Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

Vyf vroue vertel van hul grootste seer: ‘Genesing begin wanneer jy oor jou pyn praat’

Kom ontmoet vyf dapper vroue wat die verhaal van hul grootste pyn of verlies met ons lesers deel. Elkeen getuig oor hoe God se genade vir elke dag genoeg is, en wat die kosbare lesse is wat hulle uiteindelik geleer het.

Melinda

Nadat die Binnelanders-aktrise Melinda Viljoen as jong dramastudent met depressie en bipolêre versteuring gediagnoseer is, het sy geglo haar lewe en drome is verby. Boonop het sy net voor haar diagnose ’n oordosis pille gesluk.

Melinda vertel: “Ek het gevoel al my hoop en al my drome is verpletter. Ek het gedink: Nou hang daar hierdie verskriklike etiket om my nek. Ek sal nooit normaal wees nie.”

Soos baie jong meisies het sy desperaat na aanvaarding gesoek. “Ek het aandag, liefde en aanvaarding op al die verkeerde plekke gaan soek. Ek wou ten alle koste inpas. Ek wou hê mense moet van my hou.”

Sy het begin glo dat haar waarde afhang van hoe sy lyk, en of ander haar aanvaar en of sy gewild genoeg is.

Jare se medikasie, onsekerheid en emosionele worsteling het gevolg. Melinda sê die grootste verandering in haar lewe was nie toe haar omstandighede verander het nie, maar toe haar beeld van God verander het.

Toe sy ’n jong meisie was, het sy altyd gevoel dat God ver is. “Ek het Hom beskou as hierdie groot, heilige God daar bo in die hemel. Ek het nie gedink Hy stel in my belang nie, in my vrese, my behoeftes, my onsekerheid.”

Toe sy later alleen gewoon het, het iets begin verander. “Dit was asof God my begin nader roep het. Ek het meer en meer aan Hom begin dink, en ek het elke oggend aanbiddingsmusiek geluister. Soms kon ek nie saam sing nie, maar ek het daar gesit en die woorde oor my laat spoel.”

Daar was geen kitsgenesing nie, en daar was terugslae, maar vandag vertel sy sy het ’n vol lewe vol goeie dinge. Sy getuig graag oor God se goedheid: “Ek het gedink ek verloor my droom om ’n aktrise te wees. Maar ek besef nou dat God nie my droom weggeneem het nie; Hy het eers my identiteit herstel. Nou kan ek my werk doen sonder dat dit bepaal wie ek is.”

Haar grootste les?

“Jou identiteit lê nie in ’n diagnose, jou verlede of in jou mislukkings nie. Dit lê in Christus.”

LEES haar verhaal hier: ‘My identiteit lê nie meer in ’n diagnose nie’ – Binnelanders-aktrise maak haar hart oop oor haar pad met depressie

Lizl-Louise

Toe Lizl-Louise Schoeman hoor haar dogtertjie het downsindroom, moes sy afskeid neem van die drome en verwagtinge wat sy vir haar kind gehad het. Stadig maar seker het God haar egter geleer dat ’n kind se waarde nooit bepaal word deur vermoëns, prestasies of hoe “perfek” die wêreld hulle beskou nie. Haar dogter het haar oë oopgemaak vir ’n dieper verstaan van liefde en aanvaarding.

Vandag vertel Lizl-Louise dat haar dogter haar nie net ’n beter ma gemaak het nie, maar ook haar geloof verdiep het. Sy het geleer om deur God se oë na ander te kyk, en hulle nie aan die wêreld se maatstawwe te meet nie. Wat aanvanklik soos ’n groot teleurstelling gevoel het, het uiteindelik een van die grootste geskenke in haar lewe geword.

Iemand het in daardie tyd gesê sy moet nuwe drome vir haar kind vind. “Dit het my gehelp verstaan jy hou nie op droom nie; jy kyk net deur ’n nuwe bril na wat sy kán regkry.

“Dié ingesteldheid het ’n lewenswyse geword: om só na mense te kyk …

“Ek sê altyd die werklike helde is nie dié wat die voorblaaie haal nie; dit is hulle wat elke dag, al is dit teen alle verwagting in en ten spyte van wat hulle gekry het, hierdie lewe met oorgawe leef.”

Haar grootste les?

“Elke mens dra God se beeld en het oneindige waarde, lánk voordat hulle enigiets kan bewys of bereik.”

LEES haar verhaal hier: ‘Ek moes lief raak vir die kind wat ek gekry het’ – Predikantma vertel van haar Downsindroom-kind

Denétjie

Op sosiale media ken duisende mense Dené Lindeque-Fouché as die spontane en humoristiese Denétjie. Min weet egter dat sy met angs, slapeloosheid en depressie geworstel het. Deur haar eerlike getuienis wil sy ander daaraan herinner dat selfs die mense wat die breedste glimlag soms ’n swaar las dra.

Met professionele hulp, geloof en eerlikheid oor haar emosionele stryd het sy begin herstel. Vandag glo sy dit verg moed om jou masker af te haal en te erken dat jy nie meer alleen kan voortgaan nie. Sy hoop haar storie gee ander die vrymoedigheid om ook hulp te vra.

Sy sê: “Geestesongesteldheid is nie my identiteit nie; dis wel deel van die reis waarop die Here my wil gebruik. Vir almal wat hierdeur gaan, het ek een boodskap: Moenie opgee nie! Jesus het swaargekry in sy tyd hier op aarde, maar Hy het dit ter wille van sy mense verduur. Dit is ook ons plig, ons wat met ons emosionele welstand gesukkel het, om ander te ondersteun.”

Haar grootste les?

“Waak teen die invloed van sosiale media. Almal is nie so perfek soos wat hulle lyk of voorgee nie.”

LEES haar verhaal hier: Smaakmaker Denétjie oor haar stryd met angs en depressie: ‘Almal is nie so perfek soos wat dit lyk of klink nie’

Rosie

Rosie Kotze (43) van Kempton Park het jare lank alles in haar vermoë gedoen om haar alkoholis-man te probeer help. Sy vertel: “Ek is deur ontkenning verblind en was vasgevang in ’n lewe vol frustrasie. Net soos Jacques nie sy drinkery kon beheer nie, kon ek Jacques nie beheer nie. Nog minder kon ons die uitwerking beheer wat alkoholisme op ons kinders gehad het.”

Sy het uiteindelik ’n beskermingsbevel teen haar man gekry, en só het sy en haar drie kinders die lang pad na genesing aangedurf.

Vandag gebruik Rosie haar eie ervaring om ander gesinne hoop te gee. Sy praat openlik oor die pyn van alkoholisme, maar ook oor God se trou en die vryheid wat kom wanneer mense ophou om hul swaarkry weg te steek. Sy wil met alles wat sy het die stilte oor alkoholverslawing verbreek.

Haar grootste les?

“Hoop begin dikwels wanneer ons ophou voorgee alles is reg, en ons storie met ander deel.”

LEES haar verhaal hier: ‘Ons wil getuig sonder wegsteek, wegkruip of skande’ – gesin ná donker pad met alkoholisme

Ninon

Toe haar dogter Marizanne in ’n ernstige motorongeluk sterf, is Ninon Strydom se lewe tot stilstand geruk.

Die eenvoudige raad van ’n tannie, wat ook ’n kind aan die dood afgestaan het, het Ninon se lewensanker geword: “Vat dit dag vir dag.”

“Ná vier jaar se rou, volg ek steeds daardie tannie se raad. Dag vir dag,” sê Ninon. En hoewel die pad lank en uitdagend is, het sy telkens God se nabyheid in die klein oomblikke beleef. Sy het ontdek dat Hy nie noodwendig al die antwoorde gee nie, maar wel genoeg genade vir elke nuwe dag voorsien.

“Die hemel is vir ons gesin ’n groter werklikheid as ooit,” sê Ninon, “en ons drie sien met verwagting daarna uit om dan weer ’n gesin van vier te wees.”

Haar grootste les?

“God vra nie dat ons môre se las vandag moet dra nie; Hy gee genoeg genade vir vandag.”

LEES haar verhaal hier:  ‘Tot ons jou weer sien, Poppie’ – ma vertel hoe haar gesin met verwagting uitsien na die weersiens

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Geborg
Geborg
Geborg

Getuig saam met LiG

Geloof, hoop, getuienis – Ondersteun LiG vandag en word deel van die getuienis…

Vertel my meer

Skep getuienisse saam

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF
Kyk nou ►