Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

‘Ek gaan slaap elke aand met ’n dankbare hart’ – 81-jarige skaapboer ná haar man se beroerte

Die 81-jarige Susan Visagie boer die afgelope jaar voltyds op haar en haar man se skaapplaas De Puts op die grens van die Agterveld en die Roggeveld. Sy moes die boerdery noodgedwonge oorneem nadat Willie (91) twee beroertes gehad het en daarna nie meer aktief by die boerdery betrokke kon wees nie. Boonop bak sy saans koekies en beskuit vir ’n ekstra inkomste. Dán, so vertel sy, gaan slaap sy met ’n dankbare hart.

Dit lyk asof niks Susan Visagie daarvan kan weerhou om die boerdery op hul plaas, 93 km van Calvinia, op geoliede wiele te hou nie. Elke dag, van vroeg tot laat, behartig sy die merino-boerdery. En saans bak sy behoorlik ’n storm op in die plaaskombuis.

Sy is ’n vrou wat na aan die Here leef en Hom met alles in haar lewe vertrou. Sy vertel hoe sy die Here se goedheid mildelik ervaar, ook die keer toe sy wonderbaarlik ontkom het nadat sy haar motor afgeskryf het.  

Sy en haar man Willie het ook reeds vier lang droogtes oorleef, en etlike korteres so tussendeur.

‘My geld is op, én my planne’

Sy onthou wel die keer toe haar man moedeloos vir haar gesê het: “Ons geld is op, en my planne is ook op.”

Susan vertel: “Dit het gevoel asof die bloed uit my lyf vloei ná Willie se woorde. Ek het besef dat ek moes sterk staan. Ek het vir hom gesê dat die Here ons nog altyd in ons swaarkry bygestaan het. Hy het ons nog nooit gelos nie. Hy sal ons weer help.”

Toe het haar ma se wyse woorde by haar opgekom: As jy doen wat jy kan, sal die Here jou help met dit wat jy nie kan nie.

“Daardie einste oggend het die foon gelui, en ek is gevra om by ’n nabygeleë plaasskool te kom uithelp. Dit het ons, finansieel gesproke, ’n hele paar jaar lank gedra. Dit is dan dat jy weet ons dien ’n lewende God.”

Selfs die onlangse nege jaar lange rugbreek-droogte, van 2012 tot 2020, wat etlike boere geknak het, het hulle nie ondergekry nie. Susan het in daardie tyd betrokke geraak by die projek “Save The Sheep” om ’n ekstra inkomste te verdien. Sy het koekies gebak en elke bietjie wins in die plaas teruggeploeg. Sy vertel ook van die welkome kospakkies wat hulle, soos talle ander boere, in daardie tyd ontvang het.

LEES OOK: Hantam-boervrou vertel: ‘Die Here is my Herder – Hy sorg vir my’  

“Ons moes wel ons kudde kleiner maak ten einde voer te kon koop; ons moes elke sent ’n paar keer omdraai. Maar die Here was ons genadig.”

Hoe kon hulle dit regkry om die plaas te behou?

Sonder huiwering antwoord sy: “Deur in God se goedheid te glo. Deur te glo dat Hy sy beloftes hou. Deur ander te help wat nóg swaarder gekry het. Deur tien keer te dink voordat jy besluit om iets te koop.”

‘Dankbaar, tot in ons diepste wese’

Susan was deel van ’n biduurgroepie van sowat agt vroue. Dié gebede het hulle almal gedra. “In daardie tyd het meer trane gevloei as ooit tevore. Trane van dankbaarheid – soms vir ’n pakkie meel, ’n kartondoos vol kruideniersware, ’n bakkievrag voer vir ons skape toe ons s’n gedaan was. Dit was goedheid van vreemdelinge.

“En toe die reën uiteindelik in 2021 kom en die dorre aarde deurdrenk, het ons op die stoep gesit en na die stortreën gekyk en gehuil van dankbaarheid. En die Here daarvoor gedank.

“As ons ou droë woestynwêreld dan in ’n blomtuin verander, besef jy hoe groot die Here se genade is.

“Die swaarkry het ons op ons knieë gehou en ons nederig laat bly. Ek het tydig en ontydig met die Here gepraat, en geleer dat Hy luister. Hy was altyd teenwoordig.

“Ons het nooit gevra ‘waarom, Here?’ nie. Ons onthou hoe swaar Job gehad het. En ons weet hoe Jesus aan die kruis gevra het: ‘My God, my God, waarom het U my verlaat?’ Ons het dankbaarheid tot in ons diepste wese ervaar.

“Die belofte in Jesaja 41:10 het my deurgedra: ‘Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou.’”

’n Stoetram as geskenk

Ná die erge droogte was daar minder as 50 merino-ooie op die plaas. Toe, so 18 maande gelede, het ’n gawe buurman vir hulle ’n stoetram present gegee. Dit het tweelinge en drielinge opgelewer.

“Ons het dié welwillendheidsgebaar ontsettend waardeer. Ons kudde het asof oornag begin groei. Dit was suiwer genade, en eintlik ’n wonderwerk.”

Toe Willie in Januarie 2025 ’n tweede beroerteaanval kry, dié keer erger as die vorige een, was daar groot skade aan sy liggaam. Sy spraak is aangetas, asook die regterkant van sy lyf. Gelukkig het fisioterapie gehelp en hy is tans selfversorgend. Susan vra steeds sy raad met die boerdery.

Haar dag begin someroggende halfvyf, ná ’n koppie boeretroos.  

“Ek en my staatmaker en regterhand Johannes Pieterse behartig die merino-boerdery. Hy help met algemene herstelwerk, en hy ry elke dag saam met my na die skape se waterbakke en voerkrippe om te kyk dat dit vol is en dat die windpompe reg is. Hy help my om die skape te doseer vir siektes soos bloutong en bloednier, en help spuit die skape teen bosluise. Ook help hy my om die lammers te weeg voordat ons hulle bemark.

“As die son saans water trek, dan voel ek tevrede en gelukkig. En ek weet dat nog ’n dag se werk suksesvol afgehandel is. Saans bak ek op aanvraag koekies en beskuit. Daarna kan ek met ’n dankbare hart gaan slaap.”

‘Ek is so lief vir die plaas!’

Hierdie trotse ma van vier en ouma van tien ry twee keer ’n maand Calvinia toe vir aankope.

“Ek is so dankbaar teenoor die Here vir sy ingrypings in ons lewe. Sy wonderwerke. Ook toe my huishulp Miekie Pieterse sonder ’n bloukol of ’n skrapie uitgeklim het nadat my Toyota Avanza verlede jaar gerol het, en ek slegs ’n rib beseer het.

“Wat ook wonderlik was, is dat ek toe ’n baie beter kar in ’n puik toestand en met minder kilometers as die oue gekry het nadat die versekeringsgeld uitbetaal is. Die Here het vir my iets baie beters in gedagte gehad! Ek kan daarvan getuig dat dankbaarheid jou houding en jou hart verander.

“Ek is so lief vir die plaas! Ek beskou dit as ’n voorreg om nog gesond genoeg te wees om te kan boer. Die plaas en die barre omgewing kruip diep in ’n mens se hart.

“Ja, dit is nou weer droog, maar net die ramme kry ’n bietjie voer om hulle ’n hupstoot te gee. Ek is nie meer bang vir droogtes nie; ek hou aan God se beloftes vas. Swaarkry leer jou om selfondersoek te doen, om uit te reik na dié wat minder as jy het. Dit leer jou vertroue en dit wys jou of jy nog op die regte pad is.

“Jy weet dat die Here daar is vir dié wat verslae van gees is. Jy leer dat God onveranderlik is. En jy leer dat daar in hierdie bose wêreld baie engele is, onder andere medegelowiges wat vir jou bid.

“As ek my lewe sou kon oorhê, sou ek net mooi niks daaraan verander nie. Die swaarkry het my laat groei en het my geloof versterk. Dit het my geleer dat die Woord waar is en dat ons kan vashou aan God se liefde vir ons.

“Ek het geleer die Here word ’n groter werklikheid vir jou wanneer jy swaarkry.”

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

No data was found

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF