Dis ’n onderwerp wat baie skuldgevoelens meebring, daardie groot erkenning: My libido is laag. Wat het geword van die dae toe die liggaam se chemie die seks spontaan laat ontvlam het? Waarheen het dit verdwyn?
Libido-kwessies: Spontane begeertes
Aan die begin van die verhouding is daar die wonder van halsoorkop verlief wees, en die spesiale, spontane chemie van die eerste paar maande wat julle gekondisioneer het om seks met genot te vereenselwig.
Die reaksie om toenadering was spontaan en het met oorgawe plaasgevind. Sowel die man as die vrou het seks geïnisieer, alles was speels en alles was lekker. Hulle het ontdek waar en hoe om die geliefde te stimuleer en te bevredig.
Pure pret en plesier!
Dit het die norm geword waaraan hulle hul verhouding voortaan sou meet. Wetenskaplikes beskryf dié gebeure as ’n spontane begeerte na die geliefde.
Libido-kwessies: Reaktiewe begeertes
Navorsing wys egter uit dat dié spontaneïteit ná 18 maande begin kwyn.
Nou begin dinge verander: Die gesin brei uit, die verantwoordelikhede neem toe, die beroepsleer word geklim. Die vrou se brein kry koers na beplanning en beheer, en gevolglik is plesier nie noodwendig hoog op haar prioriteitslys nie.
Wanneer haar maat toenadering soek, onthou die liggaam dat seks lekker is – maar daar is nou soveel ánder dinge wat gedoen moet word. Sy beoefen ’n beroep, sy versorg babas en troeteldiere, die skoonmense kom kuier en slaap in die kamer langsaan.
Hoe moet sy nou op plesier fokus? Haar besige brein gee haar geen rus nie, en gou ontwikkel sy ’n hoofpyn …
’n Oomblik lank onthou sy hoe lekker die emosionele verbintenis ná seks is. En, ja, sy onthou hoe energiek sy ná ’n orgasme voel.
Dié positiewe herinneringe laat haar dikwels toegee aan haar maat se “ontydige” versoek om seks. Op daardie neutrale oomblik waartydens sy geen liggaamlike prikkeling of stimulasie ervaar soos in die eerste tye in hul verhouding nie, besluit sy om haar aan haar maat se passie oor te gee.
En, sowaar, haar liggaam speel saam! Sy voel tydens die liefkosing hoe haar lyf reageer, ten spyte van haar brein se aanvanklike onwilligheid. Al die redes wat uitgedink word om nie intiem te verkeer nie, vervaag.
Die wetenskap verwys hierna as ’n reaktiewe begeerte. Die spontaneïteit het nou plek gemaak vir ’n reaksie op ’n herinnering.
Vroue het nie noodwendig die gevoel van verliefdheid nodig om op toenadering te reageer nie. Vroue met ’n goeie responsiewe seksuele geheue sukkel selde werklik met hul libido.
Met elke uitnodiging tot seks staan hulle eintlik op ’n neutrale plek. Hul brein is besig met baie ander dinge. In daardie oomblik het sy dan ’n keuse: Stem sy in of onttrek sy?
Wanneer vroue praat oor wat hulle beleef en voel, en wanneer hulle hulleself herken as mense met ’n reaktiewe begeerte na die geliefde in plaas van die spontaneïteit van destyds, word hulle gehelp om van die skuldlas ontslae te raak.
Libido-kwessies: Paartjies sukkel soms met seks
Die lewe is nie ’n sprokie nie, en nie alles verloop altyd seepglad nie. ’n Paartjie sukkel soms ook met seks as gevolg van dinge wat tydens hul kinderdae skeefgeloop het. Seksuele molestering is ’n ellendige werklikheid, en dit kan ’n groot impak hê op die sukses al dan nie van hul sekslewe.
Dis voorts belangrik om te weet dat seks tydens die wittebrood-fase nie noodwendig lekker is nie. Jy én jou maat moet seks beskou as ’n lewenskuns en vaardighede wat julle moet aanleer – alleen en gesamentlik.
Indien die liefdeschemie aanvanklik nie werk nie, moet ’n paartjie hulp soek. Seksuele plesier is ’n lewensreis en nie ’n bestemming nie.
Indien jy dikwels ervaar dat jy nie genoeg daarin belangstel om jou aan jou geliefde se seksuele toenadering oor te gee nie, wil ek jou aanmoedig om hulp te soek. Om die eenvoudige rede dat jy as vrou, of julle as paartjie, die vurigheid kan herontdek. Of van nuuts af kan aanleer.
Oorspronklike artikel geskryf deur dr Marlena du Toit.
Lees gerus ook Marlena du Toit se insigte oor ontwykende orgasmes.