’n Verhouding waar ouers op ’n ongesonde wyse by hul kinders se lewe betrokke is en daadwerklik inmeng, word veral gekenmerk deur ’n gebrek aan duidelike grense. Wat is die gevolge vir jou kind? En hoe hanteer jy jou inmengerige ouers?
Verhouding met ouers: Wat is gesonde grense?
In enige gesonde verhouding word die onderskeie partye se individualiteit gerespekteer en hul wense, menings en voorkeure eerbiedig. Ouers wat namens hul kinders besluite wil neem, en gereeld die kinders se keuses bevraagteken, eerbiedig nie hul kinders se reg om hul huwelik en gesin te versorg soos wat hulle wil nie.
Hierdie soort gedrag kan vroeg-vroeg reeds begin – en dit lyk op die oog af heel onskuldig. “Ouers het ’n natuurlike instink om hul kinders te ondersteun en hul lewe so maklik moontlik te maak,” sê Anshel Pieterson, maatskaplike werker by Vita Nova Counselling.
“Sommige ouers het egter die geneigdheid om hul kinders se lewe te beheer, meer as wat onwikkelingsgepas is. Hierdie ouers gaan uit hul pad om alle moontlike struikelblokke uit die kinders se pad te verwyder. Om die kinders te beskerm teen enigiets wat kan skeefloop. Dis nie so positief soos wat dit klink nie; dit blokkeer trouens normale en gesonde ontwikkeling.”
Volgens Lianna Morrison, ’n sielkundige op Hermanus, is daar ook ander faktore wat kan lei tot ’n verhouding waar ouers oorbetrokke is en waar gesonde grense nie langer geld nie. In sommige gevalle, sê sy, is daar ’n geskiedenis van inmenging. Of dis die gevolg van ’n geestesiekte of ander soort onstabiliteit. ’n Traumatiese gebeurtenis, ernstige siekte of ’n liggaamsgebrek kan ook daartoe lei dat ouers oorbeskermend word en beheer oor hul kinders se lewe wil neem.
Toets hier of jy ’n inmengerige of ’n helikopter-ouer is.
Tekens van ‘n ongesonde verhouding
’n Ouer-kind-verhouding waar ouers gereeld inmeng, bring negatiewe gevolge mee vir almal wat hierby betrokke is. Nie alleen skep dit spanning tussen ouers en hul kinders en skoonkinders nie, dit beïnvloed ook die ouers se eie lewensgehalte. En dit kan die vreugde steel van ’n gemaklike verhouding met hul kleinkinders.
Lianna sê: “Kinders wat gewoond raak aan hierdie soort inmenging en dit maar gelate aanvaar, voel verantwoordelik vir hul ouers se emosionele welstand. Dit kan ook oorspoel na die kinders se ander verhoudings, sodat hulle mettertyd probeer om ander mense tevrede te stel, selfs ten koste van hulleself.
“Hulle voel skuldig wanneer hulle hul eie behoeftes vooropstel. Dis moontlik dat hulle met ’n lae eiewaarde sukkel, ’n swak selfbeeld. Dat hulle ’n durende vrees vir verwerping het.
“In sommige gevalle ontwikkel daar selfs eetversteurings ten einde op so ’n manier beheer te verkry. Hulle kan dalk nuwe uitdagings vermy, nie hul eie drome najaag of hul eie horisonne verbreed nie.
“Die ouers, aan die ander kant, belê soveel tyd en energie in hul kinders se lewe, verhoudings en beroep, én in die kleinkinders, dat hulle glad nie meer by mekaar of hul eie vriende en kollegas uitkom nie. Hulle weier dikwels om betrokke te raak by enigiets wat nie hul familie betrek nie en ontwikkel dus nie nuwe belangstellings nie.
“Dit word ’n bose kringloop, omdat hulle later niks anders het om voor te leef nie en hul waarde slegs in hierdie verhouding soek.”
Hoe hanteer ek my inmengerige ouers?
- Dis belangrik om eerstens jou grense ten opsigte van jouself en jou gesin te definieer. ’n Paartjie moet hieroor met mekaar saamstem en hul onderskeie verwagtinge duidelik deurgee.
- Wees bedagsaam, maar ferm.
- Gee erkenning aan die rol wat jul ouers in jul lewe speel. Die ouers moet weet dat hulle waardeer word; hulle moet wel ook weet dat julle jul eie keuses wil maak en jul eie besluite wil neem.
- Sorg ook dat julle tyd inruim om ander verhoudings en belangstellings buite die onmiddellike familie te ontwikkel en te koester.
Hoe stel jy gesonde grense?
Wanneer gesonde grense binne ’n verhouding aangemoedig word, word verskillende rolle en verantwoordelikhede sodoende gerespekteer en aangemoedig. Hierdie grense beklemtoon wedersydse respek, dit dra duidelike verwagtinge oor en dit onderstreep toepaslike en ontoepaslike gedrag. Lianna moedig ouers aan om hul kinders van jongs af aan te moedig om onafhanklik te wees, om gesonde verhoudings buite die gesin op te bou en om hul eie belangstellings te ontwikkel.
Wenke vir ‘n goeie ouer-kind-verhouding
- Leer jou kinders om hul eie liggaam te versorg.
- Help hulle om hul eie emosies, asook dié van ander, te identifiseer en te kan “lees”.
- Leer jou kinders om hul behoeftes en wense te verwoord, en ook om te aanvaar dat dit soms nie moontlik is om dit dadelik te bevredig nie.
- Leer hulle om “nee” en “ja” te kan sê.
- Leer hulle om iemand anders se “nee!” te respekteer.
- Leer hulle om verantwoordelikheid te aanvaar vir hul eie gedagtes en gevoelens, en nie ook vir iemand anders s’n nie.
- Ondersteun hulle, ja, maar moet hulle nie telkens “red” wanneer hulle in die moeilikheid is nie. Leer hulle om die gevolge van hul keuses en optrede te dra.
Oorspronklike artikel geskryf deur Susan Goosen.