DEUR SIMONE GAUCHE
Ons almal ken Marta en Maria se storie soos die evangelieskrywer Lukas dit vertel. Van hoe Marta, die goeie gasvrou, hard werk om haar huis perfek te hê vir wanneer gaste opdaag. Marta wat seker maak almal eet lekker en almal is gelukkig.
Marta is gedurig besig – maar sy is ook gedurig bekommerd.
LEES OOK: Sing ’n loflied in die storm
Daarenteen kies Maria, haar jonger suster, om by Jesus se voete te bly sit en na sy woorde te luister.
Ons almal weet hoe voel Marta, want sy sê dit prontuit. En ons almal was waarskynlik al in ’n soort Marta-seisoen vasgevang: ’n tydperk van te veel doen en te min stil wees.
Die afgelope klompie weke wonder ek dikwels hoe Maria gevoel het. Het sy dalk skuldig gevoel terwyl sy haar suster so sien skarrel en hard werk? Het sy gewonder of sy haar van Jesus moet wegskeur en eerder iets “produktiefs” moet doen?
Het sy gewonder of sy nie dalk meer vir ander mense moet doen nie?
Het sy dan nie gevoel hoe die Martas van die lewe haar met hul oë veroordeel nie?
Het die Martas haar ook vertel wat hulle alles uitgerig het in die tyd dat sy wat Maria is net gesit het?
Ek bevind my deesdae in ’n Maria-seisoen. Ek wil my nie loop en bekommer nie. Ek is moeg en afgemat en ek wil net by Jesus se voete gaan lê. Ek het nie die krag vir uitgerekte godsdienstige handelinge nie. Ek wil nie intens Bybelstudie doen nie. Ek wil nie lang gebede bid nie. Ek het nie baie woorde nie en ek voel so ’n bietjie oorweldig deur die lewe.
Baie aande bid ek my aan die slaap …
Ek lê gereeld in my bed met my geliefdes se gesigte wat voor my oë verbyflits. Hulle is in my gedagtes, maar die woorde bly ver, daar is net ’n gevoel. Ek bieg by my Vader dat ek net wil “wees”. Ek wil net sy teenwoordigheid ervaar. Ek wil in stilte luister.
Maar ek ervaar ook dat ek gereeld skuldig voel. Ek voel ek moet méér doen, want daar is so baie swaarkry om my. My gebede moet voller wees, omdat die tye waarin ons ons bevind dit van my vereis. Ek moet met groter doelgerigtheid Bybelstudie doen, want dis immers God se Woord waarmee ek besig is.
LEES OOK: Grootskaalse veranderings
Maar hier kom ontmoet die Here my weer in my stilte en Hy sê vir my: “My kind, dis oukei. Kom wees net hier by My. Kom lê in my arms en luister.
Jy hoef nie noodwendig my stem te hoor nie; jy kan net voel ook: my vrede, my liefde vir jou en vir hierdie wêreld, my grootheid en my goedheid. Ek verstaan dat jou woorde op is, maar Ek ken jou hart. Het Ek nie belowe dat my Heilige Gees vir jou sal intree nie? Dat Hy vir jou ’n Voorspraak sal wees nie?”
Nou sit ek hier aan my Here se voete, en ek luister, en op hierdie oomblik is ek dankbaar. Ek is dankbaar dat ook ék die beste deel gekies het, en dat dit nie van my weggeneem sal word nie. Ek is dankbaar dat my Vader wil hê dat ek by Hom sal wees, en dat ek niks hoef te doen of te verdien nie.
Ek is daarvan bewus dat dit slegs ’n seisoen is, maar ek is dankbaar vir hierdie genade.
Lees gerus weer Lukas 10:38-42. Dalk wil jy ook vandag eerder deur Maria se oë na die lewe kyk.
- Simone Gauche is ’n mamma en ’n eggenote. Sy is ’n mediese dokter wat in die staatshospitaal op Mosselbaai werk.