DEUR IVOR SWARTZ
Dit was 04:45 en Seun kon nie meer slaap nie.
Ek gaan sit op die groot bank met hom – sy kop teen my kaal bors. Hy haal hard genoeg asem om my te flous om te dink hy slaap. Maar sy ogies loer die donker vertrek vol.
LEES OOK: Verskilmakers: ’n Moderne verlore seun se genadepad
Die wilde blou het oornag op my gemoed kom sak terwyl ek ’n ondraaglike migraine afskud – van te veel dink, en te min voel. Ná hopeloos te veel Mypaids én twee Disprins, wat ek by die garage gekoop het, droom ek hallusinatories oor my grootwordhuis. Ek sit my broer en sy houvrou uit. Alles duidelike rooi vlaggies dat dit tyd is om wéér die witvrou met die sagte stem en die koue kantoor te gaan sien.
Ek maak ’n nota.
Ek lees vir die eerste keer ’n Marita van der Vyver-boek, ’n Baie lang brief aan my dogter. Maar ek kry nie die ding verder gelees as “ons jeugdrome word nooit werklik waar nie, altans nie wanneer en waar en hóé ons dit wil hê nie, en daarvoor moet ons seker dankbaar wees”.
Ek raak hartseer oor wat ék wou wees en word, en kyk af na Seun met daai slapende amper-glimlag soos wat net babas kan doen. Ek weet instinktief dat hy meer is as wat ek van gedroom het – al droom ek steeds dat ek eendag vryer sal voel in my kop as wat ek op my beste dae glo.
Marita sê sy’s dankbaar dat die dagdrome van jou jeug nie altyd waar word nie. Ek weet wat sy bedoel. Ek weet ek sou van my jeugdige gawes aan God teruggee as ek kon.
Sou ek toe gewees het waar ek vandag is – in die pers-stad wat my die blouste laat voel – sou ek my siel verkoop het aan die naaste magician vir die waarmaak van my enigste kinderdroom: ’n groter huis vir Ma Lettie.
Maar ek is nogtans dankbaar dat dit nie nodig was nie, soos Marita geskryf het.
- Ds Ivor Swartz is jeugleraar by NG gemeente Oosterlig in Johannesburg. Ivor en sy vrou Nadine se eerste baba is onlangs gebore. Sy boek Die verlore seun vannie Gaatjie (Lux Verbi) oor sy moeilike grootwordjare in Grabouw, is met die Desmond Tutu-Gerrit Brandprys vir debuutwerk bekroon.
- Dié skrywe het oorspronklik op Ivor se Facebookblad verskyn en word met toestemming op www.lig.co.za geplaas.