Pieter Viljoen vertel hoe Jesus se bloed sy seun Luca (7) beskerm het toe dié ’n jaggeweer afgevuur het. Hierdie pa is daarvan oortuig dat sy daaglikse gebed, waarin hy bid vir God se beskerming oor sy gesin, sy seun van ’n gewisse dood gered het. Hy het sy seun se hempie om dit te bewys …
Pieter Viljoen (43) weet dat wonderwerke nie slegs in die Bybelse tyd plaasgevind het nie, maar dat dit vandag nog gebeur. Hiervan, sê hy, is sy seun Luca ’n lewende getuienis.
Hy vertel: “Luca het ’n klein motorfiets waarmee hy die plaas platry. Hy is ’n regte plaaskind met ’n groot avontuurlus. Hy is ook besonder lief vir die plaas. Op ’n dag het ek hom vroeër as gewoonlik by die skool gaan haal. Terug by die huis het hy, oudergewoonte, op sy motorfiets geklim en op die plaas rondgery. Ná ’n ruk het hy aan my kom sê dat hy makoue gesien het, en gevra of ons hulle kon gaan jag.”
Die pa het ingestem. Maar, het hy aan Luca gesê, hy het eers ’n paar dinge wat hy moet afhandel.
Toe het Luca, sonder sy pa se medewete, die kluis se sleutels uit die bakkie gaan haal en die kluis oopgesluit. Hy het die 308-jaggeweer uit die kluis geneem.
Pieter vertel: “Ek was in daardie stadium op pad om Luca te gaan roep sodat ons die makoue kon gaan skiet. Toe ek by die huis instap, was ek onmiddellik bewus van ’n kruitreuk. Ek kan nie beskryf wat deur my gedagtes gegaan het nie. Ek weet net ek was vreesbevange.
LEES OOK: Klein Jana se ma: ‘Die wonderwerk is te groot om te begryp’
“Ek het Luca op ’n bed aangetref, klaarblyklik ongedeerd. Langs hom het my geweer gelê. Ek het hom gevra of hy oukei is. Dit was duidelik dat die geweer afgevuur is. Ek het gesien dat die koeël deur die bedstyl is en dat dit die muur getref het. Ook die venster se blinding het ’n gat gehad. Die koeëldoppie was nêrens te sien nie. Daar was geen merkie aan Luca nie.”
Pieter sê hy was emosioneel – kwaad en gefrustreerd. En hy het gewonder of hy nie die voorval kon voorkom het nie. Oplaas het hy besef dat hy eintlik geen beheer gehad het oor wat gebeur het nie.
Die werklike wonderwerk
“Ek het hom deeglik gedissiplineer, soos enige pa waarskynlik sou. Hy sal dit beslis nie weer doen nie …”
Die werklike wonderwerk het egter eers ’n week later aan die lig gekom. Pieter se vrou Nicole (41) het hom gebel en gevra of hy kan onthou watter hemp Luca daardie dag aangehad het. Hy het die hemp aan haar beskryf.
Toe stuur sy ’n foto van daardie hemp. Die platgedrukte koeël het aan die hemp se binnekant vasgesit. Dit het klaarblyklik van die muur af teruggeskram na Luca toe. Daar was nie juis ’n gat aan die hemp se buitekant sigbaar nie.

Pieter onthou hoe hy verstom in sy bakkie bly sit het nadat sy vrou met hom gepraat het.
Daar was nog een …
Klein Luca is ’n lewendige seuntjie met ’n passie vir die lewe, ondersoekend en avontuurlustig. Pieter vertel dat hulle eendag gaan voëls skiet het. Luca het een getref en nader gehardloop.
Skielik het Pieter God se stem gehoor wat hom aangesê het om saam met sy seun te gaan. Die voël het onder ’n heining gelê. Minder as ’n meter vanaf Luca het ’n enorme pofadder gelê, die grootste wat Pieter nog op die plaas gesien het. Hy het Luca dadelik aan sy kraag gegryp en hom weggeruk.
Weer eens was God se engele teenwoordig, sê Pieter. Luca se naam beteken immers lig-bringer.
“Ek bid elke oggend Jesaja 54:17 oor my gesin. In dié Skrifgedeelte sê die Here onder meer: ‘Geen wapen wat teen jou gemaak word, sal suksesvol wees nie …’
“Daar is ’n werklike wapen in ons huis afgevuur, sonder enige skade aan Luca. In my 43 jaar het ek nog nooit so ’n wonderwerk beleef nie. Dis bonatuurlik.”
Donkerte en verslawing
Pieter vertel dat hy vir ’n groot deel van sy lewe ver van die Here af was. Op 7 Oktober 2025 het hy en Nicole aan LiG vertel van die selfdood van elkeen se ouers. Pieter het sy ma in haar meenthuis gevind nadat sy haarself om die lewe gebring het.
Daarna het hy die pad heeltemal byster geraak en verslawing het hom in ’n dodelike greep beetgekry.
Hulle het ’n goeie lewe gehad op die plaas wat hy in 2019 net buite Bloemfontein gekoop het. Maar die finansiële druk om ’n plaas as ’t ware uit niks uit op te bou het baie stres tot gevolg gehad. Ook sy huwelik was in die moeilikheid.
Uiteindelik het hy by die Christelike rehabilitasiesentrum Galino House aangeklop. Daar het hy dramaties tot bekering gekom. Hy vertel dat hy daar sy Damaskus-oomblikke beleef het en met die Heilige Gees gedoop is. En dat hy tydens die rehabilitasie van “die gees van selfdood” bevry is.
Lig en vrede
“Van toe af kon ek die lig sien. My lewe het drasties verander. My vrees was weg. Ek het my behoefte aan drank en selfs sigarette verloor. Tot vandag toe kan ek nie die reuk van tabak of brandewyn verduur nie.
“Ek was ’n nuwe mens. En ek en my vrou kon weer ons huwelik op ’n gesonde pad kry. Ek het die sjalom van die Here ervaar en geen wêreldse versoekings kon my meer pootjie nie.
“Ek het wonderwerke begin raaksien, ook in ons boerdery. Die plant- en oesseisoene was suksesvol vanweë die Vader se eindelose genade. Ons is so dankbaar vir ons nuwe lewe, en vir die verlossing wat ons ontvang het.”
Vandag leef die Viljoens met hul voete stewig op die heilige reis wat God vir hulle beplan het.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.
















