Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Ooreet jy? Soms laat jou emosies jou eet, en eet, en eet …

Die sogenaamde “emosionele ooreet” is meer algemeen as wat jy mag dink. Hierdie vergryp het allerlei gevolge, onder meer selfverwyt en dalk selfs depressie. Hoe kan jy verhoed dat dit (weer) gebeur?

Die sogenaamde “emosionele ooreet” is meer algemeen as wat jy mag dink. Hierdie vergryp het allerlei gevolge, onder meer selfverwyt en dalk selfs depressie.

Hoe kan jy verhoed dat dit (weer) gebeur?

Ai, hoekom is dit tog só lekker om jou kieste vol te stop?
En vyf minute later voel jy soos die wêreld se grootste mislukking.
Hoekom is jou emosies so verraderlik, en hoekom trap jy keer op keer in dieselfde strik?

Ooreet om beter te voel

Die sogenaamde “emosionele eters” gebruik kos om hul emosionele behoeftes te bevredig, en nie regtig om hongerpyne te stil nie.

Daar is dié wat ’n blok sjokolade sal gryp en in een sitting opeet wanneer hy of sy ’n bietjie “af” voel. Daar is ook dié wat uit pure verveling ’n strooptog op die yskas sal uitvoer.

Monique Nel, ’n dieetkundige op Bela-Bela, sê daar kom in enige mens se lewe dié dae wanneer woede, frustrasie, teleurstelling en moedeloosheid jou sommer net oorval.

En voor die emosionele eters kan keer, het hulle ’n koekie of ’n hand vol aartappelskyfies in hul mond geprop. En weer. En weer.

“Maar sodra die leë pakkie na jou toe terugstaar en jy na die werklikheid terug geruk word, oorval die skuldgevoelens jou.”

Hoe oorkom jy hierdie ooreet gewoonte?

Almal eet by die een of ander geleentheid te veel (Kersfees!), maar wanneer jou (oor)eetgewoontes ’n manier word om emosionele probleme te hanteer, is dit ’n probleem. Daar ontwikkel ’n patroon en die onderliggende probleme word nie hanteer nie.

Dit is wel moontlik om uit hierdie patroon te breek.

Jy kán beter (en gesonder) maniere vind om jou emosies te hanteer.

Monique sê: “Die uitdaging is om kos allereers vir die tekstuur, smaak, kleur en diversiteit daarvan te leer geniet, in plaas daarvan om dadelik voedselgroepe of porsiegroottes onder die loep te neem.”

Hoe weet jy of jy emosioneel ooreet? Let hiervoor op:

  • Die gevoel dat jy honger is, meld gewoonlik skielik aan. Dit voel amper asof dit jou wil oorweldig. Die gevaarligte behoort te flikker as jy nóú ’n stuk sjokoladekoek móét eet. (As jy regtig honger is, sal dit ’n meer geleidelike proses wees.)
  • Jy smag na ’n baie spesifieke soort trooskos – dikwels is dit gemorskos. (As jy regtig honger is, sal jy ook lus wees vir gesonde kos.)
  • Voor jy jou oë uitvee, is die hele pak koekies of skyfies opgeëet. Jy het nie eens regtig daaroor gedink nie, jy het net ingestop …
  • Hoewel jy versadig is, is jy nog nie tevrede nie. Jy wil nóg iets eet, en nóg. Eers wanneer jy fisies ongemaklik begin voel, hou jy op.
  • Emosionele (oor)etery lei amper altyd tot skuldgevoelens en selfverwyt.

Vra jou die volgende af:

  • Is ek regtig honger?
  • Het ek nou voeding nodig, of is my behoefte eerder selfversorging, of selfs liefde?
  • Wat sal nou vir my beter wees as kos?
  • Wat het ek nou regtig nodig?
  • Hoe wil ek nié voel nie?

Monique sê: “Ek verstaan dat sekere situasies soms enige soort rasionele gedagtes as ’t ware kan ‘oorrompel’. Dat jy geen behoefte daaraan gaan hê om éérs hieroor te dink nie, en beslis nie om jou enige vrae af te vra nie.

“Jy mag selfs dink: Ag, wat gaan dit nou regtig saak maak? Wat gaan dit aan die situasie verander?

“Maar moenie opgee nie! Vind ’n manier om jou emosies te bestuur, wat nié kos insluit nie. Dit help nie om bloot die probleem te verstaan nie.

“Jy moet daadwerklike alternatiewe vind om daardie gaping te vul wat die weerhouding van die ooretery in jou gemoed gaan laat.”

Monique sê sy waarsku haar pasiënte dat daar nie ’n enkele formule is om die probleem op te los nie.

“Elkeen het ’n ander emosionele rede waarom hulle hulle aan kos vergryp. Dit is wel belangrik om vas te stel wat jou persoonlike ‘swakheid’ is. Daar is gewoonlik ’n spesifieke rede waarom jy jou ooreet.”

Sy noem die volgende moontlikhede:

  • Dit laat jou van jou probleme vergeet
  • Jy is verveeld en gebruik kos om die tyd om te kry
  • Dis ’n gewoonte wat jy reeds in jou kinderjare aangeleer het
  • Stres
  • Sosialisering

Maar hoe ontsnap ek uit hierdie patroon van ooreet?

Monique sê: “Stop net af en toe, net vyf minute lank, en haal diep asem. Dink oor wat jy nou wil eet. Die pak aartappelskyfies gaan tog net jou skuldgevoel se ‘metertjie’ opjaag.

“Begin vóél. Voel weer, en weer, en nóg ’n bietjie. En wees eerlik met jouself.”

Begin met klein, maklik haalbare doelwitte: Kan ek een minuut lank uithou voordat ek die pak koekies oopmaak?

En terwyl jy wag, vra jou ’n klompie vrae af. Iets soos: Hoe voel ek nou? Is ek gespanne?

Dit gaan nie noodwendig die eerste keer werk nie, maar met elke oorwinning sal jy ’n groter begrip vir jou gedrag hê en beter verstaan waarom jy so vraatsig is.

Dis belangrik om jou gevoelens te aanvaar, selfs die slegtes. Dit lyk dalk op die oppervlak asof die kern van die probleem jou onvermoë is om nee te sê vir kos, terwyl jy in werklikheid nie weet hoe om bepaalde emosies te hanteer nie.

En nou gebruik jy kos, dalk onbewustelik, om die werklikheid te vermy.

Dis vir enige mens moeilik om ongemaklike of negatiewe emosies te hanteer. Maar sodra jy jou emosies kan identifiseer, het dit nie meer ’n houvas op jou nie en kan jy die situasie hanteer.

Hou dus op om kos as “die vyand” te beskou. Jy mag eet, en jy mag lékker eet. Eet drie gesonde etes per dag sodat jy nie uithonger nie. Leer dan om op te hou wanneer jy genoeg gehad het.

Uiteindelik moet jy praktiese maniere vind om gevoelens soos eensaamheid, angs, stres, verveling en woede te hanteer. Om jou aan gemorskos te vergryp, gaan nie jou probleme oplos óf jou beter laat voel nie.

Leer om na jou lyf te luister. Kweek gesonde leefstylgewoontes aan. Oefen gereeld en slaap genoeg. Leer om kos te bestuur, sodat dit nie jou lewe bestuur nie.

En moenie te streng met jouself wees as jy die slag oortree het nie. Dit gebeur met almal. Begin net weer van voor af.

En hanteer die probleem dag ná dag, een dag op ’n slag …

Ooreet jy? Hier is verdere praktiese raad

  • Begin om ’n “kos-dagboek” te hou. Dit sal jou help om tussen werklike hongerpyne en ’n emosionele eet-sessie te onderskei.
  • Probeer vasstel waarom jy juis nóú wil eet. As jy byvoorbeeld depressief voel of eensaam is, bel ’n vriendin. Speel met jou hond. Pak ’n stokperdjie aan waar jy op iets anders as kos fokus.
  • As jy angstig is en kos gebruik om beter te voel, herlei jou energie na ’n gesonder alternatief. Sluit by ’n gimnasium aan. Gaan stap in die park.
  • As jou werk van so ’n aard is dat jy nie uit die kantoor kan kom nie, kry ’n stresballetjie om te druk. Dink aan praktiese alternatiewe wat by jou leefstyl sal pas.
  • Sommige mense ooreet hulle as hulle oorwerk en moeg is. Breek die siklus en maak vir jou ’n koppie tee, neem ’n warm bad, steek kerse aan, of gaan kruip vroeg in.
  • Een van die grootste sondebokke is verveling. Hoeveel keer gebeur dit dat jy yskas toe stap bloot om te kyk wat daarin is en nie werklik omdat jy honger is nie?
  • Lees eerder ’n boek, gaan stap buite of leer ’n nuwe vaardigheid aan. Beplan jou dag beter, sodat jy nie ure lank niks het om te doen nie.
  • Bid oor jou probleem. Kies dele uit God se Woord wat jou aanmoedig wanneer jy voel hierdie is ’n verlore saak.

Geskryf deur Ilette Coetzer. Kry nog raad en wenke vir ‘n gesonde lewensstyl.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.