Chanélle Badenhorst is 37, en sy het drie keer in haar lewe by die dood omgedraai. Die laaste keer was vier jaar gelede toe sy ’n hartstilstand oorleef het. Vandag leef (én hardloop) sy teen vol spoed; haar swaarkry-storie het haar ’n doel in die lewe gegee. HOOFFOTO: Spiral Studio Photography
Chanélle Badenhorst van Bloubergstrand was 33 toe sy op ’n dag by haar kantoor ineengestort het. Dit was ’n hartstilstand, en sy het dit byna nie oorleef nie.
Maar dit was nie die eerste keer dat sy by die dood omgedraai het nie. Sy was maar 19, ’n student op Potchefstroom, toe sy ’n week lank in ’n koma was. Toe was dit virale meningitis.
En net ses weke later is sy met ’n seldsame breingewas gediagnoseer. Sy is as ’n invalide terug huis toe. Genadiglik het die behandeling suksesvol afgeloop en sy het herstel.
‘Ek wou nie ’n robot wees nie’
Wanneer die borrelende 37-jarige Chanélle die LiG-span by haar huis innooi, is dit moeilik om te dink dat dié vrou al soveel trauma deurgemaak het. ’n Tatoeëermerk, ’n mediese simbool in ink wat aandui dat sy ’n pasaangeër het, loer bo haar maroenkleurige toppie uit. Dit is die enigste teken wat iets van haar uitdagende verlede verklap.
Chanélle stel op haar ondeunde manier “Elektra” aan my voor, haar pasaangeër. Hierdie battery hou haar hart aan die klop wanneer dié nie meer kan nie.
Daardie dag vier jaar gelede toe haar hart gaan staan het, bly haar by. Die kardioloog, dr Wouter Basson, het nie gedink hy sou haar kon deurhaal nie.

Chanélle vertel dat haar hart skade opgedoen het met die destydse meningitis. Toe sy boonop in haar dertigs Covid-19 opdoen, en voortgegaan het om te oefen omdat sy nie enige fisieke simptome ervaar het nie, was die koeël deur die kerk.
“My hele gesin het destyds Covid-19 gehad, en ek kon almal versorg. Die enigste aanduiding dat ek dit onder lede gehad het, was my reuksintuig wat skielik verdwyn het. Ek het gedink ek het lank genoeg gewag, en toe het ek weer begin draf. Maar ek het my misgis; ek het nié lank genoeg gewag nie …”
“Daarom is ek deesdae passievol om met mense oor hartgesondheid te praat. Ek sê vir hulle: Jy moenie oefen as jy siek is nie! En jou kinders moenie oefen of aan sport deelneem as hulle siek is nie.”
Haar groot ysblou oë is vol erns wanneer sy sê: “Daardie dag toe ek ineengestort het, het my hele lewe verander. Psigologies, emosioneel en fisiek. Ek het ’n baie donker tyd deurgemaak.

“Ek wou nie ’n robot wees nie … en nou werk ek met ’n battery! My man Lihan spot en vra waar my af-knoppie is. Maar ons moes ’n lang pad loop om nou hieroor te kan grappies maak.”
Met Klara-Belle aan haar sy (of by haar voete)
Ná die hartstilstand moes Chanélle onmiddellik aanpassings aan haar leefwyse maak. Dit was nou ’n prioriteit om haar kardio-gesondheid te verbeter. “Ek eet kardio-vriendelike kos. Dit beteken min suiker en min vet, en baie groente en vrugte.
“Boonop het die dokter my aangesê om te hardloop. Nie stap of fietsry nie; ek moet elke dag draf. Dis soms moeilik, want ek was ’n naelloper op skool en ek het nie van hardloop gehou nie!”
Maar nou draf sy tot 25 km per week. “Die pasaangeër se gereelde skokke maak die batteryleeftyd kort. Ons wil dit dus verleng. En daarom moet ek hardloop sodat my hart nie so afhanklik van die pasaangeër is nie. Die hart moet self soveel werk moontlik doen.”
Gelukkig hardloop sy nie alleen nie. Klara-Belle is ’n golden retriever wat tans as Chanélle se mediese dienshond opgelei word, en sy is met elke tree aan haar sy.

Tydens ons gesprek lê Klara-Belle die meeste van die tyd by Chanélle se voete. Die hond “voel” deurgaans Chanélle se pols. Binnekort, as haar opleiding voltooi is, sal sy Chanélle kan waarsku as dié se hartklop te stadig is.
Aanpassings en vrese
Chanélle moes ondertussen ook haar werk-ure verminder sodat sy genoeg kan rus, en sodat sy by haar gesin en by haar broodnodige oefenprogram kan uitkom.
Sy vertel hoe sy aan haar dogters Lené (11) en Larah (6) moes verduidelik dat haar hart nou “anders” werk. “Ongelukkig het die hart nie genees nie. Daar koms soms oomblikke dat dit nie lekker werk nie en dat die pasaangeër geaktiveer word.

“Daardie paar millisekondes kan ’n sinkopie-episode aanbring, wat kortweg daarop neerkom dat ek flou word. Dit het al gebeur terwyl die kinders by my was. Daarom moes ons met hulle gesels. Ons het hulle vir berading gestuur, want hulle het skielik die vrees ontwikkel dat hul mamma kan doodgaan.
“Ons moes ook vir hulle verduidelik dat ons almal eendag sal doodgaan, en dat my hart nie noodwendig die oorsaak van my dood sal wees nie. Ons het hulle van die battery vertel – en agtergekom dat hul begrip van tegnologie dit eintlik maklik maak. Hulle verstaan dinge soos sonpanele en inverters wat elektrisiteit verskaf as daar ’n kragonderbreking is.
“Ons vertel hulle dat my hart nie deurentyd die pasaangeër nodig het nie, dat hy self klop. Dat die pasaangeër net partykeer moet help.”
Hoe bly sy positief?
Dit het ’n hele ruk geduur voordat sy by die lig gekom het, sê sy. “Die eerste twee weke nadat ek die pasaangeër gekry het, het ek vol donker gedagtes in die bed gelê. Ek was moedeloos.”
Namate die tyd verbygegaan het, het sy probeer om elke dag iets positiefs te doen. Al was dit net om op te staan en aan te trek.
‘Koningin van Harte’
Daar het reeds ’n klompie jare verloop ná daardie traumatiese episode by die kantoor. Chanélle, wat finansiële spanne by Shoprite Checkers help om hul werk suksesvol te doen, leef met oorgawe. “Ek is ’n vrou, en ek het twee pragtige dogtertjies,” sê sy. “Ek het my werk behou. En ek lewe.

“Toe ek dít begin raaksien en daarop begin fokus, het ek minder ‘hoekom?’-vrae gevra. En al die moeilike aanpassings wat ek moes maak, het op die agtergrond geskuif.
“Ek het besef daar is ’n doel met my lewe. En dat ek al die swaarkry kan gebruik. Dis dalk hoekom ek hierdeur moes gaan. Ons lees van sóveel mense in die Bybel wat rowwe tye deurgemaak het; God het hulle nie die swaarkry gespaar nie. Maar Hy was by hulle. Soos Hy ook by my is, elke liewe dag.
“Daarom vra ek nie meer ‘hoekom, Here?’ nie. Ek vra dat Hy my wys hoe ek met my storie ander mense kan bemoedig wat ook deur donker tye gaan.”
Chanélle se storie is ook die rede waarom sy op 3 Julie 2026, as een van die semi-finaliste vir die aanwysing van Mev Suid-Afrika, aan die Semi-final Showcase in Gauteng gaan deelneem.

“Die Here het dit op my hart gedruk om deel te neem. Aanvanklik was ek baie huiwerig, en ek het Hom gevra of ek nie eerder ’n selgroep kan begin nie!” lag Chanélle.
Maar, sê sy, nou weet sy dié reis gaan oor gehoorsaamheid, en dat haar deelname haar die geleentheid bied om haar storie vanaf ’n groter platform met ander te deel.
Sy moet tien kaartjies vir die groot geleentheid verkoop, en sy het besluit om dit nie aan familie of vriende te gee nie. Sy het deur die hulporganisasie Moeggesukkel die tien kaartjies aan minderbevoorregte vroue geskenk. Hulle sal die spogfunksie in mooi rokke en spesiale grimering bywoon.
Vir dié seisoen in haar lewe noem sy haarself nie net ’n hartpasiënt nie, sê sy. “Ek is die Koningin van Harte, omdat ek die dogter van die Koning is.”
- As jy vir Chanélle wil stem, SMS (R3) “Chanélle Badenhorst” na 47587. Jy kan ook gratis stem deur haar Instagrambladsy én Mrs South Africa se Instagrambladsy te gaan like. Laastens moet jy ook hierdie post oor Chanelle gaan like.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.




















