Hulle is suksesvol. Ambisieus, maar nie die trap-op-ander-om-bo-uit-te-kom-soort nie. Hulle is slim en sjarmant. Planmatig en doelgerig. Gedrewe maar gebalanseerd. Ontmoet Daniel en Rolene Strauss.
Hy is sakeman en skrywer. Aanbieder van TV-pogramme en seminare vir sakemanne. Klankbord vir Rolene en pa vir sy twee seuns.
Sy is die skoonheid en slimkop. Die motiveringspreker en sakevrou met ’n Mej Wêreld-titel op haar kerfstok, ’n mediese dokter. En met ’n meestersgraad in filosofie en leierskapafrigting – “wat sy cum laude geslaag het,” voeg haar trotse man by.
Ons sit in ’n restaurant vol lig. Om ons is roomkleur en goud. Die marmerblad onder my notaboek is koel en syglad. Die kronkelende vlekke ’n subtiele herinnering aan die natuur se harmonie en skoonheid. En ’n eggo van dit wat die twee mense aan die oorkant van die tafel uitstraal.
Ons gesels oor sake en geldsake, oor familie, ouerskap en entrepreneurskap, oor potensiaal en geleenthede. Elke stukkie ervaring wat hulle met my deel, word met stille selfvertroue en goed oorwoë woorde oorgedra. Daar is ’n goue draad van planmatigheid merkbaar.
Die boek
“Dis die moeilikste ding wat ek nog gedoen het,” vertel Daniel oor die skryfproses aan sy boek Werk soos ’n miljardêr. Dié boek oor sakebeginsels en entrepreneurskap raak aan dieselfde temas as sy vroeëre topverkoper Dink soos ’n miljardêr.
Maar die jongste boek is terselfdertyd ook ’n slim storie – oor ’n karakter wat graag ’n miljardêr wil wees, maar uitvind dat die paadjie daarheen vir elkeen anders lyk. Dat baie van jou sakeprofiel afhang. En afhanklik is van jou mentors en jou mentaliteit wat geld betref.
Dis ’n lekkerlees- en boeiende storie, wat ’n holistiese blik op entrepreneurskap bied. Die raad daarin is maklik genoeg dat groentjie-entrepreneurs dit kan verstaan, maar deeglik genoeg sodat dit inderdaad toegepas kan word.
Daniel sê: “Ek is mal oor boeke soos The Alchemist en The richest man in Babylon. Vandaar die besluit om dít wat ek in my lewe en die sakewêreld geleer het in storievorm aan ander te probeer leer.”
LEES MEER: ‘Suid-Afrikaners besef die dae van ‘n “Sondaggeloof” is verby,’ sê Dana Snyman
Balans en sukses
“Vir my en Rolene gaan die lewe oor ba-lans; ons sien balans in die natuurwette. Dit werk ook so in die sakewêreld, én in ons huwelik en familielewe.”
Rolene beaam dit: “Balans is vir ons baie belangrik. Ek en Daniel stel byvoorbeeld elke ses maande doelwitte vir onsself – vir my, vir hom, en vir ons twee saam. Dan verdeel ons dit in meetbare doelwitte. En maak seker dat die werk aan ons doelwitte mekaar komplementeer en nie met mekaar kompeteer nie. Dit help om balans te bring in ons gesinslewe en ons beroepslewe.
“Terwyl Daniel aan sy boek gewerk het, het ek, byvoorbeeld, ’n meer ondersteunende rol gespeel. Kos aangedra, smoothies gemaak.”
Die lewe het vir dié twee talentvolles ’n hele stel geleenthede gegee, en dis duidelik dat hulle daardie geleenthede ontgin, dat hulle strategies daaroor besin en volhoubaar daarmee woeker.
“Sukses is wanneer jy in ooreenstemming met jou potensiaal presteer,” verduidelik Rolene.
Daniel voeg by: “Ons het ook geleer dat jy nooit persoonlike genoegdoening sal kry as jou definisie van sukses nie in ooreenstemming met jou waardestelsel is nie. As jou definisie van sukses helder is, kan jy begin om daarvoor te werk.
“Wat my betref, is ’n deel van sukses wanneer ek ander mense in die proses kan help. Ook wanneer dit goed gaan met my familie.”
Daniel se ouers woon ’n klipgooi van hulle af, en sy suster-hulle woon op dieselfde landgoed. Almal is naby genoeg dat hulle gereeld by mekaar kan kuier. Ook Rolene se broer-hulle. Die familiekring is heg en innig.
Mentors
Die gesprek beweeg spontaan na die negatiewe gevolge van vergelyking. “Sukses is om jou volle potensiaal te ontwikkel,” verduidelik Daniel. “En as laasgenoemde beteken dat jy minder as jou buurman verdien, dan het jy tog steeds sukses behaal.”
Rolene vertel hoe sy dikwels op die uitkyk is vir dinge wat sy by ander kan leer. “Success leaves clues,” sê sy.
Sy lees ook graag outobiografieë, en be-skou dit as deel van haar leerproses. “Ek het verskillende mentors vir verskillende gebiede in my lewe. Met sommige het ek ’n persoonlike verhouding, en by ander leer ek ‘in die oomblik’.
“Daniel is natuurlik ook een van my mentors.”
Ouerskap en jong entrepreneurs
Rolene het vroeg reeds geleer dat ’n mens nie jou eiewaarde aan jou kinders se gedrag moet koppel nie. “As hulle iets verkeerds doen, bepaal dit nie my sukses as ma nie.”
Sy vertel dat sy dikwels oor ouerskap lees. “Ek is mal daaroor om ’n ma te wees, en ek weet dat die ure en ure wat ek in my kinders belê eendag sal vrug dra.
“Ek het onlangs begin om ’n Bybelskool by te woon, want ons oudste seuntjie (hy is ses) het begin vrae vra oor die Bybel en geloof wat ek nie kon beantwoord nie.”
“Rolene is regtig ’n goeie ma,” vertel Daniel. “Sy is ook baie goed daarmee om die kennis wat sy insamel deur te voer en dit presies toe te pas soos wat sy glo dit vir haar twee seuntjies sal werk.”
Daniel sê hy praat met sy kinders oor geld. “Ek het vir my oudste seun ’n swartsak-onderneming begin. Eers het ek hom geleer hoe om swartsakke te verkoop: Jy vra die oom of hy swartsakke gebruik. As hy ‘ja’ antwoord, vra jy hoeveel hy nodig het.”
“Dis ’n les in ondernemerskap,” sê Rolene. “Want dít is ’n sakeonderneming: wanneer jy ’n regte probleem vir ’n regte mens in die regte wêreld help oplos. En daardie mens dan bereid is om daarvoor te betaal.”
Geld
Die Strauss-kinders word van vroeg af geleer wat geld se waarde is. “Almal in die huis het takies wat hulle moet verrig,” vertel hul ma. “Ons sesjarige moet elke Saterdag die
hondebolle optel, en ons driejarige moet help om die blare voor die voordeur op te tel.”
Aanvanklik was hul oudste nie alte gretig om sy werkie te doen nie, en Rolene stel toe ewe liefies voor dat sý dit sal doen. “‘Maar,’ het ek hom gesê, ‘my hulp met jou taak kos R50.’”
“Dit het ’n tydjie geduur voor hy dit gesnap het, maar toe hy eers besef dat hy sy R50 kwyt is, het hy baie vinnig begin om dié ou takie self te doen en sodoende sy geld te spaar.
“Hy pas die speelgoed wat hy met daardie geld koop soos goud op. Ek probeer ook nie inmeng wanneer hy speelgoed koop nie, al sien ek hy het sy oog op iets wat sommer gou sal breek. Ek help hom net so ’n bietjie met die pryse, en met wat hy kan bekostig.
“My ouerskapstyl laat my kinders toe om te leer uit die natuurlike gevolge wat uit hul keuses voortspruit. En ek vertrou dat daardie gevolge, eerder as straf, hulle sal motiveer om reg te kies.”
Hand aan hand
Die Strauss-egpaar kies om gereeld en deeglik met mekaar te kommunikeer. “Ons baken tyd af vir gesels,” sê Rolene. “En wanneer ons gesels, probeer ons om die beginsel toe te pas dat die feite geskei word van die betekenis wat ons aan daardie feite koppel.”
Daniel sit sy donkerbril op. “Rolene verduidelik die konsep só: Ons sit ’n bril op en kyk deur ons eie lense na die feite.”
Hy plaas Rolene se bril oor sy eie: “Dan sit ons nog ’n bril op, en nog een, en nog een. Mettertyd kan ons nie meer die feite raaksien nie, maar slegs die betekenis wat ons aan daardie feite gee. Nou het dit dikwels niks meer met die feite te doen nie!”
Rolene sê: “Wanneer daar konflik kom, tree ’n bietjie terug en probeer uitvind wat jy wil oplos. Vra: Wat is jou eintlike behoefte?”
“In ons huwelik,” vertel Daniel, “het ons geleer dat ons alles kan deurpraat. En een van die beste dinge is dat ons diep geloofsgesprekke kan hê. Ons hou daarvan om Christelike flieks te kyk en dan daaroor te filosofeer en mekaar te vertel wat ons daaruit geleer het.”
Toe ek van die restaurant wegry, kyk ek in die truspieëltjie. Hulle loop hand aan hand.
Marmer en goud.
Geldslim en skrander.
Balans en harmonie.