DEUR SIMONE GAUCHE
Toe ek jonk was, het ek nie geweet wie of wat Eskom is nie; vandag weet my kinders alte goed. Hulle weet Eskom sit die krag af. “Dis al weer ‘loutshêrring’, Mamma,” sê hulle. En hulle wil weet hoekom ons nie ook ’n “generator” het nie.
Ek kan nie bybly met die immer-wisselende skedules en fases nie. Meermale is ek gefrustreerd, kwaad, want dikwels betrap die “loutshêrring” my onverhoeds. Dan struikel ek deur die donker huis op soek na ’n lampie of ’n kers. Ek sukkel met die gasstofie om tog net ’n potjie water warm te kry.
Vanaand was dit eens so erg. Dit voel asof ek teen die mure kan uitklouter. Ek klap die deure en loop rond soos ’n beer met ’n seer tand. Die irritasie, die woede, wil nie wyk nie.
Toe ek op my bed sit, dink ek die eerste keer regtig oor my peuteragtige optrede. Waar kom dit vandaan? Al die huise om ons is tog ook donker, en dit is nie asof beurtkrag iets nuuts is nie.
Vir die eerste keer besef ek daar lê meer as doodgewone ergerlikheid agter my gedrag; dis niks anders nie as vrees. Aanvanklik was die gebrek aan elektrisiteit iets vreemds, iets wat bloot tydelik was. Dit het ’n definitiewe eindpunt gehad. Maar intussen het dit anders geword – en dit maak my bang. En onseker. Wat gaan met ons gebeur? Wat hou die toekoms in? Kom daar regtig nóg erger kragonderbrekings in die winter?
Dan die groot vraag: Was my vriende en familie wat die land verlaat en groener weivelde gaan soek het nie dalk reg nie?
LEES OOK: Wanneer mense nie van jou hou nie
Later dink ek aan Bybelse rolmodelle wat ook vir die donker bang was. Moses, wat bang was die farao se donkerte verswelg hom; Gideon, wat bang was om met sy klompie manne die donkerte van ’n oormag aan te durf; Jesus, wat bang was vir die donkerte wat die kruisiging sou bring.
Toe onthou ek hoe hulle almal hul vrees by hul Vader se voete neergelê het.
Al hierdie kennis help my. Dit help my om te weet dat alles kan verander, maar dat God dieselfde bly. Hy het lig geskep deur ’n woord te sê. Hy verdryf duisternis met sy teenwoordigheid.
En ek weet opnuut my God is goed. Hy is groot en Hy is hier. Hy het trouens reeds die duisternis verslaan. Toe lê ek my vrees by sy voete neer. Ek onthou al die genade in my lewe, al die baie redes waarom ek dankbaar kan wees.
Nee, daar het nie skielik lig in my kamer gekom nie; die lig is in my. Ek onthou Jesus se woorde: “As die lig in jou donker is, hoe donker moet dit dan nie wees nie!” (Matt 6:23). En die ou profeet se troos: “Wie in die donker loop en geen lig sien nie, moet op die Here vertrou, moet op sy God steun” (Jes 50:10).
- Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, en ’n mediese dokter wat in die staatshospitaal op Mosselbaai werk.