“Maar wanneer ’n priester met sy geld iemand as sy besitting koop, mag so iemand daarvan eet; en slawe wat in sy huis gebore is, hulle mag ook van sy brood eet” (Lev 22:11).
Wanneer ons deur die Levitikuswette blaai, voel dit dikwels asof ons deur ’n vreemde landskap stap. Daar is reëls oor offers, reinheid, priesters en allerlei seremonies – alles dinge en situasies en mense wat ver verwyderd lyk van die lewe wat ons vandag ken.
Maar lees mooi: Tussen al die voorskrifte deur leer ken ons iets van God se hart, en van die verhouding wat Hy met ons het.
Levitikus 22 handel oor wie van die priesters se geheiligde kos mag geëet het. Nie almal het daartoe toegang gehad nie. Vreemdelinge en besoekers kon nie sommer net gaan aansit nie; die “heilige tafel” was slegs vir mense beskore wat op ‘n besonderse manier aan die priester verbind was.
Daar was wel twee groepe wat sonder meer van die brood kon eet: Die eerstes was dié wat met die priester se eie geld gekoop is. Die tweede groep was dié wat in die priester se huis gebore is.
Met sy bloed gekoop
Toe ek hierdie gedeelte onlangs weer lees, kon ek nie anders as om aan Christus ons Hoëpriester te dink nie. Sien, die eerste waarheid is dat ons gekoop is. Die evangelie vertel nie ’n verhaal van mense wat hulleself gered het nie; dis die verhaal van ’n Verlosser wat bereid was om die volle prys te betaal sodat daardie mense gered kon word. Die prys was nie silwer of goud nie, maar sy bloed.
LEES OOK: ‘Ek het die Voorsiener gesien’ – man getuig hoe God sy sterwende broer se vrese besweer
Ons leef so maklik asof ons aan onsself behoort. Ons maak ons eie planne en dra ons eie laste. En ons probeer om ons eie redding te bewerkstellig. Die Skrif herinner ons egter daaraan dat ons nie meer aan onsself behoort nie, ons behoort aan Christus. Dis Hy wat ons uit sonde, skuld en geestelike dood losgekoop het.
Die wonderlike gevolg daarvan is dat ons nie as buitestanders by God se huis aankom nie. Ons hoef dus nie deur die venster te kyk en te wonder hoe dit sou wees om deel van dié huishouding te kon wees nie. Ons is genooi om aan die tafel te gaan sit omdat ons aan Hom behoort.
Op dié manier kry Dawid se bekende woorde in Psalm 23 – “U berei die tafel voor my aangesig” – ’n selfs ryker betekenis.
Maar Jesus het nie net vir ons toegang gekoop nie; Hy het vir ons ’n plek gekoop. Elke stoel aan sy Vader se tafel dra die merk van die prys wat Christus betaal het. Wanneer ons daaraan dink dat daardie prys sy bloed was, besef ons weer eens hoe groot sy liefde vir ons werklik is.
Ons is eie familie
Maar daar is meer: Ons is nie net deur Hom gekoop nie, ons is ook in Hom gebore.
Ek sien hoe my kinders by ’n familiebyeenkoms sommer reguit tafel toe stap wanneer die kos gereed is. Hulle vra nie of hulle mag aansit nie en hulle wonder nie of daar vir hulle plek gemaak sal word nie. Hulle weet hulle hoort daar. Die tafel is net soveel hulle s’n as hul ouers s’n. Niemand hoef vir hulle ’n naamkaartjie neer te sit nie; hulle is eie familie.
Ons tree dikwels teenoor God op asof ons nog besoekers is: Ons staan huiwerig by die deur en wonder of ons welkom is. Die evangelie leer ons egter die heerlike waarheid dat ons, in Christus, kinders in God se huis is.
Volgens die Levitikusskrywer het die mense wat in die priester se huis gebore is, dit is die kinders, net soveel reg gehad om van die heilige voedsel te eet as dié wat gekoop is, met ander woorde die slawe. Laasgenoemde het toegang tot al daardie voorregte gehad omdat hulle as deel van die familie beskou is.
Dis presies wat met ons gebeur wanneer ons Christus as ons Verlosser aanneem: Hy het óns aangeneem. Ons het Hom lief omdat Hy ons eerste liefgehad het.
Jesus het aan Nikodemus gesê dat God se kinders “opnuut gebore” is. Deur die Heilige Gees se werk kom ons tuis in God se huisgesin. Ons word dus nie bloot burgers van die hemelse koninkryk nie; ons word kinders van die hemelse Vader.
Jesus noem ons “broers” en “susters”. Ons word mede-erfgename van die genade wat Hy vir ons verwerf het.
God het besluit om ons as kinders aan te neem. Dis oneindig meer as om vrygespreekte skuldenaars te wees. Hy het ons sy familienaam gegee, en Hy maak vir ons plek gereed in sy huis, die huis met die baie blyplek.
Ons bevind ons dus in ’n posisie waar ons aan God se tafel mag sit omdat ons gekoop is, én ons mag by die tafel aansit omdat ons opnuut gebore is. Ons het dus as ’t ware ’n dubbele reg by die Hoëpriester. En nie omdat ons dit verdien het nie, maar omdat Christus alles gedoen het wat daarvoor nodig was. Hy het die losprys betaal en Hy het die nuwe geboorte moontlik gemaak.
Hoe wonderlik is dit om te weet dat ons hierdie dubbele sekerheid het! Daarom kan ons met vrymoedigheid nader kom en aansit. En geniet wat die Vader vir ons voorberei het. Want in Christus is ons nie bloot gaste nie, ons is familielede.
- Simone Gauche is ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk. Sy is ook ’n eggenoot en ’n mamma van twee seuntjies. Sy skryf graag oor haar verhouding met God en die lesse wat sy leer.




















