Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Wat weet ons kinders regtig van Kersfees?

Kersfees is vakansietyd vir die kinders, geskenketyd. Maar is daar nog ouers wat hul kinders leer dat Kerstyd éintlik Jesustyd is? En hoe kan hulle dit regkry in ’n samelewing waar baie kinders nie meer regtig kan luister nie? 

DEUR MARETHA BOTES 

Een van my vriendinne sê haar kinders se maatjies vertel hoe Kerstyd vir hulle vakansietyd is, geskenke-tyd. Kersoggend word geskenke uitgedeel, waarna die res van die dag óf by die strand óf rustig tuis deurgebring word. 

“Dit het my laat dink,” sê my vriendin, “oor hoe óns Kersdag deurbring. Of daar vir mý kinders meer aan Kersfees is as geskenke en vakansie.” 

Die tyd waarin ons leef 

Katherine van Heerden is ’n opvoedkundige sielkundige in Johannesburg. Sy sê mense is deesdae baie meer uitgesproke oor die geloof, al dan nie, wat hulle aanhang. In teenstelling met so 30 jaar gelede toe mense feitlik voor die voet as Christene geag is en daar ’n bepaalde verwagting van almal in ’n gemeenskap was. 

“Deesdae,” sê Katherine, “het Kersfees dus ’n meer sekulêre aard. Mense voel doodeenvoudig anders daaroor as destyds. Baie kinders met wie ek gesels, weet glad nie wat Kersfees werklik beteken nie. En soms bestempel die mense van daardie huis hulleself as ‘Christelik’ …” 

Dalk is dit ’n simptoom van ’n groter tendens. “Ek merk dat gesinne ál minder gehaltetyd saam deurbring,” sê Katherine. “Ouers en kinders gesels nie juis meer met mekaar nie. Dis slegs gesinne wat doelbewus tyd maak om hul verbondenheid aan mekaar te behou en uit te bou wat oor die vaardighede beskik om behoorlike gesprekke te voer,” sê sy. 

“Ek sien dus ’n toename in die reeds oordrewe klem op geskenke en die estetiese komponent van Kersfees. Natuurlik sien alle kinders uit na geskenke onder die boom, maar dit lyk asof daar nie meer ’n balans gehandhaaf word nie. Ek dink dit word ook ál moeiliker vir ouers om die balans te navigeer, want kinders word op sosiale media aan soveel ander waardes blootgestel.” 

Sosiale media, sê Katherine, bring ook ’n ander komplikasie mee: “Kinders wat baie tyd met sosiale media deurbring, ontwikkel nie luistervaardighede nie. Hulle is nie meer daaraan gewoond om te wag, te luister, te hoor, in te neem en te verstaan nie. Elke knoppie wat hulle druk, bring onmiddellike bevrediging. 

“Daarom is dit deesdae so belangrik dat ons met ons kinders sit en gesels, dat ons oogkontak maak, stories uit ’n boek lees – en hulle só ook leer waaroor Kersfees gaan.” 

Gesprekke oor Kersfees? 

Minette du Toit is ’n tuisblyma van drie woelwaters tussen drie en tien jaar oud. Sy sê: “Ons gesels sommer die hele jaar oor Kersfees. Dis gesprekke wat uit nuuskierigheid voortspruit. 

“Soms begin ons by die tandemuis. Die gesprek draai dan na Kersvader, en eindig by waaroor Kersfees werklik gaan. Ek reken dat as ons nie ons kinders die kernwaardes van die Kerstyd leer nie, dit bloot ’n betekenislose vakansietyd sal wees. 

“Ja, ons gesin bring Kersfees saam deur; dis vir ons egter meer spesiaal as blote gesinstyd. Dit gaan oor Christus wat mens geword het, wat na hierdie wêreld toe gekom het, gely het, gesterf en uit die dood opgestaan het. En uiteindelik weer na die hemel opgevaar het.” 

Katherine sê: “Dis belangrik vir gelowiges om gesprekke rakende Kersfees te hê. Dis van die mees betekenisvolle vierings in ons geloofslewe. En as ons wil hê die regte Godsbeeld moet by ons kinders posvat, moet hulle begryp waaroor Kersfees gaan. Die verhale, die simboliek, die tradisies. 

“As hulle dit begryp, sal hulle uiteindelik ook begryp wat Paasfees alles inhou. Én die Persoon van die Heilige Gees.” 

Anja Pienaar is betrokke by die jeugbediening van die NG Kerk Proteapark in Rustenburg. Sy sê: “Die verhaal van Jesus se geboorte is een van die mooiste verhale van genade en liefde wat ons vir ons kinders kan leer. 

“Ons moet hulle wel ook leer om dié seisoen vir hulleself toe te eien. Die wonderlikste wat hulle in hierdie tyd kan leer, is dat Jesus se geboorte eintlik maar die begin van sy verhaal is. Sy lewe, sy woorde, sy wonderwerke – dit alles lê nog voor. Ook sy kruisiging en opstanding. 

“Kersfees gee gelowige ouers die ideale geleentheid om dit aan hul kinders tuis te bring. En wanneer ons geskenke gee, onthou ons om opnuut ons lewe aan Jesus te gee.” 

Geskenke, o die geskenke … 

Kersfees bied inderdaad aan ouers ’n ideale geleentheid om kinders te leer wat die waarde van gee is. “Dat die lewe nie daaroor gaan om bloot te ontvang nie,” sê Katherine. “Ouers kan baie mooi rituele in dié verband in hul Kersfeesvieringe ontwikkel, en in dié tyd gesprekke aanmoedig om dit aan die kinders tuis te bring. 

“Kinders moet geleer word dat die fokus nie die ontvang van geskenke is nie. Hiervoor, om met ander woorde die fokus te verskuif, kan die vele tradisies wat reeds bestaan – in die breë samelewing, in die geloofsgemeenskap én in die gesin of familie – met vrug aangewend word.” 

Katherine verwys na die riglyne wat die Australiese sielkundige, dr Michael Carr-Gregg, verskaf wat by die gee en ontvang van geskenke gevolg kan word. 

Volgens hom is vier geskenke voldoende: 

  • Die eerste een is iets wat jou kind baie graag wou hê; iets wat op die wenslysie is. 
  • Die tweede geskenk is iets wat hy of sy nodig het. 
  • Iets om te lees. 
  • Die laaste geskenk is iets wat hy of sy vir iemand anders kan gee of doen. En dan iemand wat nie noodwendig iets in ruil daarvoor kan gee of doen nie.

‘Dis hoe óns oor Kersfees praat’ 

Jeanne Broman van Pretoria sê hul gesinsgesprekke tydens die Kerstyd vind spontaan plaas, dis ontspanne en die hele gesin dra daartoe by. Hoewel die gesprekke nie gestruktureerd is nie, handhaaf hulle wel bepaalde Kerstradisies. “Ons sing Kersliedere, vertel Kersverhale, lees uit die Bybel (almal kry ’n kans om te lees). 

“Al dié dinge wakker gesprekke aan.” Jeanne sê hulle fokus op Christus se geboorte en die Geskenk wat Hy vir die wêreld is. Dit word dan in verband gebring met waarom hulle vir mekaar geskenke gee. 

“Dis ook vir ons baie belangrik om ’n gee-kultuur by ons kinders te kweek. Dit gaan nie oor wat jy ontvang nie, maar ook oor hoe en wat jy aan ander gee – veral dié wat minder as jy het.” 

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.