Deur Milanie Vosloo
Ons is in die pylvak van 2020. ’n Jaar wat ons almal iewers aan ons hart gepluk het. Ons lewe op vreemde maniere tot stilstand geruk het. Iewers wens ons ons kan dié hoofstuk van ons lewe op die boekrak van gister bêre en met ’n nuwe een begin. Een met hoop.
As jy tans moeg en gedaan voel, weet dan: Daar is Een wat jóú spesifieke omstandighede, jou moegwees, kommer en onsekerheid oor die toekoms ken. Dis die Een in Wie se hart jy kaalvoet kan gaan lê. Kaalvoet … en met gestroopte eerlikheid net jouself kan wees en dan, sonder pretensie, kan erken dat die lewe vir jou soms te veel is.
Doen dit sommer nou. Maak jou oë toe en haal vir ’n paar minute sommer net diep asem. Gee jouself in jou broosheid oor in die hand van die lewende God wat jou met sy groot liefde vashou, in sy beskerming koester en vandag vir jou wil sê: My genade ís ook nou vir jou genoeg.
Mag jy in hierdie dae beleef dat daar ’n genade-God is by wie jy die skoene van jou hart kan uitskop. En dan daar ’n diep stuk hoop en moed vind.
Kaalvoetkind
U, Heer, U wat my hart ken,
ek verlang na u koestering.
Ek wil voel hoe U my
soos ’n baba teen u hart vashou.
Ek wil opkyk in u oë
sodat ek u liefde vir my kan sien.
Ja, Vader, ek wil vandag
naak en eerlik in u omhelsing skuil.
En weet:
Ek kan maar net stil wees …
En op U wag.
Want U ís.
Amen.
Uit die Skrif:
Hou u liefde oor ons, Here, want ons stel ons vertroue in U – Psalm 33:22.