DEUR ESTHER ENGELBRECHT; FOTO’S: JUANETTE ERASMUS
In Augustus 2022 het ek steekpyne in my linkerbors gekry. Ek het eers gedink dis seker maar soos groeipyne en dit as “niks” afgemaak. Maar iets in my het tog gesê dis meer as bloot ’n pyn, en ek moet voel vir knoppe. Natuurlik is ’n mens bang wat jy gaan vind as jy só begin voel …
Ek het gaan stort en vir myself gesê: Jy móét maar voel, want hoe anders gaan jy weet? Toe vind ek ’n groot knop. Natuurlik was ek geskok. Hoe sê ek dit vir my man? En vir my ouers? Ek is 43 jaar oud en het nog nooit vir ’n mammogram gegaan nie.
Laas jaar, 25 Augustus, is ek na my ouers toe om my ma se verjaardag te vier. My pa het gevra of ek iets wil drink, maar ek het “nee dankie” gesê. Ek het emosioneel gevoel, en toe bars ek in trane uit. Daarop vertel ek hulle ek het ’n knop in my bors ontdek. En ek weet nie wat om te doen nie.
My pa het my ’n stywe drukkie gegee en gesê ek moenie die ergste verwag nie. My pa en ma het mooi met my gepraat en ek het beter gevoel. Hulle het my aangemoedig om dadelik ’n afspraak by Wilgeheuwel-hospitaal in Roodepoort te maak.
LEES OOK: ‘As ek dié kan doen, kan ek enigiets doen,’ sê 16-jarige oor kankerstryd
Intussen het ek besluit om eers te wag voordat ek die nuus aan my man breek, omdat hy op 28 Augustus verjaar. Maar twee dae voor sy verjaardag het ek hom tog vertel. Die oggend van my afspraak het ek vir my skoonsus gewag om my te kom haal. Voor sy kon opdaag, hou my man stil en sê hy het besluit om saam te gaan. Ek was so dankbaar!
Ná die prosedure hoor ek dis moontlik bloot ’n sist, en ek reël ’n sist-aspirasie vir 31 Augustus by my huisdokter in Krugersdorp.
Na afloop daarvan sê die verpleegkundige dat dit nie vir haar soos ’n gewone sist lyk nie, maar dat ons vir die dokter se mening moet wag. Laasgenoemde het kom sê hy sal kyk of daar vloeistof in die sist is, anders sal hy ’n biopsie moet uitvoer. Ek het baie groot geskrik en begin huil.
Die uiteinde was dat daar wel ’n biopsie gedoen is. En toe het die lang wag begin. Vyf dae lank. Ek het elke dag gebel om te hoor of daar nog nie nuus is nie. Die gewag het my behoorlik siek gemaak.
Toe kom die uitslae. Alles negatief. Ek was in ekstase.
Die skoknuus, sommer so …
Maar op 9 September bel my huisdokter en ek hoor die skokkende nuus: “Mevrou Engelbrecht, dis ongelukkig kanker.”
Net so, so oor die foon. Ek was sprakeloos. Hoe sê ’n mens, sommer so, vir ’n pasiënt sy het kanker?
Ek het onbedaarlik begin huil. Ek het gewonder hoe op aarde ek die nuus aan my man en my ouers gaan oordra. My ouers het reeds ’n kind aan kanker afgestaan: My geliefde broer George het in Junie 2016 sy stryd teen slukdermkanker verloor. Hy was maar 44. Nou moes hulle nog ’n keer hoor hul kind het kanker.
Maar ek het my ouers gebel en hulle vertel. Ook my man, my vriende en die res van die familie.
Ek is na ’n algemene chirurg by die Pinehaven-hospitaal in Krugersdorp verwys. Daar vertel die dokter my dat hy my linkerbors gaan verwyder. Dit sal deur chemoterapie gevolg word. Ek kon darem kies op watter dag die operasie moes plaasvind; die chirurg opereer op Dinsdae en Donderdae.
Uiteindelik – die regte dokter vir my
Ek was ontroosbaar. Hoe kies jy die dag waarop jou bors verwyder word? In trane bel ek my hele familie en vertel van die keuse wat ek moet maak.
Ek kry toe ’n oproep van ’n vriendin se tannie wat my van professor Carol Benn vertel, ’n bekende chirurg wat met borskankerpasiënte werk. Ek kry gou genoeg ’n afspraak by haar. En ek neem my man, my ouers en my twee sussies saam met my.
Prof Benn diagnoseer my toe met drievoudige-negatiewe borskanker. Sy verduidelik geduldig wat dié soort kanker behels en hoe dit vorm. Alles in presiese besonderhede. Ek het besef ek is in goeie hande en het reeds heelwat beter gevoel.
Prof Benn het vir ons gesê: “We will always first try and save the breast. Here we treat the patient, not the diagnosis.” Haar optrede was absoluut fantasties, en ek is so dankbaar vir haar en die empatie waarmee sy ons hanteer het.
Maar die onbekende het voorgelê: doktersafsprake, MRI-skanderings, ’n hartspesialis, sonar-ondersoeke, mammogramme, v-merkers. En meer. Alles moes in gereedheid gebring word om seker te maak die chemoterapie kon begin.
Op 28 September 2022 het dié behandeling begin. Daar was ses rondtes van die gevreesde “rooi duiwel”. Elke drie weke. Die “lumpectomy” en rekonstruksie het daarna plaasgevind, en toe het die bestraling begin.
Die drie limfkliere en die knop wat verwyder is, is vir kanker getoets. Negatief. Ek het die klok gelui ’n maand nadat die chemoterapie voltooi is. Ek was oorstelp toe die laaste bestralingsessie afgehandel is.
Vir eers is ek klaar met doktersafsprake. Ek het hard baklei – vir myself, vir my oorlede broer, vir my man. Vir my ouers, my sussies, my familie, my vriende. Ek het die beste ondersteuningsgroep denkbaar gehad.
En ek het ál nader aan God begin leef.
Dit is my storie. Hiermee wil ek sê: Moet nooit moed opgee nie; hou aan baklei. “Cancer is only going to be a chapter in your life, not the whole story.”
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.