Drie dae ná ’n uitdagende operasie in Kaapstad se Vincent Palotti-hospitaal, 1 600 km van haar huis af, lê Hayley Jackson met ’n breë glimlag in haar hospitaalbed. Op haar kop blink ’n klein, goue kroontjie: Sy vier haar 16de verjaardag in die hospitaal se hoësorgeenheid.
Vir Hayley Jackson van Durban loop die lewe nie heeltemal op die manier wat ’n tiener sou verwag nie.
As gevolg van knaende pyn in haar heupbeen, en ná talle toetse wat oor ses maande gestrek het, het ’n ortopeed ’n MRI-skandering aanbeveel. In Oktober 2023 moes Hayley en haar ma Trix ’n kankerdiagnose in dié dokter se spreekkamer aanhoor.
“Dis nie woorde wat ’n 15-jarige ooit wil hoor nie,” sê Hayley. “Jy dink mos nooit dat so iets met jóu sal gebeur nie: slegte nuus oor jou gesondheid, baie skooldae misloop, 12 maande se chemoterapie, asook ’n vreesaanjaende operasie in Kaapstad …”
LEES OOK: ‘As ek dié kan doen, kan ek enigiets doen,’ sê 16-jarige oor kankerstryd
‘Ons moet net positief wees’
Daar was boonop nie juis tyd om al die skokke te verwerk nie, want hulle moes die dag ná die diagnose in Kaapstad wees vir ’n biopsie. Dié prosedure het Ewing se sarkoom in Hayley se heup en pelvis uitgewys. Dis ’n aggressiewe kanker wat op beenweefsel teer.
Ma Trix moes dié ontstellende nuus aan die res van die familie oordra, maar sy het aanhoudend vir haar dogter gesê: “Hayley, we got this!
“Deur al die chaos het ek geweet God sal ons deurdra. Ons moet net positief wees, ons moet sterk staan. Dis ons enigste uitweg.”
Tyd vir saamstaan
Sterk staan is een ding, maar toe Trix en haar man besef die behandelingsplan behels maande lange chemoterapie, asook ’n operasie in Kaapstad, het die volgende skok gekom: Hul mediese fonds sou nie alle uitgawes dek nie.
En hoe gemaak met die bykomende koste, die vliegtuigkaartjies, die verblyf in Kaapstad?
Toe word dit tyd vir saamstaan. Trix se pa Leonard het vroeg in 2024 ’n Back-a-Buddy-veldtog geloods. Hy het gehoop die geld sou die finansiële las op die jong gesin help verlig.
Intussen het die eerste klompie chemoterapiesessies begin, en Hayley het probeer bybly met haar skoolwerk.
“God se genade was van die begin af so groot!” vertel Trix oor die geld wat ingesamel is. “Familie en vriende het bygedra, en onbekendes van regoor die wye wêreld. Ons voel geseënd en dankbaar; die finansiële spanning is beslis minder.
“Dit bly steeds ’n steil bult, maar ek besef ek moet sterk wees ter wille van Hayley en haar jonger sussie Ashley.”
‘’n Vrolikheid vol blomme, ballonne en geskenke’
Danksy berigte in die media en die Back-a-Buddy-veldtog het talle maatskappye ingespring om te help met vliegtuigkaartjies, en om Hayley voor en ná haar verjaardag in Kaapstad te bederf.
Elke verslaggewer en donateur wat haar ontmoet, is beïndruk deur Hayley se innerlike kalmte, haar breë glimlag en positiewe lewensingesteldheid. Dis alles eienskappe wat nie aangeplak is nie, maar van diep binne haar kom.
Hayley sou in Januarie vanjaar in Kaapstad geopereer word, maar weens onvoorsiene omstandighede is dit na Aprilmaand verskuif.
Trix vertel: “Uiteindelik het die operasiedag aangebreek, 5 April. Die doel was om soveel moontlik van die tumor te verwyder. En dit was suksesvol.
“Toe Hayley drie dae later haar ‘sweet sixteen’ gevier het, is haar hospitaalkamer tydelik omskep in ’n vrolikheid vol blomme, ballonne en geskenke.”
Tussen al die uitdagings deur bly Hayley ’n kalm, amper te volwasse jong tiener. Of sy tuis op haar bed saam met haar sussie kuier, of ’n bordjie omhoog hou om te verklaar hoeveel chemoterapie-rondes reeds afgehandel is, of in Kaapstad met Tafelberg in die agtergrond poseer, op elke foto pryk haar kenmerkende breë glimlag.
Vuurvlammetjies en vuurwerke
“Ek het baie teksverse wat my deurdra,” vertel sy. “Johannes 15:16 bly my gunsteling. Daar sê Jesus dat Hy ons self uitgekies het. Hierdie Bybelvers het nog altyd met my gepraat. Dit laat my so gelukkig voel. Elke keer as ek dit lees, voel dit soos vuurvlammetjies en vuurwerke in my.
“Al wat ons nodig het, is Jesus. Al wat ons benodig, is God. Hy sal vir ons sorg. Hy sál. Om te dink Hy ken my op my naam …
“Hy weet wie ek is – dit is so ‘amazing’! Hy weet wat sy planne vir my is …
“Ons moet net stil wees voor Hom.”
Hayley moes ná haar ontslag uit Vincent Palotti-hospitaal streng doktersbevele gehoorsaam en haar stil gedra tot haar opvolgbesoek op 8 Mei.
Dis wat sy probeer doen het. Terwyl sy en haar ma by familie in Kampsbaai gerus en sy besig was om te herstel, het sy ook met haar skoolwerk probeer bybly.
Intussen hou haar pa die fort tuis. “Ashley is báie dapper, maar sy is nog so jonk. En daarom het ons die hele tyd gehoop om Moedersdag weer tuis te wees.”
In God se hande
Die uitdagings bly groot. Daar was ook kuberkrakers wat kort ná Hayley se operasie toegang tot Trix se foon en sosiale media-platforms gekry het. Dit het haar geweldig ontstel, want sy was bang dat hulle toegang tot haar bankrekening sou verkry.
Maar iewers het alles weer reggekom, en op Woensdag 8 Mei het Hayley en haar ma die goeie nuus ontvang: Die dokter is hoogs tevrede met Hayley se vordering en sy en haar ma kon terugkeer huis toe. Hulle was betyds vir Trix om daardie Vrydag die beoogde Moedersdagpiekniek by Ashley se skool te kon bywoon.
Saam met hierdie goeie nuus stuur Trix foto’s van haar oudste dogter met haar pryswennerglimlag – en met die haartjies wat op haar kop begin teruggroei. Dis in die dokter se spreekkamer geneem toe hulle die nuus van hul terugkeer Durban toe gehoor het.
Daar lê verdere chemoterapiesessies voor, en later bestraling. En al weet hulle nie wat môre bring nie, weet hulle hul lewe is in God se hande. Hy sorg elke dag.
*Lees meer oor Hayley se reis met kanker by Hearts For Hayley op Facebook, of volg die skakel na https://www.backabuddy.co.za/hayley-jackson.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.