Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Blom waar jy geplant is? Nie só maklik nie …

Hoe om te blom waar jy geplant is. Dis nie altyd so maklik nie. Maar hier is 'n aksieplan en goeie raad.

Jy sou graag wou blom daar waar die Here jou geplant het – as dit nie vir jou ongelukkige huwelik was nie. Of jou onredelike werkgewer nie. Of jou beroerde geldsake nie. “Omstandighede buite my beheer …” sug jy.

Hoe om te blom waar jy geplant is

“Dit is maklik om net in jou (slegte) omstandighede vas te kyk,” sê dr Jannie le Roux, predikant by die NG Gemeente Gordonsbaai. “En dalk is dit inderdaad so dat jou omstandige moeilik en uitdagend is – of dalk is jy bloot nie tevrede met jou gewone, gemiddelde bestaan nie en smag jy na iets groter en beter.

“Baie mense is daarvan oortuig dat hulle die ideale omstandighede en geleent­hede moet hê voordat hulle kan blom,” sê Jannie. “Maar is dit nie tóg so dat ’n ongemaklike situasie ons kan help vorm en groei nie? Sodat ons gereed sal wees vir die volgende seisoen waartoe God ons wil beweeg en waar Hy ons wil gebruik nie?

“Om te blom waar jy geplant is, beteken dat jy jou fokus moet verskuif. Dat jy nie verder in jou omstandighede vaskyk nie, maar voortaan op Jesus fokus. Dit kan jy slegs in die krag van die Heilige Gees doen.

“Want wanneer jy die Heilige Gees se stem duidelik hoor, begin jy om groei-vrae te vra. Soos: Waarmee is Jesus hier besig? Wat is dit wat net té toevallig is om toevallig te wees? Wat kan ek uit my situasie leer, en hoe kan dit my laat groei?”

Wat sê die Bybel daaroor om te blom waar jy geplant is?

Ds Fay van Eeden, predikant by die NG Gemeente Lynnwood, plaas in dié verband groot klem op die Bybelse verhale. Sy sê: “Die Bybel leer ons dat God elke persoon uniek geskep het. Jou persoonlikheid, gawes, passies en vaardighede is eiesoortig – en God wil dit gebruik, ook daar waar jy nou is.

“Die verhale oor byvoorbeeld Josef, Ester en Daniël herinner ons juis daaraan dat God ons gebruik, selfs daar waar jy nie gedink of gedroom het dit moontlik is nie. Ja, God gebruik onwaarskynlike mense op onwaarskynlike plekke om die ondenkbare te doen.”

Hierop sê Jannie: “Elkeen van hierdie Bybelkarakters het in hulle uitdagende omstandighede iets gedoen wat tot seën vir hulle medemens was. In elke situasie is daar die geleentheid om vir iemand ’n geskenk van God te wees, deur bloot jou unieke belangstellings en gawes uit te leef.

“Hier is Jesus se gesindheid teenoor lyding en swaarkry sekerlik die beste voorbeeld. Lees ’n keer Filippense 2:5 tot 11 deeglik …

“Ons moet kies om God ook in ons huidige, slegte omstandighede te verheerlik. Ons kan dus aanhou glo dat die legkaart wel voltooi sal word – al sien ons nou nog net die los stukkies raak. Romeine 8:28 herinner ons daaraan dat God uiteindelik alles, ook ons swaarkry, ten goede sal laat meewerk.”

Mag ek my moeilike situasie probeer verander?

“Natuurlik mag jy om uitkoms vra!” sê Jannie. “As jy iets aan jou slegte omstandighede kan verander – doen dit.

“Dit is egter belangrik dat jy jou eers aan God se wil en plan vir jou lewe onderwerp. Dit beteken dat jy só oorgegee aan God sal lewe dat dit vir jou feitlik om ’t ewe is of jy in hierdie omstandighede gaan bly, al dan nie.

“Jy maak jou dus los van dit wat eers belangrik was, en stel jou beskikbaar vir God se werking in en deur jou. As die situasie nie nou verander nie … dan verander jou gesindheid. Besluit dan om ’n geskenk vir ander mense te wees.”

Jannie vertel: “In sy boek Gebed – maak dit enige verskil? vertel die bekende Phillip Yancey van die Christen-martelare se gebede wat hy gelees en bestudeer het. Tot sy verbasing, sê Yancey, het baie min van hierdie lydendes, ten spyte van hulle geweldige ontberings, om uitkoms gebid.

“Hulle het eerder vir hulle onderskeie gesinne gebid. Hulle het gevra dat hulle geloof in dié slegte omstandighede behoue sal bly. En dat hulle die krag sal hê om hulle geloof uit te leef. In baie van die gebede word die Here geloof vir die voorreg om ter wille van sy koninkryk te ly.”

“God kan ons in enige situasie gebruik,” sê Jannie. “Dit maak nie saak hoe donker alles lyk nie. Uiteindelik gaan dit tog nie oor ons gerief en gemak nie. In 1 Petrus 4:19 lees ons immers: ‘Daarom moet dié wat ly omdat God dit wil, hulle lewe toevertrou aan die getroue Skepper, en aanhou goed doen.’

“God se wil in elke situasie is tog dat jy Hom ten volle sal liefhê, en jou naaste soos jouself.”

Blom waar jy geplant is: ’n Aksieplan

Mev Kirsten Long, ’n leefstylafrigter by Coach4Life, gee graag praktiese raad. “Onthou,” sê sy, “daar is in elke lewensituasie positiewe én negatiewe aspekte teenwoordig. Iemand wat byvoorbeeld in ’n ongelukkige huwelik vasgevang is, sal waarskynlik kan erken dat daar ook mooi en positiewe eienskappe in die maat is.

“Dieselfde geld die beroep waarmee jy so ontevrede is, of die mense met wie jy gereeld te doen kry en oor wie jy dikwels kla.

“Indien jy kies om bloot op die negatiewe eienskappe en aspekte te fokus, daarop te broei en aanhoudend daaroor te praat, sal jy ongelukkig en ontevrede bly. Maar as jy besluit om doelbewus op die mooi en positiewe aspekte (wat daar wel is!) te konsentreer, sal jy rustiger en meer tevrede kan lewe.

“Ons kan baie selde iemand anders se gedrag en houding verander – of dit nou ’n huweliksmaat of ’n onredelike werkgewer of ’n irriterende kennis is. Jy kan egter wel jóú houding, gedagtes en oortuigings kies en beheer.”

Lees ook ons artikel: Só help jou geloof om stres te hanteer.

Hier is praktiese raad om te blom waar jy geplant is:

  • Begin jou dag deur vyf dinge neer te skryf waaroor jy dankbaar is. Probeer om elke dag iets anders te kies. Teken jou dankbaarheid oor klein dingetjies ook aan – soos vir ’n warm koppie tee op ’n koue dag, of die mooi van ’n bos blomme.
  • Skryf jou voornemens vir die dag neer. Sorg dat jy elke dag met so ’n positiewe en werkbare voorneme begin.
  • Hoe beplan jy om vandag ander se lewe aan te raak en iets van jouself te gee? Miskien kan jy besluit om jou moeilike werkgewer met ’n glimlag te groet. Of om werklik die spreekwoordelike ekstra myl te loop. Of om jou dankbaarheid teenoor iemand anders uit te spreek.
  • Wees bewus van negatiewe gedagtes en gedagtepatrone. Indien jy jou betrap dat jy oor negatiewe dinge dink, sê dan: “Ek gaan nie nou hieraan dink nie. Ek gaan fokus op dit wat nou gebeur.” En doen dit dan.
  • Doen jou bes, selfs met die klein dingetjies. Wanneer jy jou volle aandag gee aan die taak waarmee jy nou besig is, en dit na die beste van jou vermoë afhandel, het jy ’n suksesbelewing en ervaar jy rustigheid.

Fay moedig almal aan om ’n ondersteuningsnetwerk op te bou. “Praat met jou omgeegroep en vra hulle om saam met jou te bid. Of gaan spreek ’n professio­nele persoon wat jou kan help om krities na jou omstandighede te kyk. Iemand wat die regte vrae daaroor sal vra, al is dit moeilik.

“Dit vra baie om ons eie aandeel aan ons slegte omstandighede te erken. Wié sê graag dat hy verkeerde keuses gemaak het en dat dít bygedra het tot die slegte situasie waarin hy hom bevind …?

“Nee, dit is nie maklik om objektief na ’n situasie te kyk en jou eie rol daarin raak te sien nie. In sulke gevalle kan objektiewe en professionele raad baie werd wees.”

Kontakbesonderhede van kenners

  • Dr Jannie le Roux is predikant by die NG Gemeente Gordonsbaai. Besoek www.jannieleroux.co.za vir meer inligting.
  • Ds Fay van Eeden is ’n predikant by die NG Gemeente Lynnwood. Gaan kyk by www.
    nglynnwood.co.za vir meer besonderhede.
  • Kirsten Long is ’n leefstylafrigter by Coach4Life. Besoek www.coach4life.co.za/blog of skakel haar by 082 801 7513.

Geskryf deur Susan Goosen.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.