Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

‘My rolstoel definieer my nie meer nie,’ sê student wat weer groot droom

Ná moeilike grootwordjare en ’n liefde-haat-verhouding met haar rolstoel, benut Naudine Booyens vandag elke oomblik om voluit en onafhanklik te leef. As 23-jarige uitblinkerstudent is sy op koers om ’n BCom-graad met onderskeiding te behaal. Die blink toekoms wat op haar wag, het egter groot opofferings geverg en talle ontberings meegebring.

Naudine het die grootste gedeelte van haar lewe in ’n rolstoel deurgebring nadat sy prematuur gebore is. In 2008 is ’n spierverlengingoperasie in haar bene uitgevoer, maar dit het nie na wense verloop nie. Sy vertel: “Eers ná die operasie het die dokters besef dit het eintlik alles vererger, maar toe was dit te laat.”

LEES OOK: ‘God het die reuse op my pad verslaan,’ vertel jong vrou ná vier breinoperasies

Boonop was die situasie tuis onstuimig vanweëhaar pa se drankprobleem. As jong tiener het haar gesondheid, na liggaam en gees, agteruitgegaan vanweë fisieke en seksuele mishandeling.

Martie du Plessis, ’n skool in Bloemfontein vir leerlinge met spesiale behoeftes, was Naudine se veilige hawe. Foto verskaf

‘My veilige hawe’

“Ek moes jonk-jonk reeds leer dat mense die rêrige monsters is,” sê Naudine. “Drank en geweld was deur die jare ’n vername deel van my lewe, dit was trouens vir my normaal. Ek het skool toe gegaan met ’n glimlag op my gesig, niks gesê nie, want ek was skaam.”

Haar skooljare by Martie du Plessis, ’n skool in Bloemfontein vir leerlinge met spesiale behoeftes, het haar lewe ingrypend verander. “Dit was die een plek waar ek gevoel het ek hoort êrens. Dit was my veilige hawe.”

Naudine het haar skoolwerk dikwels as ’n soort ontvlugting uit haar probleme beskou. Maar die uitdagings was soms te groot. In haar matriekjaar het die vrees vir die onbekende groot spanning tot gevolg gehad en sy is met depressie gediagnoseer. “Ek het die meeste van my tyd in my kamer deurgebring, alleen. Ek was in ’n diep gat. Dit was asof ek besig was om in al my emosies te verdrink.”

Die situasie het so erg geword dat Naudine dit oorweeg het om haar eie lewe te neem. Sy het besluit om vir ’n laaste keer skool toe te gaan. “Daardie dag het die adjunkhoof by die klas ingekom waar ek met my opgeplakte glimlag gesit en werk het. Hy het my in die oë gekyk, my aan my skouer gevat en gesê: ‘Jy sal hierdeur kom. Jy is sterker as wat jy dink.’”

Op daardie oomblik het Naudine vir die eerste keer in jare die Here se teenwoordigheid gevoel en besef daar is wel hoop. “Ek het net daar in trane uitgebars. My onderwyser het my uit die klas geneem en ek het haar alles vertel.”

Naudine was dikwels daarvan oortuig dat drome nie vir haar beskore was nie. Sy wou haar graag as onderwyser bekwaam, maar die enorme finansiële las van tersiêre onderrig was ’n onoorkombare struikelblok. Sy wou so gou moontlik ’n werk kry om aan haar omstandighede te ontsnap. Haar droom om verder te leer sou eers moes wag.

“Maar toe die skoolhoof en my onderwysers agterkom dat my studieplanne opsygeskuif is, het hulle ingegryp. Hulle was besonder ondersteunend en het my gehelp met ’n plan vir my toekoms, asook om vir ’n beurs te registreer. Só het my pad met dié van die organisasie Dameskring gekruis.”

Naudine het aan die einde van 2019 gematrikuleer. Haar uitslae was uitstekend; sy was onder die top 10 matrikulante in die provinsie. Sy is ook, danksy haar atletiekprestasies, as senior sportvrou van die jaar aangewys.

’n Nuwe hoofstuk as student aan die Universiteit van die Vrystaat het Naudine se horisonne verbreed. Dit het egter ook eie uitdagings meegebring. Boonop het sy op ’n dag ’n knop in haar nek ontdek. Sy moes in die hospitaal opgeneem word. ’n MRB-skandering het uitgewys dat die deel van haar brein wat motoriese bewegings beheer onderontwikkel is.

Sy vertel: “Ek het deur die jare steeds die hoop gekoester dat ek eendag sal kan loop, maar daardie dag moes ek aanvaar dat ek vir altyd in ’n rolstoel sou wees.”

Nou was sy ook vir die eerste keer in jare weg van die bekende skoolomgewing. Sy moes leer om verby mense se kwetsende opmerkings te kyk. Sy moes opnuut  haar onafhanklikheid vind.

Naudine op haar matriekafskeid. Foto verskaf

’n Nuwe droom

Deesdae woon Naudine op haar eentjie en doen alles self, van kosmaak tot die vloer mop. Sy is tans besig met die finale jaar van haar BCom-graad in besigheidsbestuur. Sy hoop om met onderskeiding te slaag.

Haar passie vir mense, wat haar aanvanklik na die onderwys gelok het, het intussen in ’n nuwe droom gestalte gekry: “In die loop van die afgelope vier jaar het ek besef dat die omgewing waarin ons leef hoegenaamd nie ingerig is vir mense met gestremdhede nie. Ek het ’n droom om ’n tersiêre liggaam tot stand te bring wat gerig is op studente met gestremdhede. Daarom studeer ek in besigheidsbestuur.”

Hierdeur wil Naudine ander ondersteun deur hulp te bied wanneer dit die nodigste is. Soos dit ook in donker tye aan haar gebied is.

En sy kyk die toekoms vierkantig in die oë. “Ek wil ’n werk kry sodat ek op my eie twee voete – of sal ek sê ‘twee wiele’ – kan staan, en nie weer in ’n moeilike situasie beland nie. Ek wil begin spaar vir my eie huis, en ek wil graag my rybewys kry. Uiteindelik wil ek bloot ’n rustige lewe hê – ’n huis, ’n man, kinders … As die Here dit so vir my uitgelê het.”

Wanneer Naudine vandag terugkyk op die uitdagings wat sy oorkom het, sien sy die Here se hand in haar lewe. “Ek weet dis net Hy wat my deur hierdie moeilike dinge gedra het, want alleen sou ek dit nie kon regkry nie. Daar is ook ’n handvol wonderlike mense in my lewe wat vir my baklei.”

Sy raak steeds soms kwaad oor alles wat sy moes deurmaak, sê sy, maar sy hou vas aan haar geloof. Sy glo dat God sal aanhou om die regte mense oor haar pad te stuur. “Ek wens niks van my verlede weg nie, want dit het my gevorm tot wie ek vandag is. My ervaring is deel van wie ek is, maar dit definieer my nie meer nie.

“My rolstoel is wel die manier waarop ek beweeg, maar my rolstoel is nie ék nie.”

  • Gedurende 2019 het Die Dameskring besluit om Naudine Booyens, wat nie noodwendig ’n DK-verbintenis het nie, met haar studies te ondersteun. Dié beursfonds is gedurende 2017 gestig. Lede van Die Dameskring maak vrywillige bydraes tot hierdie fonds. Sedert 2018 het 20 studente gebaat by hierdie beursfonds wat verskeie studierigtings ingesluit het. DK-lede, DK-lede se kinders en kleinkinders met Afrikaans as huistaal mag aansoek doen vir finansiële ondersteuning. Aansoeke moet voor of op 30 September elke jaar ingedien word. Kriteria vir die keuringsproses is in plek en suksesvolle kandidate se fondse word direk aan die tersiêre instelling oorbetaal. Volledige inligting rakende die beursfonds kan bekom word by hulle administratiewe beampte, Karien Snyman. Haar e-posadres is: admin@dameskring.co.za  
Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF