul huwelik word nie. Kweek eerder goeie gewoontes.
  • Die huwelik bestaan uit twee mense met verskillende en selfs uiteenlopende ervarings, herinneringe en teleurstellings. Die moeite wat jy tans met jou huwelik doen, gaan bepaal wat jy later daaruit sal kry.
  • Bid vir jou huwelik! Sluit aan by ’n gebedsgroep en kom weekliks byeen. ’n LiG-leser laat weet: “Ek het ’n gebedsgroep begin – ons noem dit Praying Wives. Ons ondersteun mekaar.”
  • Jesus is die vernaamste Persoon in jul huwelik. Nog ’n LiG-leser sê: “Ek probeer liefhê soos Hy liefgehad het, omdat Hy my eerste liefgehad het.”

* Skuilname

Lees ook gerus ons artikel, ’n Gesonde en gelukkige huwelik: Hoe weet jy of jou huwelik gesond is?

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF