DEUR SIMONE GAUCHE
Ons stap verby die polisiekantoor. ’n Man kom by die trappies af. My seuntjie wys met sy vinger en vra, kliphard: “Mamma, is dit ’n skelm?” Ek kan sien hoe die man frons, maar hy maak tog asof hy nie die kind hoor nie. Ek voel hoe ek bloos.
“Nee!” fluister ek, heeltemal te hard, “hy is nie ’n skelm nie!”
Hy hou egter vol: “Hoekom is hy dan by die polisie?”
LEES OOK: Ons padkaart, en ons Navigator
Terwyl ons wegloop, verduidelik ek dat dit nie net skelms is wat na die polisiekantoor toe gaan nie. Ek vertel hom van die mense wat vorms moet laat invul, van ander wat ’n misdaad kom aanmeld. En, natuurlik, is daar mense wat in ’n polisiekantoor werk.
“Maar daar is skelms ook?” Hy gee nie bes nie.
“Ja,” gee ek oplaas toe, “soms is daar mense wat daar aangehou word, maar dis net tydelik. Die polisiekantoor is nie eintlik ’n tronk nie.”
“O,” sê hy. Doodtevrede.
Om die een of ander rede fassineer die polisie my seuntjies. Soek ek my jongste, kan ek bloot my ore spits vir die polisie-alarm. “Weee-hoe, weee-hoe, weee-hoe,” is wat ek hoor, en dan kry ek die twee aan ’t speel. Hulle is dan polisiemanne, hulle vang skelms, hulle bou ’n tronk met hul blokkies.
Mettertyd kom ek agter hulle het eintlik geen benul van wat ’n skelm is of wat ’n skelm doen nie. Dikwels moet Mamma die skelm wees … wat hulle kom kielie. En dan word ek in hul blokkiestronk “opgesluit”. Wanneer hulle ontevrede is omdat hulle nie hul sin kry nie, word daar gedreig: “Ek gaan Mamma in die tronk gooi!” Hulle weet dus ook nie wat ’n tronk is of wat daar gebeur nie.
My kinders se eenvoudige speletjies laat my dikwels verder dink …
Ek dink aan die soort tronk waarin ons ons dikwels bevind. Soveel mense, soveel tronke. Vir sommige is hul verlede die tronk. Vir sommige is dit verslawing. Vir sommige hou die hartseer oor die verlies van ’n geliefde hulle gevange. Ander is vasgevang in vrees en twyfel. Of in sonde.
Ons lees in Psalm 146:7: “Die Here laat gevangenes vry.” En die Bybel is vol konkrete voorbeelde hiervan. Ons lees dikwels hoe die Here sy kinders uit ’n tronk bevry het. Hoor dié verhaal oor Petrus: “So is Petrus dan in die tronk bewaak, maar ’n volgehoue gebed tot God het uit die gemeente vir hom opgegaan. Die nag voordat Herodes hom wou voorbring, was Petrus aan die slaap tussen twee soldate. Hy was met twee kettings geboei, en voor die deur het wagte die tronk bewaak. Skielik het ’n engel van die Here daar gestaan, en ’n lig het in die sel geskyn. Toe gee hy Petrus ’n stamp teen die sy, maak hom wakker en sê: ‘Staan gou op!’ En die kettings het van sy hande afgeval” (Hand 12:5-7).
Dis egter nie slegs tronke wat met stene gebou is waaruit die Here sy kinders bevry nie. Só skryf Paulus: “Christus het ons vrygemaak om werklik vry te wees. Staan dan vas in hierdie vryheid” (Gal 5:1.)
Om vas te staan, soos Paulus dit stel, is om op die Bevryder te vertrou – ten spyte van die dik mure wat jy om jou sien en die boeie wat jy om jou voel. Ten spyte van die donker.
Dis Lydenstyd, en ons herdenk onder meer die volheid van God se bevrydende krag. Die krag wat jou red uit die tronk waarin jy jou bevind. Die Amerikaanse evangelis John Bevere het iewers geskryf: “Genade verwys nie net na God se vergifnis nie; genade is ook God se bemagtiging om te wandel in die vryheid wat Jesus vir ons gekoop het.”
Jesus self het immers gesê: “As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle werklik vry wees” (Joh 8:36). Mag jy daarom in dié tyd opnuut ervaar dat God bevry. Want Hy kan. En Hy het.
- Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, en ’n mediese dokter wat in die staatshospitaal op Mosselbaai werk.