Dit het op 10 Februarie 1997 gebeur. Ek is vyf jaar tevore geskei en het ’n klompie moeilike jare agter die rug gehad. Ook finansieel gesproke, want ek moes twee kinders alleen grootmaak. Die een het in 1996 matriek geskryf, met die ander een in graad 9. Ten einde die pot aan die kook te hou, het ek my eiendom verkoop, ’n eie kwekery-onderneming prysgegee en vir ’n maatskappy gaan werk wat in landskappering spesialiseer.
Tienuur daardie oggend het ek ’n kwotasie vir nuwe kliënte voltooi, en die datum ingevul – 10 Februarie 1997. ’n Oomblik lank het ek na die rekenaar gestaar. Is daar iets wat ek moet onthou? het ek gewonder. Dit het gevoel asof daar iets gewigtigs aan die datum is. Iemand se verjaardag, dalk? Ek kon nie aan iets dink nie.
My baas Kevin het gebel en gevra ek moet gaan kyk waarom dit so lank duur om die palmbome te laai wat ek daardie dag by ’n huis teen Linksfield-rif moes gaan plant. Ek het uitgegaan, maar die vragmotor was nêrens te sien nie. Ons moes die bome, wat van ’n plaas naby Nelspruit gekom het, met ’n hyskraan oorlaai.
Toe sien ek die trokke in die oop veld langs die werf, waar daar meer beweegruimte is. Dis ’n perdrylaan en toegang word gewoonlik deur paaltjies langs die pad versper. Die munisipaliteit het egter die paaltjies verwyder vanweë onderhoudswerk aan die watertoevoer en dit nie weer teruggeplant nie.
Toe ek daar kom, het ek besef waarom dit so lank geduur het om die bome af te laai: Dit was veel groter as wat ons bestel het. Ek weet Kevin wou graag die guns wen van die huiseienaar waar ons dit sou gaan plant, want dié was ’n mede-eienaar van die onderneming. En ek het vermoed dat hy die bestelling verander het.
Wat hy egter nie in ag geneem het nie, was dat die gate reeds tussen die klippe gegrawe is – met groot moeite. Groter plante met groter wortelbolle kon eenvoudig nie oor die kliprant gedra word en tussen die klippe inpas nie.
Ek het hom gebel en gevra om self te kom kyk.
LEES OOK: Man roep na ‘Jesus!’ toe 2,5 ton-trekker op hom beland
Daar was toe nog net een boom wat gelaai moes word, ’n “royal palm”, baie swaarder as die res, met ’n wortelbol van maklik 1,5 ton en ’n baie dik stam vol vog.
Ek het tussen die twee trokke gestaan om die werk dop te hou. Toe Marcus, die hyskraanoperateur, die palm uit die trok sleep, het ek gesien hoe die span werkers swoeg om die boom stabiel te hou. Marcus het boontoe gekyk, na die kragdrade bokant ons, en hy het die hyskraan laat sak om eerder die palm op die grond te kry.
Kevin het opgedaag en die hyskraan se hefbome uit Marcus se hande geneem.
Net toe het my foon gelui. Dit was my dogter, wat in daardie stadium tydelik by Eskom gewerk het. Ek het weggestaan van die luierende trok om haar te kon hoor. Sy het gesê dat sy bloot gereageer het op ’n gevoel dat sy my moet skakel. Dat sy net wou hoor hoe dit met my gaan. Dis nie iets wat sy sommer van haar werk se telefoon sou doen nie.
Ek was ongeveer tien treë weg toe ek iets gehoor het soos metaal wat kraak. Daar was ’n verskriklike geskree.
Toe ek omdraai, het ek ’n blou elektriese straal gesien. Tussen die twee trokke deur, presies op die plek waar ek oomblikke tevore gestaan het.
Ek het ook gesien hoe die palm teen die kragdrade raak, en daar was ’n geknetter soos die groen blare begin brand het. Kevin het regop gestaan, bewusteloos, vas aan die hefbome. Die klere aan sy lyf het begin brand.
Ek het dadelik die kantoor gebel en geskree dat hulle die krisissentrum moes kontak. Daarop het ek my foon neergegooi en om die trok gehardloop. Ek het die werkers aangesê om hul oorpakbaadjies uit te trek sodat ek daarmee die vlamme op Kevin se lyf kon blus.
Hy het op die grond gelê. Van die werkers het die vlamme met hul klere geblus en ek het langs hom gekniel vir mond-tot-mond-asemhaling. Gelukkig het die krag in daardie stadium afgeskop.
Ek het onthou hoe Kevin, nie lank voor dié gebeure nie, gesê het dat sy saak met God nie reg is nie. En toe sy klere begin brand, het ek net om genade gesmeek. Terselfdertyd het ek vir die Here gesê Hy weet ek is ál wat my kinders het. Dat Hy my asseblief moet bewaar.
Kevin se hare was teen sy kop vasgesmelt en die voorste helfte van sy regtervoet weggebrand. Toe ek my hand onder sy nek plaas en sy kop agtertoe laat sak om die lugweg oop te maak, het ek die speeksel en bloed in sy mond gesien. Mond-tot-mond-asemhaling sou nie moontlik wees nie.
Opeens was daar ’n snorkgeluid, en hy het begin asemhaal. Ek het geskree: “Kevin, hou vas! Hulp is op pad!”
Wat ek nie geweet het nie, is dat die hoogspanningsdrade self terugstel nadat dit uitgeskop het – en die volgende oomblik het 88 000 volts deur my liggaam begin skok.
LEES DEEL 2 VAN ADRI SE GETUIENIS: Vrou oorleef 88 000 volts: ‘Dit was God se keuse om my te red’
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.