Was jy ook al, soos ek, skaam dat jou inkopielys aan God elke dag so lank is? ’n Bietjie verleë omdat jy oor en oor dieselfde dinge vra, vir dieselfde mense bid en eintlik soms nét vra al weet jy dat gebed ook oor lofprysing, dank en aanbidding behoort te gaan? Ander kere weer voel ’n mens mos totaal onbeholpe met jou eie gebreekte woorde.
Kort dagstukkie vir vandag
Gelukkig raak ons Here nooit afgestomp vir ons menslike behoeftes en versoeklysies nie. Inteendeel: God wil juis hê dat ons met gemak sommer net ons alledaagse “onbelangrike” dinge na Hom neem – sommer daar waar ons met ons gewone dinge besig is. En natuurlik verlang Hy ook dat ons ons diepste pyn, seer, bekommernis, vrees en twyfel met Hom sal deel … al weet Hy eintlik reeds daarvan.
Hoor dit vandag: God kán nie moeg word vir ons sogenaamde onbenullighede, persoonlike “ou dingetjies”, ons geneul en herhaalde woorde nie. Inteendeel: Dít sê vir God ons wil Hom deel maak van ons wêreld, ons lewe … en die ritme van ons hart.
Kort gebed vir die dag
Gekrabbelde gebede
Here, ek copy en paste so dikwels
gister se gebede weer in vandag se versoeklysies aan U.
Ander kere verstaan ek nie eens my eie handskrif nie!
Miskien omdat ek eintlik nie weet wát ek nodig het nie.
En dan is daar dié kere wat ek
regtig vergeet om my gebedslysie vir U te gee.
Dankie dat U dan nie u deure vir my toemaak nie,
maar die Oop-vir-besigheid-bordjie
permanent aan u hart hang.
Vandag kniel ek opnuut in groot dankbaarheid
en ootmoed voor U in die wete
dat U wat heilige God is,
ook my geflopte gebede
diep in u hart van begrip en liefde bêre.
Hulle lank reeds sien kom.
In die verte.
Amen.
Uit die Skrif:
Bid, en julle sal ontvang, sodat julle blydskap volkome kan wees – Johannes 16:24b.
Deur Milanie Vosloo
Lees ook: Dagstukkie: Een klein kersie: dis jý!