Swangerskap en die vrae wat dit ontlok. “Durf jy langer uitstel om jou eerste baba te hê? Hoor jy dan nie die ‘tiek-tok, tiek-tok’ van jou biologiese horlosie nie?”
Die enigste manier om die opgetrekte wenkbroue van familie en vriende te beantwoord, en die stille bekommernis in jou eie hart te laat bedaar, is om jou met kennis te bewapen.
Dalk ontdek jy die nuus is toe nie so onheilspellend soos jy gevrees het nie.
“Wat as ons sukkel om swanger te raak?”
“In ons twintigs met ’n gesin begin? Is jy nou laf? Niemand doen dit meer nie!”
Dis een van die moontlike antwoorde wat jy kry as jy ’n jong paartjie hieroor uitvra.
Of een sal sê: “Ek het nog nie die regte lewensmaat ontmoet nie.” Of: “Ons voel nie gereed vir hierdie groot verantwoordelikheid nie.”
Of: “Ons werk en leef die hele wêreld oor. Kinders pas nie nou in ons prentjie nie.”
En so word daar gewag en gewag – tot ’n dekade langer, en selfs twee dekades, as wat jou eie ma gewag het.
Navorsing deur die St Thomas-hospitaal in Londen bevestig dié tendens. Hulle het bevind dat een uit elke vyf Britse vroue nou eers ná 35 hul eerste baba het.
Te midde hiervan is die algemene konsensus onder fertiliteitspesialiste dat jou kanse om ná veertig swanger te raak, so laag soos 10% is. Maar die prentjie is dalk nie so donker nie.
Die waarheid is dat as jy 13 keer per jaar menstrueer en gesond is, jou kanse net so goed is om swanger te raak soos ’n jonger vrou s’n.
Swangerskap wat uitgestel word
“Dis ’n groot dilemma,” sê Mellie. Sy is ’n fikse, gesonde dertiger. “Ons moet dalk nog vyf jaar lank wag. Ons het aan die begin van ons verhouding besluit om eers te trou wanneer ons met ’n gesin begin.
“Herman is nou 28 en nog nie gereed vir kinders nie. Ek is amper 33. Ek is ook nie haastig nie – maar ek raak bekommerd. Sal ek kán swanger raak as ek al naby veertig is?”
Gelukkig bring nuwe behoeftes nuwe oplossings. En een wat ál gewilder word, is ’n vrugbaarheidassessering.
Dr Marina Nieuwoudt, ’n ginekoloog by Cape Gate Mediclinic in Kaapstad, vertel hoe sy te werk gaan om jong vroue te help om perspekief te kry oor uitgestelde swangerskap: “Die nie-meer-so-jongvroue kom na my toe en vra ek moet kyk ‘of alles nog reg is’.
“Die gesprek wat ek met hulle voer, is anders as die een oor voorbehoeding by jonger vroue wat seksueel aktief word. Dis ook anders as die een met die vrou wat al ’n jaar lank probeer en nog nie swanger is nie.
“As jy wil uitstel, fokus ons doodeenvoudig op jou eierstokke se gesondheid en wat jy kan doen om hulle so lank moontlik so goed moontlik te bewaar. Noudat soveel vroue swangerskap uitstel, is dit ’n noodsaaklike gesprek.”
Om swanger te word en toetse om vas te stel ‘of alles nog reg is’
Marina vertel: “Ek doen ’n tipiese ginekologiese evaluering om seker te maak alles lyk gesond. Dit sluit ’n borsondersoek in, ’n inwendige ondersoek, ’n papsmeer en ’n sonar van die eierstokke.
“Ek ondersoek ook die skildklier. As laasgenoemde vergroot is, vra ek ’n skildklierprofiel aan.
“Ek verwys jou vir ’n rubella-vaksinering as jy nie die afgelope vyf jaar een gehad het nie. Die rubella-virus veroorsaak Duitse masels, wat die baba aantas as jy dit tydens swangerskap opdoen.
“Kry dié risiko sommer nou reeds uit die pad, want ná die vaksinering moet jy minstens ’n maand en verkieslik drie maande wag voordat jy swanger raak.
“Ons twee se gesprek is egter die belangrikste. Ons moet probeer uitpluis of daar redes bestaan dat jy moeiliker kan swanger raak, en dus vroeër moet begin, ten einde jou genoeg tyd op sukses te gee.
“Ons begin by jou menstruasiesiklus. As jy maandeliks (oftewel, een keer elke 26-30 dae) menstrueer, ovuleer jy gereeld. En dit beteken jy het twaalf, dertien kansperiodes op swangerskap per jaar.
“Ons kyk na die toestande waarvoor jy permanent of gereeld medikasie gebruik. Sommige medisyne, soos die NSAID-klas pynpille (byvoorbeeld aspirien en ibuprofen, as jy dit aanhoudend gebruik), en sekere epilepsiemedikasie en sommige antidepressante, kan jou vrugbaarheid op die lange duur aantas.
“Deur bloot jou medikasie betyds aan te pas, kan ons latere probleme voorkom.
“Ons praat oor jou familiegeskiedenis. Is daar familie wat naby verwant is wat voor veertig hoë bloeddruk, diabetes, kanker of ander ernstige kwale ontwikkel het?
“Is daar ’n familiegeskiedenis van gestremdhede soos downsindroom? Het jou ma ’n geskiedenis van miskrame? Of endometriose?
“Hoe nader jy aan veertig kom, hoe groter word die aangebore risiko’s, en hoe groter is die impak op jou vrugbaarheid én op jou baba.
“Ons twee gaan ook jou gesondheidgeskiedenis na om te sif vir algemene probleme wat jou vrugbaarheid beïnvloed. Ons kyk na PSOS, jou risiko vir diabetes, jou bloeddruk en enige ander kwale wat jou gereeld of soms pla.
“Ons stel vas of jy al antibiotika vir ’n pelviese infeksie gebruik het. Die redes vir so ’n infeksie kan wissel van gereelde sistitis tot chlamydia en ander organismes wat geslagsiektes veroorsaak.
“Ons kyk ook na jou leefwyse, en wat jy kan doen om jou vrugbaarheid optimaal te hou. Min vroue besef dat die rookgewoonte jou vrugbaarheid erg benadeel.
“Bewaar jou vrugbaarheid deur nooit te rook nie. En as jy rook, sal dit beslis help as jy dadelik ophou.
“Oefening help ook. Dit hou jou boonop fiks en soepel sodat jy sterk genoeg is om die baba te kan dra. Jy moet ook gesond eet, en jou liggaam optimaal voed met genoeg vrugte, groente, gesonde olies en kalsium.”
Die man kan gerus ook getoets word
“Hoe meer plusse, hoe beter lyk jou kanse om veilig te kan uitstel. Maar onthou: Die situasie bly nooit tien jaar lank dieselfde nie. Jy moet minstens elke twee, drie jaar herevalueer waar jy jou dan bevind.”
En as die uitslag nie watwonders is nie? “Terwyl jy nog eierstokke en ’n baarmoeder het, kan jy swanger raak, al lyk dinge ook hoe sleg. As daar dalk ’n klompie negatiewe punte is, is vroeër altyd veiliger.”
Onthou altyd dat jou maat hom ook moet laat toets.
Marina sê: “By paartjies wat sukkel om swanger te raak, is die kans dat die oorsaak by die man lê net so goed soos dat dit by die vrou te vind is. Daarom beveel ek aan dat mans bo dertig wat wil uitstel, vir ’n sperm-evaluering aanmeld, aangesien die mobiliteit van sperma nou tipies laer is as by vorige geslagte.”
- Dié artikel, geskryf deur Salomé Delport, het verskyn in die Lente-uitgawe 2022 van die gedrukte LiG.
- Lees ook ons reeks oor onvrugbaarheid.