Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Weduwee ná 46 jaar se getroude lewe: ‘Die Here gee my die moed en die krag op my alleenpad’

Cornelia Horn van Louis Trichardt in Limpopo vertel hoe die Here haar dra in die hartseerdae ná haar omgeeman se dood. Te midde van al die aanpassings is sy hiérvan oortuig: “Die Here is altyd daar, al vra ons soms ‘Here, hoekom het dit gebeur?’”

Toe my man Willie Horn einde Februarie 2019 aftree, was dit ’n heuglike dag. Hy het jare lank daarna uitgesien. Willie was ’n ambagsman wat gekwalifiseer was om meganiese- en paneelklopwerk te doen.

LEES OOK: Weduwee en boervrou vertel: ‘Ek is God se trofee van genade’

Hy het my geleer om lief te hê

Sy mooiste eienskap was dat hy sy gesin gelukkig gehou het, dat hy ons gerespekteer en liefgehad het. Hy het altyd vir my en ons twee dogters reggestaan.

In ons jare saam het hy my altyd eerste gestel. Hy het my geleer om lief te hê, want hy het in ’n liefdevolle huis grootgeword. Om ’n paar keer op ’n dag te sê “ek is lief vir jou” en dit te bedoel – dít was Willie.

Willie was baie lief vir tuinmaak en kamp, en ons het graag Krugerwildtuin toe gegaan. Hy was 15 jaar lank jeugleier in ons gemeente. Om jong mense na die Here te lei en om die Here te dien was sy lewe. Sy geliefkoosde sêding was: “Leef só dat wanneer jou tyd kom, jy reg sal wees om die Here te ontmoet.”

‘Julle twee doen altyd alles saam’

’n Jaar ná Willie se aftrede het hy Parkinson se siekte opgedoen, en toe het daar klein beroerte-aanvalle gevolg.

Die opeenvolgende beroertes en toenemende demensie het Willie laat swaarkry. Ek het hom gesien agteruitgaan, maar ek wou dit nie weet nie. Ons jongste dogter Bella het dikwels gesê: “Mamma, jy en Pappa sal eendag saam doodgaan, want julle twee doen altyd alles saam.”

Ná vele klein beroertes het hy oplaas ’n breinstamberoerte gehad. Hy was drie dae lank in ’n koma voordat hy op 19 November 2022 oorlede is. Ek het die voorreg gehad om daardie drie dae langs sy bed te sit. Ons dogters en skoonseuns kon hom kom groet.

Ek weet hy het alles gehoor wat ons gesê het. Ek kon vir hom dankie sê vir ons lewe saam. Vir die wonderlike vriend, pa en man wat hy was. En vir die maat wat hy vir my was.

Ek het van die eerste dag af langs Willie se bed dagboek gehou. Ek het dit vir myself gedoen, en daarin het ek hom vertel hoe dankbaar ek is dat hy altyd daar was, dat hy my liefgehad het tot op sy laaste dag.

Ek hou vandag nog die dagboek by, en dit help my besonder baie.

Ons was 46 jaar en 10 maande lank getroud; ons het mekaar altesaam 50 jaar geken.

Ek het gesê: “Here, U laat dit toe, want U het sy lyding gesien en geweet hy is u kind. Maar Here, nou vra ek: Gee my asseblief die krag om my alleenpad te loop.”

En die Here hét my krag gegee. My dogters sê gereeld hoe trots hulle op my is.

“Willie was baie lief vir tuinmaak en kamp, en ons het graag Krugerwildtuin toe gegaan,” vertel Cornelia. Foto verskaf

Ek pak nuwe dinge aan

Daar kom nog baie dae wat ek vol trane is, maar dis my manier om te rou. En gelukkig weet ek die Here tel my op. Wanneer ek op hierdie moeilike pad terugkyk, sien ek net een ry spore. En ek besef dis die bewys dat die Here my dra. Sonder Hom sou ek dit nie kon regkry nie.

My dogters Nita en Belia en hul onderskeie eggenote staan my elke dag by. Asook ons vriende, kollegas en familie. 

Willie het betyds seker gemaak dat ek ’n ordentlike kar sou hê. En ’n huis, wat my die ontwrigting van ’n trek gespaar het. Sommige vriende help steeds, al is daar ook dié wat intussen “weggeraak” het. Laasgenoemdes het vele verskonings, maar gelukkig is ek oukei daarmee.

Ek gaan kerk toe en ek kampeer nog in die Krugerwildtuin, soos ek en Willie dit graag saam gedoen het.

Ek het wel begin om dinge aan te pak wat ek nooit voorheen gedink het ek sou regkry nie. Deesdae ry ek selfs die 500 km tot in Nigel om by familie en vriende te gaan kuier.

In Desembermaand sal ek vir die eerste keer die karavaan na Punda Maria in die Krugerwildtuin sleep. Dis hartseer, ja, maar ek is ook dankbaar. Dis die Here wat my deur elke dag dra en my krag gee.

Rou en dank

Intussen het ek al die bemoedigende briefies gerangskik wat ek in die swaar dae ontvang het, en kort-kort lees ek daaruit. Ek het ook klarigheid gekry oor waarom ’n mens rou. Ek het onder meer vasgestel:

* Ja, ’n mens rou oor die maat wat vir altyd weg is. Oor al die mooi herinneringe wat julle versamel het. En oor die gewone daaglikse dinge, die gesprekke wat julle gevoer het. En omdat jy nou weet jy moes dit nie as vanselfsprekend aanvaar het nie.

* Jy rou oor die fisieke nabyheid, daardie band, wat nou finaal verbreek is.

* Jy rou oor die leë sitplek in die kar, oor die pad wat lank en swaar voor jou uitstrek. Oor die leë stoel aan die etenstafel en in die sitkamer.

* Jy rou oor die foto’s wat nou geneem word, waarin daar een mens ontbreek.

* Jy rou omdat jy weet dat niks ooit weer dieselfde sal wees nie.

Maar jy dank die Here dat Hy jou elke dag die krag gee om op te staan en voort te gaan. En jy dank Hom dat Hy by jou bly.

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF