Dit is tienerselfdood-voorkomingsweek (8-14 Februarie 2026) op Suid-Afrika se gesondheidkalender. LiG het by ’n opvoedkundige sielkundige, dr Chaland van Zyl, gaan kers opsteek. Sy het die belangrikste potensiële tienerprobleme geïdentifiseer, en sê hoe ouers dit kan hanteer. Sy waarsku dat tieners se stiltes nie bloot as “buierigheid” afgemaak moet word nie.
Wanneer tieners stiller word, hulle begin onttrek of belangstelling verloor in dinge wat vroeër vir hulle betekenisvol was, is ouers en ander volwassenes geneig om dit af te maak as buierigheid of as “’n tipiese tiener-houding”. Adolessensie is immers ’n tyd vol skommelinge en verandering.
Maar stilte dui nie altyd op weerstand of onwilligheid nie, soms is dit ’n noodkreet dat iets in hulle “swaar” begin voel.
Een tiener beskryf dit só: “Ek het stiller geword. Nie omdat ek stout was nie, maar omdat alles swaar gevoel het. Niemand het regtig gevra hoe dit met my gaan nie, en toe hulle wel vra, het my antwoord hulle klaarblyklik ongemaklik gemaak. En hulle het dit geïgnoreer.”
Hierdie ervaring wys hoe maklik dit vir ’n tiener is om as ’t ware onsigbaar te word, selfs in ’n huis vol mense.
LEES OOK: Tienerkwessie #2: ‘Ek wou hê jy moes my hóór, en nie dadelik oplossings gee nie’
Tieners toets dikwels hul verhouding met volwassenes, meestal onbewustelik. Die vraag wat hulle nie altyd hardop vra nie maar voortdurend voel, is: “As ek eerlik is, gaan jy bly? Of gaan jy dit vinnig wil wegmaak, minimaliseer of probeer regmaak?”
Wanneer ’n volwassene wegskram van ’n moeilike antwoord, leer ’n tiener dat sekere emosies te groot of te ingewikkeld is om met ander gedeel te word.
Ouers hoef nie terapeute te wees nie
Ek wil ouers daaraan herinner dat die eenvoudige vraag “hoe gaan dit régtig met jou?” reeds moed verg. Maar om werklik te vertoef by die antwoord wat jy kry, selfs as dit ongemaklik of hartseer of verwarrend is, verg selfs meer moed. Dit vra van ouers om hul eie ongemak vir eers te verdra. Om nie dadelik daarvoor antwoorde of oplossings te soek nie.
LEES OOK: Tienerkwessie #1: ‘Sien mý raak, nie net my punte nie’
Nee, ouers hoef nie terapeute te wees nie. Hulle hoef nie al die regte woorde of antwoorde of oplossings te hê nie. Wat tieners in hierdie oomblikke nodig het, is beskikbaarheid: iemand wat luister, een wat teenwoordig bly, wat nie skrik vir stilte of emosionele pyn nie. Dikwels is dit juis die stil, volgehoue teenwoordigheid wat aan ’n tiener dié uiters belangrike boodskap oordra: “Ek is nie alleen nie.”
En ouers moet weet dat wanneer professionele hulp nodig is, dit nie ’n teken is dat hul ouerskap misluk het nie. Dit is, inteendeel, ’n teken van betrokkenheid, verantwoordelikheid en diepe sorg. Wanneer ouers ’n kenner se hulp inroep, weet die tiener: “My binnewêreld is belangrik genoeg om ernstig opgeneem te word.”
- Dr Chaland van Zyl werk daagliks met tieners en hul ouers, en in skole regoor Suid-Afrika. Sy is ’n opvoedkundige sielkundige by ’n skool in Gauteng. Sy is ook die stigter van TeenMindsSA, ’n platform wat daarop gerig is om tieners se binnewêreld beter verstaanbaar te maak en ouers toe te rus met navorsinggebaseerde, praktiese insigte. TeenMindsSA kan aanlyn gevind word, asook op Instagram en Facebook, waar gesprekke oor adolessensie, emosionele ontwikkeling en gesonde ouer-tiener-verhoudings voortgesit word.















