Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Frieda van den Heever: ‘Ek soek na hom wanneer ek songs skryf en in die klanke van ons kinders …’

Ná haar man se traumatiese dood moet sy ’n alleenma wees vir hul twee seuns. Dit is nie eenvoudig nie, veral nie as jou trane steeds so vlak sit nie. Maar met verloop van tyd leer dié begaafde vrou hoeveel lewe daar vir haar is om te leef.

Ek wou doodgaan om my man te sien – maar ek wou nie dood bly nie.”

Op ’n Maandagoggend in Bellville ver­tel Frieda van den Heever van dié wens nadat haar draaiboekskrywer-man Leon Kruger oorlede is. Hy het op 15 Julie 2021 in haar arms gesterf aan komplikasies ná Covid-19.

LEES OOK: Milan Murray: ‘My storie is nog lánk nie klaar nie’

Dis meer as drie jaar later. Frieda, ’n bekende radiopersoonlikheid, musikant en regisseur, is sedertdien die alleenma vir twee jong seuntjies.

‘Eers manies, toe lam’

Sy sit-lê gemaklik op ’n groot vloerkussing terwyl haar mooi stem die sinne kunstig aanmekaarweef. Sy is “skougehalte” – Frieda-taal vir gereed wees vir foto’s. Haar dik bos blonde hare het sy self gestileer, sy dra ’n donkerblou rok en haar kenmer-kende ronde swartraambril beklemtoon haar blou oë.

Sy dink terug aan die eerste ruk ná haar man se dood: “Eet was moeilik. Slaap was moeilik. Ek was aanvanklik amper manies om dinge in die huis gedoen te kry. Ek het soggens drieuur wakker geskrik en begin werk; ek het lysies afgemerk.

“Maar toe die skok uiteindelik uit my liggaam uit is, was ek lám. Die uitsigloos­heid waarmee ek soggens wakker geword het was verskriklik. Maar ek kon nie in die bed bly lê nie, want die kinders …”

Frieda is, te midde van talle ander bedrywighede, ook ’n predikant by die InVia Gemeente – wat in Stellenbosch en aanlyn bymekaarkom – en sy is verant­woordelik vir die gemeente se musiek.

Sy vertel hoe die hoë register in haar stem, vanweë die skok en hartseer, “ver­dwyn” het. “Jou stem en jou emosies is baie na aan mekaar. Ek kon maande lank nie sing sonder om te begin huil nie. Maar dan het die lidmate net harder gesing …

“Ek het eers werklik die waarde van ’n gemeenskap besef ná my man dood is.”

‘n Kosbare gesinsfoto voor Leon se afsterwe. Frieda hou Hugi (nou 5) vas en Sebastian (nou 11) sit op sy pa se skoot. Foto verskaf

’n Gebroke getuie

Terwyl Frieda koffie maak, kom haar pa Tallie daar aan, gewapen met gloeilam-pies en gereed om die lig in die vertrek te herstel. Frieda vertel dat haar ouers heel onlangs Springbok in die Noord-Kaap ver­ruil het vir Bellville, ten einde haar en die kinders te kom bystaan.

Sy sê een van die dinge wat haar in haar rouproses gehelp het, was om nie eers te wag totdat sy genees is voor sy weer begin werk het nie. Dié besluit strook met haar predikant-pa se definisie van ’n kerk: “’n Kerk is nie vir gebrokenes nie, dis vir gebrokenes wat dit wéét.”

En Frieda het geweet sy is gebroke, maar ook onlosmaaklik deel van ’n geloofs-gemeenskap. Sy vertel: “InVia Gemeente het my twee maande verlof gegee ná my man se dood. Maar daarna het ek teruggegaan. Ek het besluit om nie te wag tot ek heeltemal genees is voordat ek gaan getuig die Here is goed nie.

“Ek kan nie, soos baie ander mense, op sosiale media oor my pyn skryf nie. Dis nie ek nie. Maar ek kon rou saam met my kerkgemeenskap.”

Niks meer onder die mat nie

Frieda sê sy is wel deur haar oudste seun daarvan bewus gemaak dat sy tuis té sterk probeer wees. “Sebastian (11) het ná my man se dood woedeuitbarstings beleef, en net daarna het die hartseer gekom. Ná een so ’n uitbarsting het ek hom gevra: ‘Hoekom het jy nie vir my gesê jy is nie oukei nie?

“Sy antwoord was: ‘Want Mamma maak of jý oukei is.’

“Daarna het ek besluit om saam met my seuntjies te huil, en om niks meer onder die mat in te vee nie.

“Dit is ook wel so dat ’n vrou wat oor haar man huil soos ’n wolf kan tjank.” En dít het sy wel gedoen, maar wanneer sy alleen was.

“Daar gaan nie ’n dag verby wat Hugi (5) nie sê hy mis sy pappa nie. Ons hond is net voor my man dood. Onlangs het my jongste snikkend gevra: ‘Mamma, kan ons asseblief ’n nuwe pappa kry? En ’n nuwe hondjie? En ’n nuwe sambreel?”

Sy lag: “Daardie middag het hy ’n nuwe sambreel gehad!”

Die ander twee versoeke, sê Frieda, is ’n bietjie moeiliker …

“Maar ek dink die proses van ‘niks onder die mat in vee nie’ en hard te kan huil wanneer jy moet huil, het tot gevolg gehad dat ek gouer as wat ek gedink het weer uit my maag kon lag. Ek was dan só verras deur daardie oomblikke.

“Net om die volgende oomblik weer te begin huil.”

Frieda sê daar is ook ’n ander besef wat vir haar hoop gebring het: “Soms voel diegene wat iemand verloor het dat hulle alleen gelaat word met sóveel liefde in hul hart wat hulle vir daardie mens moet uit­giet. En ek het besef dat al daardie liefde iewers heen moet gaan, en dat ek dit mág uitgiet op ander mense en ander kinders.”

’n Dapper mens

Frieda vertel hoe mense deesdae vir haar dinge sê soos “jy is die dapperste mens wat ek ken”.

Dan keer sy vinnig. “Dis nie dit nie. Jy kry dit net as jy dit nodig het. En as jy een keer in die dood se gesig gekyk het, dan bly daar min dinge oor om voor bang te wees.

“Dis ’n soort dapperheid wat ek nie gekies het nie; die moed is eintlik vir my gegee. Nou pak ek meer aan as voorheen. Want die ergste wat jou kan tref, is om dood te gaan.

“Maar … is dit régtig die ergste wat kan gebeur?”

Een van die dapper dinge wat sy wel aangepak het, was om op die dag in 2022 toe haar man 50 sou word, haar Skoonveld-vertoning by die Stellenbosch Woordfees op die planke te bring. “Toe ek hoor wanneer die show begin, het ek gedink: Goed, dís hoe ek Leon se ver­jaardag sal vier.

“Dié vertoning is steeds nie vir my ’n plesier nie, maar ek is geroep om dit te doen.”

Die meeste van die musiek wat sy hiervoor geskryf het, is op haar eerste vollengte Afrikaanse album Spoorsny, wat vanjaar (2024) die lig gesien het. Frieda het ook die eerste enkelsnit op die album, “Bon voyage”, saam met haar en Leon se goeie vriend Pierre Greeff van die groep Die Heuwels Fantasties gesing.

Sy vertel: “Pierre was van die eerste mense wat hier was ná Leon se dood. Hy het my met soveel dinge gehelp.”

‘Die lewe wil gelewe wees’

Frieda vertel van twee slegte voorvalle kort ná Leon se dood. “Maar in daardie omstandighede het die Here Hom in mense aan ons kom openbaar.”

Sy vertel hoe sy en die seuns op ’n Sondag met ’n onklaar motor langs ’n gevaarlike deel van die N2 beland het. Sy onthou hoe die rubberstrook van die bande afgetrek het. Haar vrees vir haar en haar seuntjies se veiligheid is op ’n merkwaardige wyse omgekeer toe ’n swart gesin langs hulle gestop het. Sy vertel hoe dié mense in ’n kring om hulle gestaan het in ’n poging om hulle te beveilig, totdat daar hulp opgedaag het.

Kort ná dié gebeure het Sebastian in die hospitaal beland. “Ons moes hom skoppend en skreeuend daar indra omdat hy, ná sy pa se dood, vas geglo het ’n hospitaal kan jou nie gesond kry nie.”

Hy het drie dae lank in die hospitaal deurgebring. Frieda vertel hoe moeilik dié episode vir haar was, maar sy onthou ook die nagsuster se wyse, reguit woorde: “Die lewe wil gelewe wees.”

Frieda sê: “Dit het my motto geword. Ek het besef ek kan nie vir Leon in die dood gaan soek nie. Ek moet hom in die lewe soek. Leon sal my nou op snaakse plekke kom vind, daar waar hy my oor­spronklik gekry het. In vreugde, in dinge wat my siel vrede en genot gee.

“Dit was toe dat ek besluit het ek sal hom dáár gaan soek. Op die dansvloer, en wanneer ek songs skryf, en in die klanke van my kinders se lag.”

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF