Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

As jy sukkel, en wanneer jy val …

DEUR SIMONE GAUCHE

Ek hoor die geskree uit my seuntjie se kamer. Frustrasie. Ek ken hom. Ek loop vinnig daarheen. Hy het sy hemp aan, maar dis voor oop. Hy sukkel om die knopies vas te maak. Ek vra of ek kan help. Hy skud net sy kop. Hy sal sélf.

Jy is nog nie ’n ouer as jy nie jou kinders hoor sê het “ek kán!” of “ek wil sélf!” nie. Of dit nou skoenveters vasmaak is, of tande borsel, of met ’n skerp mes sny. Hulle wil dit self doen.

LEES OOK: Lewenskoste … en die koste van ’n lewe

Maar dikwels beskik hulle nog nie oor die nodige vaardighede nie; soms is dit doodgewoon gevaarlik. Maar ’n ouer se “nee!” is gewoonlik nie genoeg nie.

“Ek wil sélf, Mamma!”

Baie grootmense ontgroei nooit hierdie fase nie. Daar is iets in ons wat dinge self wil doen. Ek, en ek alleen. Op my eentjie. Dalk wil ons later kan sê ons het dit self reggekry.

Dis nie noodwendig sleg nie, want dit leer ons om deur te druk. Dit help ons om nuwe vaardighede te bemeester. Dit help bou aan ons selfvertroue.

Maar met verloop van jare leer ons tog ook dat dit ewe belangrik is om te weet dat ons soms wel hulp nodig het. Maar om te leer sê “ek kan nié self nie”, of “kom help my, asseblief”, is nie so eenvoudig nie. Dis ’n dapper ding om te sê. Te erken. Ouers sukkel daarmee, en daarom sukkel hulle om dit vir hul kinders te leer.

Ons is alte dikwels te trots om te erken ons sukkel, en dat ons hulp nodig het. Maar daar was seker nog nooit ’n tyd waarin ons dit so nodig gehad het om mekaar te help soos juis nou nie. Die lewe is onstuimig – in ons land, en wêreldwyd. En die geldsake druk. Mense kry swaar. Óns kry swaar. En almal bly stil daaroor.

’n Mens is egter nie gemaak om alleen te worstel met die uitdagings wat oor ons pad kom nie. Die Here het dit uit die staanspoor geweet: “Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom ’n helper maak, as sy gelyke” (Gen 2:18).

Ek kan voor my geestesoog sien hoe Adam daar in die tuin sukkel, alleen. Eva is geskep uit die gedagte dat dit nie goed was vir Adam om alleen te wees nie; hy moes ’n helper hê. En as ek vandag dink aan alles wat ek moet doen voordat ek my man ’n naweek lank alleen laat, verstaan ek arme Adam se dilemma goed …

Die ou Prediker het dit wonderlik mooi geformuleer: “Twee vaar beter as een. Hulle inspanning kom tot iets. As die een val, kan die ander hom ophelp. Maar as een val wat alleen is, is daar niemand om hom op te help nie. As twee langs mekaar slaap, word hulle warm, maar hoe sal een wat alleen is, warm word? Een alleen kan oorweldig word, twee saam kan weerstand bied. ’n Driedubbele tou breek nie maklik nie” (Pred 4:9-12).

Waarom vind ons dit dan so moeilik om hulp te vra? Of om te erken dat ons nie alleen kan regkom nie?

Is die “ek sal self”-houding ’n aangebore (of dalk ’n aangeleerde?) refleks wat ons nie te bowe kan kom nie? Is dit ’n kulturele probleem omdat ons nie meer in groot families by mekaar woon nie? Is dit doodgewoon ons ego wat dit vir ons moeilik maak om hulp te vra?

Of spruit dit dalk uit die oer-leuen wat die slang kom verkondig het die dag toe hy Eva van die boom van kennis laat eet het? Ons dink ons besit alle kennis!

Dalk is dit ’n samevoeging van al bogenoemde faktore.

Hoe ook al, ons kan baie ellende voorkom as ons sal leer om hulp te vra. Die ou Romeinse dramaturg Plautus het destyds al gesê dat geen mens wys genoeg so op sy eentjie is nie. En die Joodse Talmoed vra en antwoord só: “Wie is ’n wyse man? Hy wat by alle mense leer.”

Ons kan baie by mekaar leer. Ons is immers geskep om mekaar te help.

Ek laat my seuntjies toe om te sukkel. Ek kyk hoe hard die dom vingertjies werk. Oplaas vra ek weer: “Kan Mamma nou help?”

Dan help ek, en ek prys hul probeerslag, én ek verduidelik aan hulle dat ook groot seuntjies soos hulle soms hulp nodig het.

Ons almal struikel en val. Wanneer iemand dan aanbied om jou op te help, aanvaar dit met dankbaarheid. Leer tog dat twee beter vaar as een. En onthou om volgende keer betyds te roep: “Kom help my, asseblief!”

  • Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.

 

No data was found

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF