Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

Hantam-boervrou vertel: ‘Die Here is my Herder – Hy sorg vir my’  

“Al boer ek nou alleen op ons skaapplaas, is ek nie bang nie. Ek weet die Here is deurentyd by my.”

So sê Petra Visagie (55), boervrou van Rhenosterkop in die Agter-Hantam naby Calvinia. Haar man Deon is 19 maande gelede oorlede. Dié diep gelowige boervrou is hartstogtelik lief vir die plaas, die veld en die oop ruimtes.

Die pot moet bly kook

Ná Deon se dood moes sy eenvoudig inspring en sy plek volstaan. “Ek móés die pot aan die kook hou. My twee dogters, Hilda-Marie (22) en Demi (20), is op universiteit. Buitendien kon ek tog nie my man se nalatenskap tot niet laat gaan nie …

“God het ons gebede verhoor en ons in 2023 met goeie reën geseën. Ná die versengende sewe jaar-droogte, wat ons en baie ander boere finansieel erg geknou het, kon ons weer opstaan. In daardie ellendige tyd was ons van kospakkies afhanklik, van pakkies wat spesiaal vir die boervroue gestuur is, en van donasies wat uit vreemdelinge se sak gekom het.

LEES OOK: ‘Dis moeilik om oor te begin, maar ons is planmakers,’ sê dié Karooboere

“Maar nou is die damme tot barstens toe vol. Die veld juig ná die onlangse goeie reën. Die weiding is nou genoeg vir die skape.”

Die plaas Rhenosterkop lê aan die voet van ’n klipkoppie. “Hierdie koppie is omring deur bossieveld, kliprante en gronddamme,” sê Petra. “En dis vir ons gesin ’n simbool van ons geloof. Deon het ’n paar jaar gelede ’n kruis op die koppie geplant. Elke jaar met Paasfees klim ons teen die koppie uit en gaan hou daar nagmaal. Dan skryf ons briefies wat ons in die klipskeure druk. Dis ’n simboliese gebaar om aan te dui dat ons ons probleme by Jesus se voete neerlê.”

Om vrou-alleen te boer

Petra praat graag oor haar man met wie sy 22 jaar lank getroud was. “Deon was ’n sterk man met groot boerehande wat vir niks verkeerd gestaan het nie. Hy was ’n uitnemende boer met ’n sagte hart en hy was ’n fantastiese pa vir sy kinders. Hy het ’n groot omgeehart vir ander mense gehad en graag gehelp waar hy kon.

“Deon is ná ’n hartprosedure oorlede. Ek was nie kwaad vir die Here nie. Ek het geweet Deon is die Here se kind en dat hy nou by sy Vader is. Sy dood het my nader aan die Here gebring as ooit.  

“Ek luister graag prys- en lofliedere wat my kalm maak. Die liedjie ‘Scars in Heaven’ het al vir my so baie beteken, want ek weet dat daar geen pyn in die hemel is nie, en daar het ons geen littekens nie. Ons is skoon, vry en nuut. Ek weet dat ek eendag weer by Deon sal wees.

LEES OOK: ‘Ek staan nie net hier vir roosterkoek braai nie,’ sê tannie Poppie van Laingsburg

“Een van my bure het ná Deon se dood vir my gesê die Here is nou my eggenoot. Dit waaroor ek altyd met Deon gepraat het, sê ek nou vir Hom. Dit maak my rustig.”

Petra is daarvan oortuig dat mense se goedheid teenoor haar vanuit Deon se goedheid teenoor ander spruit. “Aanvanklik het ek nie gedink ek kan alleen verder boer nie, want ek weet te min. Maar ek is uit alle oorde hulp aangebied, wat ek dankbaar aanvaar het. Veral daardie eerste ses maande ná sy dood. Dit het my in daardie bitter tyd baie gehelp.

“Maar ek het tog, sonder dat ek dit regtig besef het, baie van die boerdery by Deon geleer. Dis daarom dat ek uiteindelik besluit het om alleen verder te boer.

“Om alleen te boer bring wel talle uitdagings mee. Dit is ook emosioneel gesproke nie altyd maklik nie. Ek is nie ’n mens wat graag my gevoelens wys nie. Ek glo wel dit help my om met een van my hartsvriendinne of met Deon se suster Petro te praat om my emosies lug te gee. Soms sit en huil ek om die kombuistafel saam met iemand wat Deon geken het.”

‘Die Here wys my elke dag Hy is by my’

Haar geloof in ’n God wat sorg, het haar in dié tyd gedra. Sy verwys graag na Psalm 146:9, wat só lui: “Hy beskerm vreemdelinge en help die weeskinders en weduwees, maar Hy versper die pad van die goddeloses. Die Here regeer vir altyd. Jou God regeer van geslag tot geslag.”

Sy sê sy vra die Here elke dag om vir haar te wys dat Hy by haar is, en dat Hy haar moet help om die regte dinge te doen. En elke dag stuur die Here iets oor haar pad. Meestal is dit besonderse vere, soos die veer van ’n pou wat nie in hul geweste voorkom nie, of ’n blommetjie wat sy nog nooit voorheen gesien het nie.

“Ek kan nie dink dat ek op ’n ander plek as die plaas moet wees nie. En ek is dankbaar dat ek nog jonk genoeg is om die plaaswerk te kan doen. My bure is my vriende, en ons staan almal saam.”

In die somer is Petra reeds teen halfses in die veld. Gepantser met sonroom en ’n hoed teen die fel Hantam-son, werk sy dan met die skape. Sy en haar twee werkers is die hele dag in die veld en hulle geniet sommer hul middagete daar.

Saans is sy moeg as sy by die huis kom. “Maar dis ’n lekker moeg! Ek kla nie daaroor nie; sulke oefening is goed vir die liggaam en die gees.

“Dan is daar vir my niks lekkerder as om op die stoep te gaan sit met ’n lekker koppie koffie in die hand nie. Ek kyk oor die plaas, en na die pragtige sonsondergang.”

Desembermaande, wanneer die werkers met vakansie is en haar studentedogters tuis, dra Petra en die meisiekinders 50 kg-voersakke rond. Hilda-Marie en Demi is net so lief vir die plaas soos sy.

Uitdagings en troos

Daar is natuurlik steeds vele uitdagings. “Ons grootste uitdaging is veediefstal. Daarom merk ons die skaap met plaatjies aan hul ore en tatoeëer die lammers. Sedert Deon se afsterwe het ek al ’n 1000 skape aan veediefstal verloor. Ek skryf dit toe aan die feit dat ek ’n vrou is en dat ek tydens die rouproses nie my volle aandag aan die boerdery kon gee nie.

“Ander uitdagings sluit in: ongediertes, soos rooikatte en jakkalse; veesiektes; ’n tekort aan geld, want veevoer en -medisyne is baie duur.”

Petra is ’n tipe 2-diabeet en moet daarom haar dieet reg bestuur. Sy vertel: “Ek mag nie te veel koolhidrate inneem nie en het daarom begin om my eie suurdeegbrood te bak. Dis boonop baie terapeuties, en smiddae neem ek daarvan saam veld toe. My bure bestel deesdae ook brood by my. Omdat ek van bak hou, bak ek ook ’n verskeidenheid kleinkoekies, asook koekies wat vir diabete geskik is. Dit alles verkoop ek dan by ons lentemark.”

Petra sê sy ontstel haar nie meer so maklik oor al die uitdagings op haar pad nie. “Ek het geleer om my vertroue in die Here te plaas. Hy is in beheer van my lewe en Hy gee my krag vir elke dag.”

Petra vertel hoeveel krag sy uit twee spesiale psalms put: “Die een is Psalm 121, en spesifiek Hans du Plessis se verwerking daarvan. Die Kaapse Jeugkoor sing dit, en dit roer my hartsnare. Ek kan my daarmee vereenselwig omdat ek ook elke dag by die skape in die veld is.

“Psalm 23 lê my ook na aan die hart. Deon se herderstaf hang teen ons bed se kopstuk. Dit het ’n ronding om ’n lam nader te trek wanneer hy uit die bondel wegbreek. Dié staf herinner my aan hoe God elke afgedwaalde skapie gaan soek. Hy ken elkeen se naam. Daarom is ek rustig by Hom. Hy is my herder.”

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Geborg
Geborg
Geborg

Getuig saam met LiG

Geloof, hoop, getuienis – Ondersteun LiG vandag en word deel van die getuienis…

Vertel my meer

Skep getuienisse saam

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF
Kyk nou ►