Kenners is dit met mekaar eens dat angs- en depressiesimptome by kinders wêreldwyd geweldig toeneem. Dis geestesgesondheidbewustheidsmaand en LiG het met ’n spelterapeut en ’n aktrise gesels wat albei op ’n daadwerklike manier help om kinders se psigiese welstand te verbeter.
Verlies, prestasiedruk en die uitwerking van sosiale media. Voeg daarby die Covid-19-pandemie wat wêreldwyd angs- en depressiesimptome by kinders jonger as 18 jaar byna verdriedubbel het.
Depressie en angs: Bekende gryp in
Beskik hulle oor die vaardighede om dit alles te hanteer? En, indien nie, hoe gaan hulle dit aanleer? Twee mense het besluit om hulle, en hul ouers en onderwysers en terapeute, daadwerklik daarmee te help.
Die bekende aktrise en deesdae ook kinderboekskrywer Milan Murray van Melkbosstrand het sowat drie jaar gelede agtergekom dat haar twee kinders, albei toe in die laerskool, emosionele ondersteuning nodig het. Veral haar dogter, wat met disleksie gediagnoseer is. Ses maande se navorsing later, en Milan bring The My Story Tribe-platform tot stand, met die uitgesproke doelstelling om laerskoolleerders te help om emosioneel veerkragtig te wees.
Die predikant en spelterapeut Siegfried Louw het, op sy beurt, ná ’n oproep van ’n kollega tydens die pandemie besluit om ’n boek te skryf vir kinders wat die verlies aan ’n geliefde ervaar. Siegfried se kollega was op soek na ’n hulpmiddel wat kinders in haar gemeente met rousmart kon help.
Intussen het Siegfried ook ander boeke geskryf waarin moeilike kwessies vir kinders onder die loep kom.
Lees ook hierdie getuienis, ‘Al mis ek my pa, weet ek daar is steeds hoop, en ’n mooi toekoms wat wag,’ sê 13-jarige.
Hoe om smart, depressie en angs by kinders te hanteer
Siegfried se Ligland-reeks het reeds talle ouers en ander volwassenes die geleentheid gebied om moeilike kwessies by kinders op ’n minder ernstige manier te hanteer. Hy vertel: “Die eerste boek in die reeks, Die klip in Lisa se borskas, nooi kinders in hul eie ervarings in wanneer hulle rousmart ervaar. Jy kan die boek gebruik sodat kinders hul emosies rakende verlies kan verstaan, erken en bevestig.”
Hy vertel van ’n jong karategroep in Kaapstad waarvan die 38-jarige afrigter (oftewel, sensei) sowat twee jaar gelede aan Covid-19 oorlede is. Jeanetta Kingsley, ook ’n sensei by dié klub, het destyds Die klip in Lisa se borskas gekoop sodat die boek vir die kinders voorgelees kon word.
Jeanetta vertel dat, hoewel sensei George met kinders tussen vyf en agtien jaar gewerk het, sy agtergekom het dat veral die kinders tussen vyf en twaalf jaar gesukkel het om hul emosies oor sy dood te verwerk.
“Die aand nadat die boek aan die kinders by die dojo voorgelees is, het van die ouers laat weet dat daar ’n deurbraak te bespeur was. Dat die kinders in eenvoudige taal kon verduidelik wat en hoe hulle voel. Die een seun, vir wie sensei George ’n held was, kon uiteindelik uiting gee aan sy emosies en huil oor die verlies. Dit was vir sy ouers ’n openbaring, aangesien hulle nooit besef het hoe swaar hul seun gekry en hoe intens hy die verlies ervaar het nie.”
Tegnieke om angstigheid by kinders aan te spreek
Ander boeke in die Ligland-reeks – Ben en die drakie en Sofia en die grot – raak onderwerpe aan soos angstigheid, boeliegedrag en eensaamheid.
Elmari Hoffman, ’n maatskaplike werker in ’n private praktyk, sê dat angstigheid by kinders die afgelope ruk báie toegeneem het. Sy vertel hoe Ben en die drakie slim tegnieke bied, onder meer asemhalingsoefeninge en die fokus op sensoriese prikkels, om kinders te help om self hul angs te bestuur. Volgens haar is die wonder daarvan dat die uitwerking onmiddellik is.
Elmari vertel ook hoe sy ’n graad 6-leerder deur middel van die drakie-karakter gehelp het om op ’n konkrete wyse haar angstigheid te bestuur.
“Sy het toestemming gekry om haar pers drakie elke dag skool toe te neem, en hy sit saam met haar op haar skoolbank wanneer sy eksamen skryf. Haar klasmaats aanvaar dit dat die drakie oral saam met haar gaan nadat haar juffrou dié saak mooi hanteer het. Die kind het geleer om nie haar drakie weg te jaag nie, maar om hom mak te maak. Wanneer sy angstig voel, kyk sy na die drakie en gee die drakie toestemming om daar te wees.
“Dis presies wat ons moet doen,” sê Elmari. “Ons moet ons angs toestemming gee om daar te wees; ons moet hom net ‘mak maak’ sodat hy nie so wild en woelig sal wees nie.”
https://eshop.bybelmedia.org.za/product/ben-en-die-drakie/
Wat jonger kinders betref, het Elmari ander tegnieke met Siegfried se tegnieke gekombineer. Sy gee byvoorbeeld ’n gelamineerde ster aan dié kinders wat hulle dan elke dag met hulle saamdra. Wanneer hulle angstig voel, gebruik hulle die punte van die ster om vyf keer diep asem te haal.
Volgens Elmari help ’n tasbare speelding, soos die drakie of die ster, die kinders om hul angstigheid konkreet te maak, ’n werklikheid, wat dan die verwerking van die angs vergemaklik.
Help jou laerskoolkind met depressie en angs
Milan Murray is van mening dat, terwyl die belangrikheid van die vroeë ontwikkelingsfase (tussen 0 en 5 jaar) deur kenners en produkontwikkelaars beklemtoon word, dit vir haar duidelik geword het dat ouers, asook die groter gemeenskap, die ouderdomsgroep ses tot dertien jaar effens afskeep.
Sy sê: “Ons laai ons laerskoolkinders by die skool af en neem aan dat hulle net soveel emosioneel gaan leer as akademies. Ons skrik eers wakker wanneer ons tieners na dwelms gryp, of selfdoodneigings openbaar – en dan is die skade reeds gedoen.”
Tydens Milan se ses maande lange navorsingstyd het sy by talle sielkundiges, arbeidsterapeute en spelterapeute aangeklop om te hoor wat die emosionele behoeftes vir hierdie ouderdomsgroep is, en hoe ouers hul kind se geestesgesondheid kan bevorder. Sy sê: “My grootste behoefte is dat ouers na hul telge sal kyk – en gelukkige, gebalanseerde kinders sal sien.
“Ons lê nagte lank wakker en wonder hoe om ons kinders toe te rus om uitdagings te hanteer. My hoop is dat ouers die rustige wete sal hê dat hul kind ál die vaardighede het om die lewe se uitdagings op ’n gesonde manier te kan hanteer.”
Intussen het The My Story Tribe reeds talle produkte ontwikkel om kinders met hul emosionele ontwikkeling te help. Daar is byvoorbeeld reeds drie My Storie-joernale in die reeks. En hoewel ouers die joernale vir hul kinders koop om dit tuis te gebruik, is daar ook talle terapeute wat hierdie boeke aanbeveel om kinders se emosionele groei en selfs ’n terapieproses te ondersteun.
Stuur jou kind op ’n selfontdekkingsreis
Chantel Griesel, ’n arbeidsterapeut in Kaapstad, is deel van die ontwikkelingspan wat bogenoemde joernale se inhoud navors en saamstel. Sy het talle uitdagende elemente geïdentifiseer wat dikwels die pad na kinders se emosionele veerkragtigheid en geestesgesondheid versper.
Die joernale se vertrekpunt is dus om ’n geestesgesondheidplatform vir kinders te skep waarmee hulle op ’n selfontdekkingsreis kan vertrek. Sodoende kan hulle hul plek in die samelewing identifiseer, asook dit wat hulle uniek maak.
Chantel sê dat die ses tot dertienjariges ’n baie sensitiewe tyd in hul emosionele groeiontwikkeling beleef, veral weens die druk wat deesdae op kinders geplaas word om te presteer, die invloed van sosiale media, asook die algemene boelie-probleem. “Die idee is dus om hulle te help om met hulleself te assosieer: om te onderskei tussen wat my ouers wil hê, wat my onderwysers wil hê, wat my maats wil hê, en wat ek wil hê.
“Ons ‘verloor’ soms ons kinders in daardie ruimte. Die kinderjoernaal bied hulle die geleentheid om ’n sterk gevoel te kweek van wie hulle is. En om wie hulle is, te omhels. Om hulle toe te rus om beter besluite te kan neem.”
Die span by The My Story Tribe het tydens die heropening van die skole ná die inperking opnuut besef watter enorme behoefte kinders het om te praat. Chantel sê: “Kinders word van jongs af geleer om nie te voel nie. Die ‘regte’ maskers wat ons opsit, is om nie emosie te wys of dit te verwoord nie. Maar wanneer ek ’n bepaalde emosie kan identifiseer, en ’n stem daarby kan voeg, verkry ek beheer daaroor.”
Geskryf deur Conette le Roux.